
Die nuwe iPhone 12 is reeds meer as ’n maand gelede bekend gestel, maar nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Foto: Getty Images
Apple het reeds langer as ’n maand gelede sy nuwe iPhone 12 aangekondig, maar Suid-Afrikaners wag nog droëbek daarvoor.
Core, Apple se plaaslike verspreider en eienaar van al die iStore-winkels, het nog geen woord gerep oor wanneer die nuwe iPhone hier beskikbaar gaan wees nie.
“Dit is uiters ongewoon,” sê Brendon Petersen, ’n plaaslike tegnologiekenner en redakteur van die tegnologienuusblad Reframed.
Die tydperk tussen die bekendstelling van ’n nuwe iPhone en die uitreik daarvan in Suid-Afrika het oor die laaste paar jaar aansienlik verkort, sê hy.
Suid-Afrikaners kon in die verlede die nuwe iPhone binne ’n week of twee ná die Amerikaanse bekendstelling aanskaf.
Apple het vroeg in Oktober die opvolger van verlede jaar se iPhone 11 tydens ’n virtuele voorlegging aan die wêreld gewys.
Die iPhone 12 word in vier weergawes uitgereik: die standaardmodel, die iPhone 12 mini, die iPhone 12 Pro en die iPhone 12 Pro Max.
Dit is nog nie bekend watter van hierdie modelle na Suid-Afrika sal kom nie of wat dit gaan kos nie.
Woordvoerders van Core bly tjoepstil hieroor en sê hulle wag self op terugvoering van Apple.
LEES OOK: Apple se iPhone 12: Alles wat jy wil weet

Die nuwe iPhone 12 Pro Max. Foto: Getty Images
“Hoewel Core nog geen rede vir die vertraging gegee het nie, is dit waarskynlik omdat die pandemie ’n verlaging in produksie veroorsaak het,” reken Petersen.
Omdat Apple minder iPhones kan vervaardig as in vorige jare, is dit moontlik dat hy eerder sy beperkte voorraad in van sy groter markte soos die VSA en Europa wil beskikbaar stel in die aanloop tot die feestyd.
“Baie ander vervaardigers het soortgelyke tekorte weens die pandemie ervaar.”
’n Bydraende faktor tot die verwarring is die feit dat Apple se jongste skootrekenaars reeds beskikbaar is vir voorafbestelling in Suid-Afrika.
Dié toestelle is ná die iPhone aangekondig, maar word nou voor die fone in Suid-Afrika uitgereik.
Die plaaslike prys van die iPhone 11 is verlede jaar net ’n week na die Amerikaanse bekendstelling op 10 September aangekondig.
Die eerste toestelle is van die einde van dieselfde maand af in Suid-Afrikaanse winkels te koop aangebied.