Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Welkom in die (nuwe) ‘Roaring Twenties’

Die Roaring Twenties lyk of dit lekker was en veral ná die Covid-19-pandemie kan die wêreld doen met ’n bietjie innovasie en lekker leef.

Huawei sê 5G gaan die nuwe Roaring Twenties bring. Foto: Huawei

En dis wat aan die kom is volgens die tegnologie-optimiste, veral danksy die ingebruikneming van 5G-tegnologie.

Die Roaring Twenties verwys na die 1920’s - die dekade ná die Eerste Wêreldoorlog waarin onder meer motors en krag algemeen in gebruik geneem is. Dit was ’n tyd van innovasie wat  beduidende verbeterings gebring het in die manier waarop die wêreld sake gedoen, gewerk, geleef en gespeel.

Baie voel dat dieselfde nou weer in die 2020’s gaan gebeur.

Op ’n onlangse aanlyn aanbieding deur die tegnologiegroep Huawei het die maatskappy drie tegnologieë genoem wat die verandering sal dryf:

  • 5G;
  • Kunsmatige intelligensie (KI); en
  • Wolkrekenaardienste

As Suid-Afrika sy ekonomie wil laat groei, en sy burgers van die beste lewensgehalte wil verseker, moet die land die instel van vaardighede wat verband hou met dié tegnologieë kombineer met die natuurlike menslike vaardighede van die land.

Dít was die oorheersende boodskap van Huawei.

Arthur Goldstuck, stigter en inligting- en kommunikasietegnologie-ontleder van World Wide Worx, sê hoewel Suid-Afrikaanse ondernemings bewus is van die noodsaaklikheid om tegnologieë soos KI in te span, is daar dikwels tekortkominge as dit in werking gestel moet word.

“Dit is grotendeels te wyte aan ’n tekort aan vaardighede, maar daar is baie belowende inisiatiewe, waaronder Huawei se universiteitsvennootskappe, wat daarop gemik is om die tekortkominge te verminder.”

Van die platespeler, kasset en CD tot stroming

Die impak van hierdie tegnologieë word reeds in verskeie bedrywe gesien.

“Die digitale storm is op hande,” sê Goldstuck.

Hy wys na die afsterwe van musiek-CD’s as een van die kragtigste voorbeelde van hoe vinnig bedrywe ontwrig kan word.

“Net ’n paar jare gelede het ons nog DVD-spelers gehad. Dit is ook nie meer so gewild nie weens stromingsdienste soos Netflix of Showmax.”

Ons kan slim regerings, slim huise, slimtoestelle en slim energie bou. Die waarheid is dat KI almal kan bevoordeel.
Michael Langeveld van Huawei

Michael Langeveld, visepresident van Huawei se afdeling vir Afrika-wolkdienste, stem saam.

“Die Vierde Nywerheidsrewolusie (4IR) versnel ons pas na ’n intelligente wêreld,” sê Langeveld.

Verskeie bedrywe digitaliseer nou. Dit is toenemend deur tegnologieë wat nie baie dramaties lyk vergeleke met iets soos 3D-drukwerk nie, maar dis dinge wat take eenvoudiger maak en die betrokke bedryf vorentoe dryf.

“Tegnologieë wat bedrywe volledig sal transformeer, is dié wat die fisieke sal vervang deur digitale en outomatiese take,” sê Goldstuck.

Hy wys byvoorbeeld op die manier hoe boekhouprogrammatuur die behoefte aan boekhouers byna heeltemal uitgewis het.

Ou bedrywighede se dae getel

Al meer elektriese motors word deur verskeie maatskappye vervaardig en dit sal mettertyd die einde bring aan die vulstasie soos wat ’n mens dit nou ken.

Fisieke banke se dae is getel.

Fisieke bedrywighede soos banke en parkeergarages is ook op pad uit.

“Motors het begin selfbestuur en -parkeer, maar die motors kan nog nie self parkeer of ry sonder voldoende vlakke van KI, hoë vlakke van konneksie en ’n manier om die massa data wat hulle genereer wat noodsaaklik is om paaie nog veiliger te maak, veilig te berg nie. Die mens is nog nodig daarvoor, maar daar is baie wat ons nie meer hoef te doen nie.”

Volgens Goldstuck sal die tegnologiese veranderinge wat deur AI, 5G en wolkdienste aangedryf word, werkverliese meebring, veral onder telekommunikasieondernemings, koerante, reisagente en ander bedrywe wat tradisioneel arbeidsintensief was.

Dit beteken nie nuwe werkgeleenthede sal nie geskep word nie. Goldstuck glo daar sal ’n groot vraag na individuele en gesinsorgdienste, tuis- en gesondheidsorgdienste, buitepasiëntedienste en tegniese en konsultasiedienste wees.

“Die nuwe 20’s kan deur KI gedryf word, maar die behoefte aan sorg vir mense is groter as ooit tevore. Menswees is die belangrikste vaardigheid van die 2020’s.”

Sowel Goldstuck as Langeveld glo die samevoeging van die beste tegnologie en mense hou groot potensiaal vir Suid-Afrika in.

“Ons kan slim regerings, slim huise, slimtoestelle en slim energie bou. Die waarheid is dat KI almal kan bevoordeel en dit kan gebruik word om almal se lewe te verbeter, maar slegs as konneksie nie ’n struikelblok bly nie,” sê Langeveld.

Meer oor:  Huawei  |  Arthur Goldstuck  |  Ontwrigting  |  Tegnologie  |  5G  |  Kunsmatige Intelligensie  |  Stromingsdienste  |  4Ir
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.