Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
WhatsApp: Laaste kans – sê ja of totsiens

Saterdag is die sperdatum om WhatsApp se nuwe voorwaardes te aanvaar, anders gaan jy stelselmatig oor die volgende paar weke toegang tot die kletsdiens begin verloor.

WhatsApp gaan jou afsny van die kletsdiens as jy nie sy nuwe voorwaardes aanvaar nie. Foto: Getty Images

Maar die Suid-Afrikaanse Inligtingsreguleerder oorweeg nou regstappe om jou privaatheid te probeer beskerm.

Die kletsapp het in Januarie aangekondig dat hy met ’n nuwe privaatheidsbeleid besig is wat insluit dat hy beperkte gebruikersdata met sy moedermaatskappy, Facebook, sal deel.

Duisende mense het uit vrees hieroor besluit om na mededingende apps soos Telegram en Signal te skuif.

WhatsApp het toe besluit om die aanpassing van die beleid tot 15 Mei uit te stel om die verandering te verduidelik. Die kletsdiens beklemtoon dat die wysiging dit net vir verbruikers makliker sal maak om boodskappe aan ondernemings te stuur. Dit sal nie hul persoonlike gesprekke beïnvloed nie.

In ’n verklaring op WhatsApp se webwerf bevestig die kletsdiens dat enigiemand wat nié die nuwe privaatheidsbeleid en voorwaardes aanvaar nie, nou stelselmatig van die app se funksionaliteit sal begin verloor.

Indien jy nie teen Saterdag die voorwaardes aanvaar nie, sal jy heeltyd ’n herinnering begin ontvang wat sê jy móét die beleid lees en aanvaar.

Dit sal elke dag op jou foon verskyn wanneer jy die app oopmaak.

Indien jy steeds nie die voorwaardes onderteken nie, sal die kletsdiens ná ’n paar weke toegang tot die app beperk.

Dit beteken jy sal nie self meer kan klets met jou vriende en familie nie. Die enigste manier wat jy verder sal kan kommunikeer, is as jy ’n oproep of boodskap ontvang en dan daarop klik en slegs daar antwoord.

Jy sal nie self oproepe of boodskappe eerste kan stuur nie.

Ná nog ’n “paar weke” sal die app jou dan verhoed om verdere kennisgewings te ontvang.

Dit sal beteken dat jy dan finaal afgesny is van die kletsdiens se funksionaliteit.

WhatsApp bevestig dat hy nie jou rekening sal verwyder nie, maar dat jy dit bloot nie meer sal kan gebruik nie totdat jy die voorwaardes aanvaar.

Waaroor die bohaai?

WhatsApp herinner sy gebruikers weer daaraan dat hy met die nuwe voorwaardes net nuwe maniere ontwikkel om met ’n onderneming op die kitsboodskapdiens te gesels of handel te dryf, wat heeltemal opsioneel is.

Persoonlike boodskappe sal altyd van punt tot punt gekodeer word. WhatsApp kan dit dus nie lees of daarna luister nie.

Die verandering is dus uitsluitlik gemik daarop om WhatsApp se integrasie met Facebook vir ondernemings te vergemaklik.

Al wat gaan verander, is dat ’n onderneming wat ’n besigheidsrekening met WhatsApp het, dit nou sal kan integreer met sy onderneming se rekening op Facebook.

Persoonlike data van private verbruikers word nie deur die veranderinge geraak nie.

Regstappe

Die Inligtingsreguleerder sê Vrydag in ’n verklaring hy is ontevrede met die privaatheidsbeleid soos hy nou staan.

Die reguleerder wil hê dat WhatsApp ’n spesiale weergawe van die beleid moet skep vir Suid-Afrika, soos wat gedoen is in die Europese Unie (EU), waar streng data-privaatheidsbeleide beteken het dat WhatsApp ’n spesiale beleid moes opstel vir die EU om verbruikers se privaatheid nog beter te verseker.

Die reguleerder sê WhatsApp het geweier om te reageer op sy versoek.

Hy oorweeg dus nou regstappe om dit af te dwing.

“Dit is steeds die bewering van die reguleerder dat die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) ’n privaatheidsregime het wat baie ooreenstem met die EU-regime, en daarom is hy van mening dat WhatsApp die EU-beleid in Suid-Afrika en ander lande in die globale suide moet aanvaar wat soortgelyke regimes het.

“Die reguleerder is steeds van mening dat daar, hoewel WhatsApp in verskillende wettige en regulerende omgewings werk, effektief twee privaatheidsbeleide vir die gebruikers van WhatsApp bestaan. Daar is wesenlike verskille tussen die beleid vir gebruikers wat in Europa woon, vergeleke met die beleid vir gebruikers wat buite Europa woon.

“Gegewe Facebook se status as een van die grootste maatskappye ter wêreld, is die reguleerder van mening dat hy met ander organisasies moet saamwerk om Facebook verantwoordbaar te hou.”

Meer oor:  Whatsapp  |  Facebook  |  Privaatheid  |  Tegnologie  |  Dataskending  |  Kletsdiens  |  Kletsapps  |  Sosiale Media  |  Privaatheidskending
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.