Die VSA het nóg sanksies teen die Chinese tegnologiemaatskappy Huawei ingestel.
Amerikaanse maatskappye mag nou nie eens meer onregstreeks tegnologie aan Huawei verskaf nie.
Dit beteken Amerikaanse verskaffers van onderliggende tegnologie en toerusting wat dalk gebruik word in die vervaardiging van ’n Huawei-produk, moet alle bande met die maatskappy sny.
Dit kan dit moontlik vir Huawei moeilik maak om broodnodige toerusting soos rekenaarskyfies vir sy toestelle te bekom aangesien baie van dié toestelle bestaan uit Amerikaanse onderdele of gebruik maak van Amerikaanse tegnologie, hoewel dit nie in die VSA vervaardig word nie.
Amerikaanse owerhede onder leiding van pres. Donald Trump het reeds in Mei 2019 ’n verbod geplaas op maatskappye in die VSA om enige verdere handel met Huawei te dryf.
Trump beskuldig die maatskappy daarvan dat hy namens die Chinese regering op Amerikaanse burgers spioeneer, iets wat Huawei al herhaaldelik ontken het.

Amerika het nog sanksies teen Huawei geplaas. Die sanksies moet wel nog deurgevoer word. Foto: Reuters
Die aanvanklike verbod het Huawei se toegang tot Google se produkte en dienste afgesny en sy jongste slimfone moes noodgedwonge daarsonder uitgereik word.
Huawei se nuwe slimfone maak ook van die Android-bedryfstelsel gebruik wat ook aan Google behoort, maar bevat geen van Google se apps of dienste nie (en kan ook nie).
Daar heers vrese dat ouer Huawei-toestelle, wat voor Mei 2019 uitgereik is, weens die jongste, strenger verbod ook toegang gaan verloor tot die jongste bywerkings van Android en Google se apps.
Volgens ’n woordvoerder vir Huawei in Suid-Afrika sal die maatskappy “aanhou om bywerkings en veiligheidsopdaterings aan alle Huawei-toestelle te bied wat vooraf met Google Play-dienste verskeep is”.
Dit is egter nie duidelik vir hoe lank nie en of die jongste Amerikaanse verbod ’n stokkie daarvoor gaan steek.
Volgens Wilbur Ross, VSA se minister van handel, het Huawei en sy bondgenote ’n skuiwergat in die bestaande sanksies uitgebuit deur van derdepartye gebruik te maak.
Van die produkte wat Huawei dus steeds kon aanskaf, is deur ’n Amerikaanse onderneming gebou of ontwerp, maar elders verkoop.
Dus kon Huawei dit tegnies nog bekom, maar nou wil die Amerikaanse handelsdepartement ’n stokkie daarvoor steek.
Die impak van só ’n verbod kan wel wyer uitkring as net Huawei en ook Amerikaanse skyfievervaardigers soos Qualcomm en Intel negatief raak.
Ander Asiatiese tegnologiemaatskappye soos Samsung, Sony en Taiwan se MediaTek kan dalk ook voortaan sukkel om onderdele vir van hul produkte te bekom.
Nog geeneen van hierdie maatskappye het al openlik op Trump se jongste verbod gereageer nie.
Daar heers nog onduidelikheid oor presies wat die verbod gaan behels en van wanneer af dit sal geld.
Vir eers behoort dit dus geen impak te hê op Huawei se bedrywighede of sy verskaffing van slimfone en ander tegnologie aan Suid-Afrika nie.
Die maatskappy het pas twee nuwe skootrekenaars in Suid-Afrika bekend gestel.
LEES OOK: 2 billike skootrekenaars van Huawei nou in SA