Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wat is Quibi, die ‘nuwe Netflix’?

Die wêreld het reeds Netflix, Disney+, Amazon Prime, HBO Go, Hulu, Showmax . . . en nou ook Quibi.

Dié nuwe stromingsdiens is vandeesmaand amptelik bekend gestel nadat dit meer as ’n jaar lank in ontwikkeling was.

Maar wat is Quibi, en hoe onderskei hy homself van ander, bestaande dienste wat reeds miljoene intekenare het?

Quibi staan vir ‘Quick Bites’

Quibi is geskep deur Jeffrey Katzenberg, medestigter van die rolprentmaatskappy DreamWorks.

Die onderskeidende faktore is dat episodes op Quibi almal korter is as tien minute en dat dit net op ’n slimfoon gekyk kan word.

Die skeppers meen Quibi se inhoud is ideaal vir daardie tien minute voordat ’n vergadering begin, of wanneer jy op die bus of trein op pad is werk toe.

Daar is drie soorte inhoud op Quibi beskikbaar:

  • Flieks (of reekse) wat in episodes aangebied word;
  • Werklikheidsreekse en dokumentêre reekse; en
  • Nuusprogramme

Elke episode is tussen vyf en tien minute lank. Nuwe episodes word daagliks uitgereik om te keer dat jy alles opeens klaar kyk.

Is die programme enigsins goed?

Quibi is ’n nuwe stromingsdiens wat meeding met Netflix, Amazon en Showmax. Foto: Getty Images

Katzenberg het danksy beleggers ’n ruim $1,75 miljard ingesamel om oorspronklike inhoud vir Quibi te skep.

Die diens bied van dag een af ’n gesonde en uiteenlopende versameling inhoud met verskeie hoëprofiel-akteurs wat daarin verskyn.

Most Dangerous Game is ’n episodiese riller met Liam Hemsworth en Christoph Waltz in die hoofrolle.

Hemsworth vertolk die rol van ’n jong man met breinkanker wat deur ’n groep onbekende mense gejag word in die strate van Detroit.

Daar is ook werklikheidsreekse soos Murder House Flip waarin huise waarin grusame moorde gepleeg is, deur ’n span reggeruk word om weer bewoon te word.

Die konsepte van verskeie van Quibi se programme is beslis uniek. En elke episode eindig op ’n hoogtepunt om jou aan te spoor om môre weer in te skakel.

Is dit in Suid-Afrika beskikbaar?

Ja, Quibi het gelyktydig oor die hele wêreld heen beskikbaar geword en bied boonop die eerste 90 dae gratis aan enigiemand wat nou aansluit tot die einde van April.

Daarna kos die diens R130 per maand. ’n Goedkoper weergawe is ook beskikbaar, maar dan moet jy bereid wees om na advertensies te kyk.

Die app is beskikbaar vir Android- en Apple-toestelle.

Is dit reeds baie gewild?

Dit is moeilik om Quibi se onmiddellike gewildheid te bepaal gegewe die feit dat groot dele van die wêreld tans in ’n staat van inperking is.

Gebruikers het vroeg gal gebraak op sosiale media dat die inhoud net op ’n selfoon beskikbaar is, wat dit moeilik maak om dit met ander te deel.

Quibi se app is op die eerste dag sowat 300 000 keer in Amerika en Kanada afgelaai. Dit is maar net 7,5% van die sowat vier miljoen keer wat Disney+ se app afgelaai is toe dit in November 2019 bekend gestel is.

Quibi het reeds beloof om meer as 8 500 episodes van 175 flieks en reekse binne die volgende jaar uit te reik.

Meer oor:  Televisie  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.