Die Suid-Afrikaanse Inligtingsreguleerder (IR) saai onnodig paniek met sy voorgestelde teenkanting van WhatsApp se privaatheidsbeleid.
Dit is die gevoel van prof. Basie von Solms, direkteur van die Sentrum vir Kuberveiligheid aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).
Die IR het Donderdag in ’n verklaring gesê Facebook mag geen kontakinligting wat hy van WhatsApp-gebruikers in Suid-Afrika versamel, deel sonder om van die IR toestemming te kry nie.
Volgens Von Solms slaan die IR die bal ’n bietjie mis met sy verklaring – om die waarheid te sê, dit versprei eintlik fopnuus.
“Daar is nie soseer iets fout met dít wat die IR vra nie, maar hul stelling is verkeerd omdat WhatsApp reeds gesê het dat hulle nie enige telefoonnommers met Facebook sal deel nie,” sê Von Solms.
WhatsApp verseker juis op sy webwerf in die nuwe privaatheidsbeleid dat hy geen kontaknommers met Facebook deel nie.

WhatsApp se beleid op hul webwerf maak dit duidelik dat geen kontakte met Facebook gedeel sal word nie. Foto: WhatsApp
Facebook is WhatsApp se moedermaatskappy.
Die IR se woordvoerder, Nomzamo Zondi, het teruggekrabbel en aan Netwerk24 gesê die spesifieke stelling oor telefoonnommers is net “as ’n voorbeeld gebruik” oor wat hulle voel WhatsApp nie mag doen nie.
“Ons wil graag wel vasstel of dit wel so is en wag tans op WhatsApp en Facebook vir terugvoer,” het Zondi gesê.
Von Solms meen met net 10 weke oor tot 15 Mei, die sperdatum vir die aanvaarding van die nuwe WhatsApp-beleid, voel die IR se poging ’n bietjie ter elfder ure.
“Die beleidsverandering kom al lank aan en is twee keer reeds uitgestel, so dit voel baie laat om hiermee te begin.”
Von Solms voel die IR kon baie beter aangewend word om mites te ontmasker en kuberbewustheid te verhoog, “nes ons in die verlede gedoen het met dinge soos MIV/vigs en meer onlangs die Covid-19-pandemie.
“Die staat moes miskien ook al vroeër gekyk het na kuberbewusmakingsveldtogte, want dit is ook grotendeels hoekom ons ’n probleem het.”
Hy voeg by dat Suid-Afrikaners al lank inligting deel met baie van die wêreld se tegnologiereuse, soos Google, Facebook en ander. “Ons inligting vlieg reeds in die kuberruim rond, maar nou het ons skielik ’n probleem met WhatsApp.
“Ons was eintlik van die begin af onsensitief met ons eie inligting, want as ons meer bewus was, sou ons nie aan die begin so gretig gewees het om alles op Facebook en ander platforms te deel nie.”