Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wat jy moet weet voor jy bitcoin koop

Daar is tans meer as 2 000 verskillende soorte kriptogeldeenhede. Petrus Malherbe het met ’n bitcoin-kenner gesels.

        

Jy kan ’n deel van ’n bitcoin koop.

Ondanks die wisselvalligheid in die prys van bitcoin, het die waarde daarvan in ’n jaar met bykans 30% toegeneem.

Sodra die prys van bitcoin skerp toeneem (of daal), haal dit koerantopskrifte wêreldwyd.

Dalk wik en weeg jy al geruime tyd om hierdie nuwe tipe belegging te probeer, wat dalk eendag die ruggraat van ’n nuwe finansiële stelsel gaan wees, sê Marius Reitz, hoof van Luno in Suid-Afrika, ’n verhandelingsplatform vir kriptogeldeenhede.

Reitz sê in ’n inligtingstuk dit is belangrik om te onthou jy hoef nie ’n hele bitcoin op ’n slag te koop nie – teen die huidige wisselkoers sal dit jou meer as R146 000 kos!

Jy kan wel ’n fraksie van een bitcoin vir so min as R20 aanskaf.

Daarby is bitcoin beslis ook nie die enigste digitale geldeenheid waarin jy kan belê nie. Daar is trouens meer as 2 000 verskillende eenhede.

Wat is bitcoin?

Voor jy iets nuut probeer, is dit belangrik om te verstaan wat dit is. Bitcoin is ’n nuwe tipe tegnologie wat deels werk soos ’n kredietkaart en ’n stuk goud gemeng met ’n tikkie “internet”.

Die meeste Suid-Afrikaners beskou bitcoin as ’n belegging, maar al hoe meer mense begin dit ook as ’n betaalmetode te gebruik.

Omdat dit jou toelaat om geld maklik oor te dra, funksioneer bitcoin dieselfde as ’n internasionale betalingstelsel, soortgelyk aan ’n bankoorplasing of ’n kredietkaart.

Dit is ook soortgelyk aan goud omdat goud ook as geld of ’n belegging gebruik kan word. Dit is egter makliker om bitcoin na ’n nuwe eienaar oor te dra.

Die meeste Suid-Afrikaners beskou bitcoin as ’n belegging, maar al hoe meer mense begin dit ook as ’n betaalmetode te gebruik.

Laastens het bitcoin ook met die internet te make aangesien geen enkele persoon of entiteit dit beheer nie.

Transaksies geskied aanlyn en word deur ’n groepering van rekenaars wêreldwyd geverifieer.

Bitcoin maak dit dus makliker en goedkoper om geld heen en weer te stuur.

Hoekom is die bitcoinprys so wisselvallig?

Die prys van een bitcoin word op dieselfde wyse bepaal as dié van ander geldeenhede. Dit word deur vraag en aanbod gedryf. Die prys van ’n digitale geldeenheid, insluitende bitcoin, kom neer op wat die koper bereid is om te betaal teenoor wat die verkoper daarvoor wil hê.

’n Belangrike onderskeid van bitcoin is egter dat daar ’n beperkte voorraad is.

Sodra daar 21 miljoen bitcoins in omloop is, kan daar nie meer geproduseer of gedruk word soos die geval van harde kontant nie.

Daar is reeds meer as 17 miljoen bitcoin gemyn. Die inherente skaarsheid daarvan dryf die toekomstige waarde van bitcoin. Die prys sal na verwagting ook toeneem namate meer mense dit as betaalmiddel gebruik.

Watter risiko’s is daar om in bitcoin te belê?

Dieselfde intuïtiewe reëls wat op tradisionele geld van toepassing is, geld ook vir bitcoin.

Moet byvoorbeeld nie meer belê as wat jy kan bekostig om te verloor nie, en moenie al jou beleggings in een mandjie hou nie.

