Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wat gebeur nou met drank wat aanlyn bestel is?

E-handelaars mag geen alkohol aflewer nie, selfs al is die bestellings voor die jongste landwye verbod op die verkoop van alkohol geplaas.

Die verkoop van drank is met onmiddellike effek verbied, ook aanlyn. Foto: Unsplash

Nadat die verbod Sondagaand met onmiddellike effek van krag geword het, beteken dit dat Suid-Afrikaners wat steeds wag op die aflewering van die drank wat hulle verlede week aanlyn bestel het, effektief gekanselleer is.

“Vanselfsprekend is ons baie ongelukkig hieroor,” sê Karla Levick, kommunikasiehoof van Takealot.

Volgens haar was baie bestellings van alkoholiese drank gereed om afgelewer te word toe pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand die verbod afgekondig het.

Die regulasie is dieselfde aand nog in die Staatskoerantgepubliseer, wat beteken dat geen aflewering van drank selfs vroeg Maandagoggend kon plaasvind nie.

Verbruikers het reeds vir die drank betaal, wat e-handelaars nou in die ongemaklike posisie plaas waarin groot bedrae geld terugbetaal moet word.

Takealot bied sy kopers die opsie om of ’n terugbetaling te ontvang of om die betrokke bedrag as krediet te behou om later ten opsigte van ’n ander bestelling te gebruik.

OneDayOnly.co.za gaan egter nie die bestellings van alkohol wat voor Sondag gemaak is, kanselleer nie.

Die e-handelaar het Dinsdag laat weet hy gaan eerder die betrokke bestellings “veilig bewaar totdat dit verskeep kan word”.

Makro het begin om alle bestellings van drank wat reeds geplaas is te kanselleer en om kopers se geld terug te betaal.

In gevalle waar die produkte reeds sy pakstore verlaat het en tans in die hande van koeriers is, sal die produkte na sy pakstore teruggebring en bewaar word totdat dit weer verskeep mag word.

Kopers sal wel ook die opsie gebied word om hul bestellings te kanselleer en ’n terugbetaling te ontvang.

In sommige gevalle sal koeriermaatskappye na kliënte se bestellings omsien en dit bewaar totdat dit weer verskeep mag word.

Matthew Leighton, woordvoerder van OneDayOnly.co.za, sê die onderneming hoop om steeds alkohol te mag verkoop, maar dan eers te verskeep sodra die verbod gelig word.

“Dit sal ons in staat stel om steeds wynplase en ander ondernemings te ondersteun.”

Dit is dieselfde benadering wat die e-handelaar tydens die vlak 5- en vlak 4-inperkings gevolg het.

Wyn en ander alkoholiese drank kan nou steeds op aanlyn drankwinkels soos CyberCellar bestel word, maar daar is ’n duidelike kennisgewing op die handelaar se tuisblad dat die produkte eers later wanneer dit weer wettig is, afgelewer sal word.

Takealot lys vir nou slegs nie-alkoholiese drankies op sy webwerf.

Die Suid-Afrikaanse drankbedryf het Maandag in ’n gesamentlike verklaring gewaarsku dat die hernude verbod op drankverkope ’n potensiële ramp vir die bedryf en verbruikers inhou en tot grootskaalse werkverliese kan ly.

LEES OOK: Drankbedryf wil help, ‘maar regering weerhou traumadata’

Meer oor:  Onedayonly  |  Cybercellar  |  Makro  |  Takealot  |  Drankverbod  |  Staat Van Inperking  |  Drankverkope  |  E-Handelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.