Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wat gaan Naspers met sy berg kontant doen?

Aandeelhouers in Naspers hoop die berg kontant waarmee sy filiaal sit nadat ’n gedeelte van sy belang in Tencent verkoop is, gaan aangewend word vir verkrygings of oornames.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus en Naspers. Foto: Getty Images

Naspers het vandeesweek aangekondig sy oorsese filiaal Prosus het van sy aandele in Tencent vir nagenoeg R211 miljard verkoop.

Aandeelhouers hoop ook die kontant word aangewend om nog aandele van Prosus en Naspers terug te koop.

Prosus hou nou ’n belang van 28,8% oor in Tencent, wat China se grootste teksboodskapdiens, WeChat, besit.

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers en Prosus, het toe die transaksie aangekondig is, gesê dit sal finansiële buigsaamheid skep vir samesmeltings en verkrygings, om die terugkoop van aandele voort te sit en ander maniere te ondersoek om waarde vir aandeelhouers te ontsluit.

Ontleders meen ’n groot verkryging kan van Prosus se bedrywighede – geklassifiseerde advertensies, kosaflewering, finansiële tegnologie, aanlyn betalings en aanlyn onderwys – ’n welkome hupstoot gee.

“Ons kan moontlik weer ’n paar aankondigings oor die volgende ses maande of die res van hierdie jaar sien,” sê Jean Pierre Verster, uitvoerende hoof van die verskansingsfondsbestuurder Protea Capital Management.

Dié fondsbestuurder hou aandele in Naspers en Prosus.

Afgesien van verkrygings, meen Verster die kontant kan aangewend word om aandele terug te koop.

Hy sê die groep het voorheen, toe Tencent-aandele verkoop is, goeie dissipline met die ontplooiing van kapitaal getoon.

“Dit is volgens my ’n baie doeltreffende kapitaaltoewysing en sal die diskonto op die aandeelprys laat krimp omdat aandeelhouers baie gerusstelling gaan kry daaruit dat die bestuur kapitaal doeltreffend toewys,” sê hy.

Naspers het sy internasionale bates in 2019 in Prosus geplaas en die maatskappy in Amsterdam genoteer in ’n poging om die groot diskonto te laat krimp waarteen sy aandele op die JSE verhandel het, vergeleke met die waarde van die belang in Tencent.

Prosus het in Oktober aangekondig hy beoog om sowat R72,7 miljard van sy eie en Naspers-aandele terug te koop.

Dit het nog nie die diskonto laat krimp nie.

Teen die huidige aandeelprys verhandel Naspers teen ’n afslag van 26% van die waarde van sy belang in Prosus.

Prosus verhandel op sy beurt teen ’n afslag van 22% van die waarde van sy belang in Tencent.

Peter Takaendesa, hoof van aandele by Mergence Investment Managers, wat ook Naspers- en Prosus-aandele besit, sê hy verkies dat nog aandele teruggekoop word bó ’n verkryging, aangesien die meeste van die maatskappy se ondernemings ’n verlies ly.

Dit is net Tencent en sy afdeling vir aanlyn geklassifiseerde advertensies wat nie ’n verlies ly nie.

“Van die opbrengs moet aangewend word om aandele terug te koop, wat miskien ’n beter manier is om dit te gebruik as om bates te koop, aangesien ons nie weet hoe dit gaan vaar nie,” sê hy. – Reuters

Meer oor:  Prosus  |  Naspers  |  Tegnologie  |  Aandele  |  Beleggings  |  E-Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.