Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Watter netwerk is SA se grootste?

Die mededinging tussen Suid-Afrika se vier grootste selfoonnetwerke word by die dag strawwer.

Vodacom is Suid-Afrika se grootste netwerk wat sy aantal intekenare betref. Foto: Getty Images

Hoewel Vodacom steeds op grond van sy aantal verbruikers verreweg die grootste netwerk is, wen kleiner diensverskaffers soos Telkom en Cell C toenemend veld.

Volgens die jongste beskikbare syfers het Suid-Afrika nou baie na aan 100 miljoen aktiewe selfoongebruikers.

Dit is die totale getal aktiewe SIM-kaarte wat in ’n verskeidenheid van toestelle, soos slimfone, tabletrekenaars en selfs interkomstelsels, gebruik word.

Dit beteken daar is bykans twee SIM-kaarte vir elke inwoner van Suid-Afrika.

Vodacom neem die voortou met net minder as 44 miljoen aktiewe gebruikers waarvan 5,6 miljoen op kontrak is.

Sy getal vooruitbetaalde kliënte staan op 38,2 miljoen.

Dit verwys spesifiek na SIM-kaarte wat in die ses maande tot einde Desember aktief gebruik is.

MTN is in die tweede posisie met meer as 31 miljoen totale gebruikers.

Hoewel MTN nie die grootste netwerk in Suid-Afrika is nie, kraai hy koning op die vasteland, veral in Nigerië en Uganda.

Telkom en Cell C, Suid-Afrika se twee kleinste netwerke, is ook die enigste twee wat nie sake in die buiteland doen nie.

Cell C se massiewe skuldlas maak enige groei in sy aantal intekenare bykans ongedaan.

Die jongste syfers wat dié ongenoteerde maatskappy beskikbaar wou stel, is vir einde Junie 2018 toe hy 16,3 miljoen intekenare gehad het.

Hy het nie in sy resultate vir die jaar tot einde Desember bekend gemaak of sy getal intekenare gegroei of gekrimp het nie.

Volgens ’n woordvoerder sal hierdie inligting eers later vanjaar bekend gemaak word.

Van die 16,3 miljoen is 13 miljoen vooruitbetaalde kliënte en die res is op kontrak.

Telkom is steeds Suid-Afrika se kleinste netwerk gegrond op die aantal intekenare, maar hy groei skerp, veral danksy sy aanloklike datapakkette.

Luidens die maatskappy se jongste beskikbare syfers vir einde September 2018 het Telkom nou 6,5 miljoen intekenare op sy mobiele diens, waarvan 1,6 miljoen op kontrak is.

Sy bedryfsinkomste het op ’n jaargrondslag met 5,2% tot sowat R21 miljard gestyg, hoofsaaklik te danke aan die groei in sy mobiele afdeling.

Diensverskaffers moes almal onlangs nuwe regulasies vir data-gebruik begin toepas. Dit behels onder meer dat data nie sommer meer ná ’n enkele kalendermaand mag verval nie en dat diensverskaffers ongebruikte data na ’n volgende maand moet oordra.

Hoewel die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid diensverskaffers tot einde April uitstel gegee het om die nuwe regulasies in werking te stel, voldoen hulle almal reeds daaraan

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.