Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Werkers verpes sagteware-bywerkings

Byna die helfte van Suid-Afrikaanse werknemers wat met hul IT-personeel geredekawel het oor die bywerk van hul rekenaars se sagteware, is toegelaat om voort te gaan om op dikwels onveilige en uitgediende bedryfstelsels te bly werk, wys ’n peiling van Kaspersky.

Rekenaars wat nie bygewerk word nie is uiters kwesbaar vir kuberaanvalle. Foto: Argief

Bywerkings van rekenaarsagteware en bedryfstelsels is noodsaaklik om stelsels te beveilig en gebreke in programme reg te stel. Die feit dat werkers nie hul rekenaars, tablette of selfone wil bywerk nie, maak dié toestelle uiters kwesbaar vir kuberaanvalle.

Kaspersky het ’n peiling onder 15 000 werknemers van maatskappye wêreldwyd – onder meer in Suid-Afrika, die VSA, China en Indië –gedoen. Daarin het 48% van respondente erken werknemers weier om bywerkings te installeer. 22% van die werkers gebruik byvoorbeeld steeds Windows 7 op hul persoonlike rekenaars, selfs al word dié bedryfstelsel algaande uitgefaseer.

Dit het Kaspersky genoop om nadere ondersoek in te stel na werkers se ingesteldheid jeens die bywerking van sagteware en bedryfstelsels.

44% van deelnemers het gesê bywerkings neem te lank – gemiddeld 23 minute per toestel, terwyl 36% gesê het hulle kom dikwels laat vir afsprake omdat hul toestelle besig was om bywerkings te installeer.

“Dit kan die traagheid moontlik verklaar,” sê Kaspersky.

Werkers is ook bekommerd dat die bywerkings van spesifiek hul werkrekenaars hul aandag gaan aftrek en hul produktiwiteit sal beïnvloed. 35% van deelnemers het gesê hulle neem ’n pouse wanneer hul rekenaars bygewerk word en dieselfde persentasie meen die nuwe weergawes van sagteware op hul rekenaars was tydmors en het inbreuk gemaak op hul produktiwiteit.

Dit is noodsaaklik dat maatskappye se IT-afdelings personeel bewus moet maak van hoe kwesbaar hulle is as stelsels nie bygewerk word nie, sê Kaspersky.

Onlangse navorsing van PricewaterhouseCoopers (PwC) toon 49% van maatskappybase het die bedreiging van kuberaanvalle as hul tweede grootste bekommernis uitgewys.

Dit is geen verrassing nie, sê Bethwel Opil, ’n verkoopsbestuurder by Kaspersky in Afrika.

“Suid-Afrika, Kenia en Nigerië het byvoorbeeld teen Augustus 2020 tesame 28 miljoen voorvalle gehad waar indringerware kuberveiligheid bedreig het.

“Suid-Afrika is ook derde op ’n lys van lande waar rekenaargebruikers te kampe gehad het met gyselware.”

Kuberkraaktegnieke word ál meer gesofistikeerd en kubermisdadigers het metodes verfyn om data te oes. Dit noop maatskappye om ’n gespesialiseerde kuberveiligheidstelsel te hê, maar dit pas nie die IT-begrotings van baie maatskappye nie.

Kaspersky se navorsing toon werkers het spesifieke behoeftes met die bywerking van sagteware en maatskappye se IT-afdelings moet aandag daaraan probeer gee sodat werkers meer bereidwillig sal wees om dit gereeld te doen.

Die peiling toon:

  • 77% van werkers vra dat bywerkings in die agtergrond gebeur sodat hulle kan aanhou werk;
  • 68% wil hê die bywerking moet plaasvind sonder dat hulle hul rekenaar se bedryfstelsel hoef te herlaai;
  • 58% vra bywerkings moet volgens ’n vaste skedule gebeur;
  • 68% verkies dit moet buite werksure plaasvind; en
  • 69% wil weet waarom die bywerking nodig is en wat presies dit aan die toestel sal verander.
Meer oor:  Sagteware  |  Kuberaanval  |  Tegnologiemaatskappye  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.