Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom sny prys van data met tot 40%
Vodacom is Suid-Afrika se grootste selfoondiensverskaffer. Foto: Getty Images

Vodacom sny van 1 April af die prys van verskeie van sy databondels met tot 40%, het hy Dinsdag aangekondig.

Dié prysverlaging volg op die Mededingingskommissie se beslissing in Desember dat plaaslike selfoondiensverskaffers die “buitensporige hoë prys van data” moet verlaag.

Die prys van 1 gigagreep data wat geldig is vir 30 dae word op 1 April 34% goedkoper. Dit sal dan R99 wees teenoor die huidige R149.

Vodacom en die kommissie het Dinsdag besonderhede bekend gemaak van ’n ooreenkoms tussen die partye waarvolgens die diensverskaffer hom daartoe verbind om “kommunikasie meer bekostigbaar te maak”.

Nadere besonderhede oor spesifieke besparings vir intekenare is “weens die sensitiewe aard daarvan” nie bekend gemaak nie.

MTN moet nog ’n soortgelyke ooreenkoms met die kommissie bereik en sy eie prysverlagings aankondig.

Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, het op Dinsdag se voorlegging in Pretoria gesê die maatskappy het besluit om eerder met die Mededingingskommissie saam te werk as om teen die voorgestelde veranderinge te stry.

Afgesien van ’n verlaging in die prys van data, gaan Vodacom ook ’n verskeidenheid dienste op sy netwerk van April af gratis maak (met ander woorde die dienste gaan geen data gebruik nie).

Dit sluit in gratis toegang tot:

  • Portale waar werksoekers CV’s kan laai en na beskikbare poste soek;
  • Platforms vir e-leer in ooreenstemming met die curriculum vir skoliere in grade R tot 12;
  • Gesondheidsplatforms waarop swanger vroue en nuwe ma’s inligting kan kry oor swangerskap en babasorg;
  • Sosiale platforms, insluitend Facebook Flex (’n weergawe van Facebook wat bitter min data benodig);
  • Soekenjins, insluitend Wikipedia; en
  • Webwerwe waarop regeringsdienste aangebied word.

Afgesien daarvan sal alle skole, universiteite en kolleges ook kan aansoek doen om hul e-leerplatforms gratis op Vodacom se netwerk te maak.

Vodacom-kliënte wat in die voorafgaande 30 dae ’n transaksie op die netwerk uitgevoer het, sal ook daagliks twee gratis SMS’e ontvang.

In totaal bied Vodacom kliënte besparings van R2,7 miljard per jaar, sê Joosub.

Bykomende afslag gaan gegee word aan inwoners van 2 000 arm woonbuurte, sê Vodacom. Besonderhede oor watter woonbuurte is nie gegee nie.

Die diensverskaffer sal kliënte ook van 1 April toelaat om deur middel van sy app te sien presies hoeveel lugtyd hulle aan data bestee het in die voorafgaande maand.

Dié soort deursigtigheid van diensverskaffers was nog een van die Mededingingskommissie se vereistes.

Vodacom se ConnectU-app sal ook voortaan alle spesiale aanbiedinge op datapakkette op een, sentrale plek lys sodat kliënte maklik kan sien hoe en waar hulle kan bespaar.

Die spesiale aanbiedinge sal ook spesifiek sê hoeveel kliënte in randwaarde per megagreep kan bespaar as hulle daarvan gebruik maak.

Die ooreenkoms, wat Vodacom Dinsdag met die kommissie onderteken het, is nog onderhewig aan goedkeuring deur die Mededingingstribunaal.

MTN het by navraag laat weet hy is nog besig om met die kommissie oor die kwessie te onderhandel, maar word “bemoedig deur die vordering wat reeds op die gebied gemaak is”.

MTN sê hy beplan om binnekort sy eie aankondiging oor sy “prystransformasie” en ander besparingsinisiatiewe te doen.

Die spertyd om ’n ooreenkoms met die kommissie te bereik, het tegnies reeds verstryk.

Meer oor:  Vodacom  |  Diensverskaffers  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.