Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom spog (wéér) met 5G

Dieselfde naweek as wat pres. Cyril Ramaphosa as ’n driedimensionele hologram ’n praatjie 130 km vanaf sy fisieke self gelewer het, het partytjiegangers op die Durban July dieselfde tipe tegnologie op die proef gestel.

Dit was die eerste keer dat Ramaphosa dié tegnologie gebruik het om ’n toespraak gelyktydig op twee plekke te lewer.

Maar anders as Ramaphosa het dié partytjiegangers nie aan ’n praatjie oor die digitale ekonomie deelgeneem nie, maar eerder popliedjies gesing.

Vodacom, in samewerking met LG en Nokia, het Saterdag wéér die vermoëns van ’n 5G-selfoonverbinding ten toon gestel.

Die selfoonreus het soortgelyke toetse tydens verlede jaar se Durban July uitgevoer.

Sogenaamde vyfdegenerasie- (5G) tegnologie bied ’n internetspoed wat 100 keer vinniger is as bestaande 4G-tegnologie.

Tydens Saterdag se byeenkoms het Vodacom ’n stalletjie met ’n spesiale kamera toegerus. Daar kon kranige sangers na hartelus hul gunstelingliedjies uitbasuin.

Dié sangers het toe regstreeks as ’n hologram op die sportterrein op die Durban July verskyn.

Die inligting is blitsvinnig oor ’n spesiale 5G-netwerk gestuur wat spesiaal vir die geleentheid opgestel is.

“Die demonstrasie wys maar net ’n klein deel van wat moontlik sal wees danksy 5G,” sê Andries Delport, Vodacom se tegnologiehoof.

Volgens Delport is Vodacom se netwerk reeds “gereed” vir 5G, maar wag die diensverskaffer steeds op broodnodige spektrum wat die staat reeds 14 jaar lank sloer om toe te ken.

LEES OOK: Spektrum: Ons wag al 14 lang jare, Cyril!

Ramaphosa het verlede maand tydens sy staatsrede opnuut belowe die toekenning sal eersdaags geskied.

Hy het erken die toekenning van spektrum is “noodsaaklik” om die prys van data te verlaag en dat dit “groot potensiaal vir die bevordering van ekonomiese groei” inhou.

Vodacom het meer as 43 miljoen kliënte in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Volgens Ramaphosa gaan ’n beleidsrigtingwyser oor die lisensiëring van spektrum “binne ’n maand” aan die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) oorhandig word.

Dié spertyd verstryk die einde van vandeesmaand. Tot dusver is geen só ’n oorhandiging aan die kommunikasieowerheid gedoen nie.

Intussen sê Delport die moontlikheid van 5G- en hologram-tegnologie is bykans eindeloos, veral op gebiede soos mediese sorg, konferensies (soos die een waaraan Ramaphosa die naweek deelgeneem het) en videospeletjies.

’n Driedimensionele hologram benodig bykans vier keer soveel datakapasiteit as ’n gewone ultrahoëdefinisievideo.

Dit beteken dat net 5G dié data vinnig genoeg oor ’n selfoonnetwerk sal kan versend.

’n Gebrek aan bykomende spektrum beteken diensverskaffers kan nie reeds 5G-tegnologie kommersialiseer nie. Tog is spektrum nie die enigste haakplek nie, siende dat selfoontorings ook nie toegerus is met die nodige apparatuur vir 5G nie.

So selfs al word nuwe spektrum in die komende weke of maande toegeken (iets wat onwaarskynlik is), sal 5G vir lank nog ongelooflik skaars en boonop ongelooflik duur bly alvorens diensverskaffers soos Vodacom en MTN hul netwerkinfrastruktuur daarvoor aanpas.

Meer oor:  Vodacom  |  Nokia  |  Lg  |  Internet  |  5G  |  Slimfone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.