Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wat gaan aan met Trump en TikTok?

Pres. Donald Trump van Amerika het TikTok in sy visier en dreig nou reeds dae lank om dié gewilde sosialemediaplatform in die VSA te verbied.

TikTok is ’n uiters gewilde platform waarop gebruikers kort video’s kan deel. Dit het veral ook groot byval by Amerikaanse tieners en jongmense as ’n alternatief vir Facebook en in ’n mindere mate Instagram gevind.

Ongelukkig vir TikTok behoort hy aan ByteDance, ’n Chinese tegnologiemaatskappy.

Dit is alombekend dat Trump geen ooghare vir China het nie en hy het reeds twee Chinese tegnologiemaatskappye, Huawei en ZTE, effektief uit die VSA verban.

Nou is ByteDance en TikTok in Trump en ander Amerikaanse wetgewers se visier.

Waaroor die bohaai?

TikTok het ’n gerekende 1 miljard gebruikers oor die wêreld heen en is al minstens 175 miljoen keer in die VSA op slimfone geïnstalleer.

Dit bekommer Trump en sy regering in Washington, DC, dat ByteDance via TikTok ’n “onvanpaste invloed” op veral Amerikaanse jongmense kan uitoefen.

Net soos in die geval van Huawei is daar (ongegronde) vrese dat ByteDance namens die Chinese regering op TikTok-gebruikers spioeneer.

Afgesien daarvan is die VSA en China ook in ’n hewige handelsoorlog gewikkel en talle ondernemings in albei lande word sydelings daarby betrek.

Kan Trump ’n app sommerso verbied?

As president het hy die mag om ’n verbod op die gebruik van TikTok in Amerika te plaas, maar die praktiese uitvoerbaarheid daarvan is onduidelik.

Pres. Donald Trump dreig om TikTok uit die VSA te verban. Foto: Getty Images

Trump het Vrydag aan joernaliste gesê hy kan die platform met ’n “uitvoerende bevel” verbied. Dit is egter onduidelik wat die omvang van só verbod sal behels.

Volgens The New York Times kan dit beteken dat TikTok in slimfone se app-winkels verbied sal word, wat beteken dat Amerikaners dit nie sommer maklik sal kan aflaai nie.

Die Amerika se departement van buitelandse sake kan ByteDance ook op ’n lys van verbode buitelandse ondernemings plaas, wat sal beteken dat Amerikaanse ondernemings nie sonder toestemming verder met hom (soos in die geval van Huawei) mag sake doen nie.

Of hierdie verbod enigsins Amerikaanse gebruikers wat TikTok reeds geïnstalleer het, kan keer, is nog onduidelik.

Waar staan sake nou?

   

Trump het Vrydag gedreig dat hy TikTok reeds die afgelope naweek kon verbied as hy wou. Dit het egter nie gebeur nie.

Microsoft het intussen as ’n moontlike reddingsboei vir TikTok in die bres getree. Na wat berig word, het dié tegnologiereus begin om samesprekings te voer met ByteDance om TikTok se Amerikaanse bedrywighede oor te koop.

Satya Nadella, uitvoerende hoof van Microsoft, het glo die naweek met Trump oor die moontlike verkryging vergader, berig die BBC.

Volgens Reuters het Trump Microsoft net 45 dae gegee om ’n ooreenkoms met ByteDance te beklink.

Hoewel hy glo aanvanklik teen enige ooreenkoms gekant was, het hy ná sy vergadering met Nadella sy deuntjie verander.

Microsoft hoop om TikTok se bedrywighede in die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland te koop, wat beteken hy sal die app besit en in daardie lande bedryf.

Microsoft het intussen in ’n verklaring bevestig dat hy tans met ByteDance onderhandel, en bygevoeg dat hy “volle begrip” vir Trump se besorgdheid oor die veiligheidskwessies met betrekking tot TikTok het.

Daarom gaan Microsoft die TikTok-app eers “deeglik ondersoek” voordat ’n ooreenkoms aangegaan sal word.

Microsoft hoop om TikTok se bedrywighede in die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland te koop, wat beteken hy sal die app besit en in daardie lande bedryf.

Dit is nie heeltemal duidelik hoe die app deur verskillende moedermaatskappy in verskillende lande bedryf sal word nie, aangesien ByteDance steeds die oorkoepelende eienaar van TikTok sal bly.

Eintlik reeds ‘Amerikaans’

   

ByteDance het in Mei ’n Amerikaner, Kevin Meyer, as die nuwe hoof van TikTok aangestel in die hoop om sy bande met China in die Amerikaners se oë te verminder.

Verskeie internasionale – en Amerikaanse – ondernemings is ook belanghebbendes in ByteDance, waaronder General Atlantic, SoftBank en KKR.

ByteDance het in Mei ook aangekondig dat hy beplan om eersdaags meer as 10 000 Amerikaners in diens te neem. Volgens ’n woordvoerder van die maatskappy het hy ook begin om Amerikaanse TikTok-gebruikers se data op bedieners in die VSA eerder as in China te stoor.

Microsoft het ook gesê as deel van sy ooreenkoms met ByteDance sal hy verseker dat die persoonlike data van alle Amerikaanse gebruikers van die bedieners in China verwyder is en na Amerikaanse bedieners oorgedra word.

Daar word nou gehoop dat die onderhandelings tussen ByteDance en Microsoft voor of op 15 September – die spertyd wat Trump vereis – afgehandel kan word.

Meer oor:  Tiktok  |  Bytedance  |  Microsoft  |  Donald Trump  |  Amerika  |  App  |  Tegnologie  |  Sosiale Media  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.