Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wat is die ‘slimstad’ wat Cyril beloof het?
’n Lugfoto van Sjanghai in China. Sjanghai word as ’n slimstad beskou. Foto: Unsplash

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede Donderdagaand gesê ’n “slimstad” met blyplek vir tot ’n halfmiljoen mense gaan in Lanseria, Gauteng, gebou word.

Volgens Ramaphosa neem dié stad reeds vorm aan en dit sal “binne die volgende dekade” klaar wees.

Die projek is onder leiding van die presidensie se kantoor vir beleggings en infrastruktuur en vind in samewerking met die regerings van Gauteng en Noordwes, die Johannesburg-metro, Tshwane-metro en die Madibeng-munisipaliteit plaas.

Dié stad gaan nie net “slim en gereed vir 5G” wees nie, maar gaan die maatstaf vir omgewingsvriendelike infrastruktuur wees, sê Ramaphosa.

Wat is ’n ‘slimstad’?

Slimstede gebruik inligtingstegnologie om groter doeltreffendheid te skep, volhoubaarheid te verbeter, ekonomiese ontwikkeling te stimuleer en die lewensgehalte van inwoners en mense wat daar werk te verbeter.

Dit word vermag deur verskillende aspekte van die bestuur van die stad deur inligtingstegnologie en die sogenaamde “internet van dinge” met mekaar te verbind.

Dié tegnologie laat stadsamptenare toe om regstreeks met gemeenskaps- en stadsinfrastruktuur te skakel en regstreeks te monitor wat in die stad gebeur. Dit het ook ’n groot impak op die veiligheid van ’n stad.

“Voorbeelde van hoe tegnologie ’n stad veiliger kan maak, kan wees om die bestaande netwerk van kameras so aan te wend dat dit as’t ware oë op straat word,” het Edwin Diender, adjunkpresident van Huawei se afdeling vir openbare sake, voorheen aan Netwerk24 verduidelik.

Tegnologie en ontledende programmatuur kan wetstoepassers help om videobeelde te ontleed om reaktief op sekere voorvalle te reageer en waardevolle tyd te bespaar.

Die kameras kan byvoorbeeld “geleer” word om dinge soos motorongelukke of brande op te tel en die relevante owerhede te verwittig.

“Deur die bestaande selfoonnetwerk te gebruik sal die stadsbestuur regstreeks inligting kan ontvang en dit effektiewer aan ander relevante spanne, departemente of selfs agentskappe kan oordra.”

Blitsvinnige 5G-tegnologie sal dié prosesse vergemaklik in die slimstad wat Ramaphosa in Lanseria beplan.

Huawei is een van die grootste rolspelers in die oprig van die nodige tegnologie om van ’n stad ’n slimstad te maak.

Die Chinese tegnologievervaardiger het reeds gehelp om meer as 160 slimstede in meer as 100 lande en streke op te rig.

Enige stad het die potensiaal om ’n slimstad te word en hoef nie van die grond af opgebou te word soos die geval is met die stad wat Ramaphosa beplan nie.

“Daar is nie ’n spesifieke lys vereistes waaraan stede moet voldoen nie – dis nie hoe die konstruksie van ’n slimstad werk nie.”

Volgens Diender moet die stad net oor ’n digitale agenda en die wil beskik om die manier waarop sake gedoen word met tegnologie te verbeter.

Meer oor:  Huawei  |  Cyril Ramaphosa  |  Slimstede  |  Tegnologie  |  Slimstad  |  Ontwikkeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.