Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
WhatsApp: Waaroor die bohaai en moet jy skuif?

Die wêreld is in rep en roer nadat WhatsApp veranderinge aan sy bepalings en voorwaardes vir gebruikers gemaak het.

WhatsApp het twee miljard verbruikers wêreldwyd. Foto: Getty Images

Alle gebruikers moet dié nuwe voorwaardes voor 8 Februarie aanvaar of hul toegang tot die platform verloor.

Meer as 25 miljoen mense het hulle in die laaste paar dae by die WhatsApp-alternatief Telegram aangesluit. Duisende ander het ook Signal afgelaai, nóg ’n kletsdiens waarop jy ook oproepe kan maak.

Maar is die bohaai oor WhatsApp se nuwe voorwaardes geregverdig?

Gebruikers kla op sosiale media WhatsApp se jongste voorwaardes is onnodig ingewikkeld verwoord, wat talle gebruikers die gevolgtrekking laat maak dat Facebook, wat WhatsApp besit, nou toegang tot meer van hul persoonlike inligting gaan kry.

Dit is egter nie die geval nie. Trouens, niks noemenswaardig het werklik aan WhatsApp se voorwaardes verander nie.

In reaksie op die bohaai het hy op sy blog uitgestippel presies wat gaan verander, en wat nie.

Die enigste groot wysigings blyk te wees aan die manier waarop ondernemings die diens gebruik.

“Ons wil onomwonde sê die nuwe beleid gaan op geen manier die privaatheid van jou boodskappe aan vriende of familie raak nie. In stede daarvan bevat die nuwe beleid veranderinge wat verband hou met sakeondernemings wat boodskappe op WhatsApp stuur, en bied deursigtigheid oor hoe ons jou data versamel en gebruik,” sê die diens.

WhatsApp maak dit duidelik dat jou lys van kontakte ingevolge sy interne beleid rakende gebruikers se reg op privaatheid nie met Facebook gedeel word nie.

Nie WhatsApp óf Facebook het ook toegang tot enige gebruikers se boodskappe nie, aangesien dit met ’n geheime sleutel geënkodeer is.

Will Cathcart, WhatsApp se hoof, het op Twitter ’n lang verduideliking gegee om gebruikers se vrese te probeer besweer.

“Ek wil wys hoe toegewyd almal by WhatsApp is om private kommunikasie aan twee miljard mense wêreldwyd te bied,” sê hy.

Cathcart verduidelik weer dat WhatsApp net sy voorwaardes bygewerk het “om meer deursigtig te wees en funksionaliteit tussen gebruikers en ondernemings beter te verduidelik”.

Dit verander nie WhatsApp se bestaande praktyke wat betref watter inligting hy reeds met Facebook deel nie, sê hy.

So waarom die bohaai?

Facebook het ’n swak reputasie wat sy gebruikers se privaatheid betref.

Die maatskappy het WhatsApp in 2014 vir sowat $19,3 miljard gekoop.

Sedertdien word gebruikers se persoonlike inligting, soos name en telefoonnommers, reeds tussen die platforms gedeel.

Ingevolge die jongste veranderinge aan sy voorwaardes gaan Facebook nou ook kan sien met watter ondernemings jy op WhatsApp gesels.

Dit gaan waarskynlik ’n invloed hê op watter advertensies Facebook jou dan sal wys.

Al die ander funksionaliteite wat privaatheid betref, bly onveranderd.

Signal, ’n alternatief tot WhatsApp, word deur ’n onderneming sonder winsbejag bestuur en sy voortbestaan hang alles van skenkings af.

Brian Acton, WhatsApp se eertydse stigter, is een van Signal se grootste weldoeners.

Op sy beurt is Telegram deur die Russiese broers Nikolai en Pawel Durof ontwikkel. Dié kletsdiens is op sigself omstrede en word dikwels met terreurgroepe soos Isis vereenselwig. Dit word vanuit Dubai met bedieners dwarsoor die wêreld bedryf.

Meer oor:  Whatsapp  |  Facebook  |  Slimfone  |  Privaatheid  |  Tegnologie  |  Kletsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.