Bitcoin is ’n splinternuwe tegnologie wat met tyd meer gevestig sal word. Van die risiko’s wat daarmee gepaardgaan, sal ook mettertyd uitgestryk word.

Dit kan intimiderend wees om in digitale geld te belê, maar dit hoef nie te wees nie. Foto: Getty Images

Bitcoin is ook meer wisselvallig as baie ander geldeenhede en kan in ’n baie kort tydjie óf baie waarde bykry, óf baie verloor.

Transaksies met bitcoin is soortgelyk aan kontanttransaksies en kan nie omgekeer word nie. As jy dus bitcoin aan ’n verkeerde persoon stuur, of jou bitcoin word uit jou digitale beursie gesteel, is dit neusie verby.

Dit maak dit wel ’n veiliger betaalmetode vir handelaars aangesien betalings nie teruggetrek kan word nie.

Net soos enige ander belegging is dit belangrik om jou eie navorsing te doen en jou eie oordeel te gebruik voor jy in bitcoin belê.

As jy wil belê, maak seker jy gebruik ’n betroubare verhandelingsplatform wat deursigtig is oor wie sy beleggers en direkteure is. Wees versigtig vir enige skema wat gewaarborgde opbrengste op jou belegging beloof.

Slaan na hoe om bitcoin-slenters te vermy en beskerm jou digitale geld teen kuberkrakers, swendelaars en uitvissing.

Wat gebeur as die prys daal nadat ek bitcoin gekoop het?

Nes aandele is dit ideaal om bitcoin teen ’n laer prys aan te skaf en weer teen ’n hoër prys te verkoop.

As jy vandag bitcoin aanskaf, kan jy verwag dat die prys daarvan op kort termyn kan daal, maar die langtermynvooruitsig is steeds dat die prys gaan aanhou styg.

Jy bly ook volkome in beheer en kan kies of jy wil wag vir die prys om te styg (voor jy verkoop) of daal (voor jy koop).

Hoe koop ek bitcoin?

Jy kan bitcoin van ’n geloofwaardige verhandelingsplatform soos Luno aanskaf. Die transaksie is soortgelyk aan die koop van aandele aanlyn.

Jy dra rande oor na jou Luno-rekening en ruil dit vir bitcoin op die platform. Jy kan jou bitcoin ook daar weer vir rande verruil wat weer in jou gekoppelde bankrekening inbetaal sal word.

Let wel kapitaalwinsbelasting is betaalbaar op enige wins wat jy uit die verkoop van bitcoin verdien.

’n Platform soos Luno koop nie self enige bitcoin aan, of bepaal die prys daarvan nie. Hy fasiliteer bloot die transaksies tussen kopers en verkopers.

’n Platform soos Luno koop nie self enige bitcoin aan, of bepaal die prys daarvan nie. Hy fasiliteer bloot die transaksies tussen kopers en verkopers.

Afgesien van Luno is daar hordes ander soortgelyke platforms, maar die maatskappy is verreweg Suid-Afrika se grootste verhandelingsplatform in terme van die volume transaksies.

Die aanskaf van bitcoin is onmiddellik, met ander woorde jou rande word dadelik vir die ooreenstemmende waarde in bitcoin (teen die huidige wisselkoers) verruil en in jou Luno-rekening gestoor.

Jy kan handelaars regstreeks uit dié rekening vir goedere en dienste in bitcoin betaal en ook so bitcoin ontvang as jy ’n item of diens aan iemand verkoop.

Luno verhaal wel transaksiegelde van tussen 0% en 1%.

Kragtens wetgewing kan jy ook net ’n sekere bedrag rand vir bitcoin (of ander digitale geldeenhede) verruil tensy jy meer stawende dokumente aan jou gekose verhandelingsplatform verskaf.

Dit is om die misbruik van die stelsel vir geldwassery te probeer bekamp.

Meer oor:  Luno  |  Bitcoin  |  Digitale Geld  |  Kriptogeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.