Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wie koop wat aanlyn in SA?
Die meeste Suid-Afrikaners wat aanlyn koop, is tussen 25 en 44 jaar oud. Foto: Unsplash

Verreweg die meeste Suid-Afrikaners wat aanlyn inkopies doen, is jonger as 45, maar ouer as 25.

Die meeste is ook vroue.

Dit is van die vernaamste bevindinge van ’n nuwe ondersoek deur die aanlyn winkel OneDayOnly.co.za wat meer as 6 000 Suid-Afrikaners oor hul aanlyn koopgewoontes uitgevra het.

E-handel gaan steeds van krag tot krag in Suid-Afrika en is (anders as fisieke winkels) aangehelp deur die koronaviruspandemie en die gepaardgaande staat van inperking.

Aanlyn winkels soos Takealot en OneDayOnly.co.za kon vir die grootste deel van die inperkingstyd aanhou sake doen.

Rand Merchant Bank reken dat die waarde van aanlyn inkopies in Suid-Afrika teen 2025 met 150% tot R225 miljard kan toeneem.

Volgens Laurian Venter, direkteur van OneDayOnly.co.za, het die maatskappy juis begin navors wie Suid-Afrika se gretigste aanlyn kopers is sodat hulle voor kan bly met verbruikers se verwagtinge.

“Dis ons werk om op hoogte te bly van hierdie verwagtinge sodat ons aan kopers kan gee wat hulle wil hê,” het sy Donderdag op ’n aanlyn bekendstelling van die navorsing gesê.

Daarvolgens is meer as 60% van aanlyn kopers tussen die ouderdom van 25 en 44.

Meer as 60% is vroulik.

Verkope op OneDayOnly.co.za het skerp toegeneem sedert die begin van die jaar en is reeds 128% hoër as in Januarie, het Venter gesê.

Takealot, Suid-Afrika se grootste e-handelaar, se verkope het in sy boekjaar tot einde Maart reeds met 28% toegeneem, nog voordat die staat van inperking werklik ingestel is.

Planne vir Swart Vrydag

OneDayOnly.co.za berei reeds maande lank voor op die groot inkopiedag Swart Vrydag, wat oor ’n week plaasvind.

Die e-handelaar beplan om heelweek spesiale aanbiedinge aan te bied wat uiteindelik sal opbou tot besparings van tot 100% op die dag self.

Kopers sal sekere produkte op Swart Vrydag gratis ontvang as hulle dit toevallig op ’n sekere oomblik in hul mandjies plaas, verduidelik Lunique Theunissen, bemarkingshoof.

Dit sluit in artikels soos televisies, rusbanke en stoepmeubels.

“Die span het bitter hard gewerk om die beste aanbiedinge te bied op Swart Vrydag,” sê sy.

Intussen het die e-handelaar bykomende werkers by sy pakstore aangestel om die verwagte toename in bestellings vinniger te verpak.

Die meeste Suid-Afrikaners koop aanlyn omdat dit so gerieflik is, het OneDayOnly.co.za se navorsing bevind.

Meer as die helfte van die respondente sê ook die prys van goedere aanlyn is die deurslaggewende faktor oor waarom hulle eerder artikels bestel as om dit in ’n fisieke winkel te gaan aanskaf.

Aanlyn winkels kan party artikels teen ’n merkwaardige afslagprys aanbied, hoofsaaklik omdat die winkel vennootskappe met verskaffers aangaan en ook minder oorhoofse koste het as fisieke winkels.

Tydens die staat van inperking het OneDayOnly.co.za ’n oormaat bestellings vir huishoudelike artikels gesien.

Sy topverkoper was ’n bed, met oefentoerusting soos trapmeulens en oefenfietse wat ook van die virtuele winkelrakke gevlieg het.

Groot meubelstukke soos banke en tafels was ook gewild.

Voordat aanlyn inkopies nuwe hoogtes bereik, sal plaaslike e-handelaars eers ’n aantal uitdagings die hoof moet bied, sê Venter.

“Die koste van data en die algemene ontoeganklikheid van die internet vir baie Suid-Afrikaners bly die vernaamste struikelblokke.

“As die bedryf wil floreer, moet die basiese boublokke daar wees.”

Die logistiek ten opsigte van aflewering bly ook ’n netelige kwessie, veral na informele nedersettings en kleiner, afgeleë dorpies. Baie Suid-Afrikaners vertrou ook nog nie aanlyn betalings heeltemal nie.

e-handel

Die Mededingingskommissie het onlangs ’n ondersoek begin na mededinging in Suid-Afrika se digitale ekonomie.

Dit sluit e-handelaars soos Takealot en OneDayOnly.co.za in.

Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die kommissie, het op die bekendstelling Takealot as ’n moontlike oorheersende rolspeler in Suid-Afrika uitgesonder, soortgelyk aan die oorheersende rol wat Amazon in Amerika speel.

Venter sê egter sy en haar span is “verheug” oor Takealot se sukses.

“Enigiemand wat die mark vir e-handel laat groei, is tot voordeel van ons almal.”

E-handel verteenwoordig vir nou nog net sowat 2% van totale kleinhandelverkope in Suid-Afrika.


Meer oor:  Onedayonly.Co.Za  |  Takealot  |  Tegnologie  |  E-Handel  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.