Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Windows 7 se dae getel – só raak dit jou
Windows 7 is reeds ’n dekade oud. Foto: Windows

Microsoft se Windows 7-bedryfselsel het die einde van sy leeftyd bereik.

Dié bedryfstelsel word van Dinsdag af nie meer deur Microsoft ondersteun nie, wat dit voortaan kwesbaarder maak vir virusse en ander indringerware.

Daarom moedig Microsoft gebruikers van Windows 7 aan om so gou as moontlik na die jongste weergawe van sy bedryfstelsel oor te skakel.

Windows 7 is al meer as tien jaar oud en volgens Microsoft het hy besluit om sy ondersteuning daarvan te staak sodat hy op “nuwe tegnologieë” kan fokus.

Windows 7 is egter nog baie gewild en is steeds die bedryfstelsel op meer as 30% van rekenaars wêreldwyd.

Volgens StatCounter is Windows 7 se markaandeel in sommige lande, waaronder Turkmenistan, steeds meer as 60%.

In Suid-Afrika is sy markaandeel net onder 30%.

Miljoene rekenaars is dus van Dinsdag af kwesbaarder vir indringerware en ander rekenaarvirusse.

   

Wat het Microsoft besluit?

   

Microsoft het reeds in 2015 aangekondig hy beplan om Windows 7 van 14 Januarie 2020 af nie meer te ondersteun nie.

Dit beteken Microsoft gaan nie meer bywerkings vir Windows 7 uitreik om gebruikers daarvan teen nuwe tipes rekenaarvirusse of ander kuberaanvalle te beskerm nie.

Moontlike foute met Windows 7 wat dus van Dinsdag af ontdek word, sal nooit reggestel word nie.

k

   

Hoe raak dit my?

   

As jy nog Windows 7 gebruik, kom dit daarop neer dat jy nou die risiko loop om deur nuwe tipes rekenaarvirusse of kuberaanvalle geraak te word.

Bykans ’n derde van Suid-Afrikaners gebruik nog Windows 7. 

Met die WannaCry-kuberaanval van 2017 was rekenaars met Windows XP veral kwesbaar, juis omdat Microsoft dié bedryfstelsel reeds in 2014 gegroet het.

Windows 7 gaan nou eweneens kwesbaarder wees vir aanvalle omdat Microsoft geen sekerheidsbywerkings daarvoor gaan uitreik nie.

Dit beteken aanvallers kan dalk op groot skaal toegang kry tot Windows 7-gebruikers se rekenaars en persoonlike inligting soos hul bankbesonderhede en dies meer, sonder hul medewete.

   

Wat kan ek doen om myself te beveilig?

   

As jy nog Windows 7 gebruik, sal die eenvoudigste oplossing wees om so gou as moontlik ’n nuwe rekenaar aan te skaf met die jongste weergawe van Windows.

Windows 10 is reeds in Julie 2015 uitgereik en Microsoft het dit van die begin af gratis beskikbaar gestel aan bestaande gebruikers van Windows 7 en 8.

Microsoft het reeds ’n boodskap aan Windows 7-gebruikers gestuur wat hulle aanraai om dadelik na Windows 10 oor te skakel.

Maak seker jy het die jongste weergawe van Windows.

Die tegnologiereus beveel egter nie aan dat Windows 10 op ouer rekenaars geïnstalleer word nie.

“Vandag se rekenaars is soveel vinniger en kragtiger en Windows 10 is reeds daarop geïnstalleer,” sê Microsoft op sy webwerf.

Maar jy het dalk nie begroot om nou ’n nuwe rekenaar aan te skaf nie. Gelukkig is dit teoreties steeds moontlik om Windows 10 af te laai en te installeer, mits jy ’n gelisensieerde weergawe van Windows 7 het.

Dit gaan ’n bietjie kennis van bedryfstelsels verg, maar al die instruksies word op Microsoft se webwerf uitgestippel.

Jy sal dalk ook ’n bykomende lisensie vir Windows 10 moet bekom om al die funksionaliteite daarvan te benut.

Microsoft het Windows 10 net tot Julie 2016 heeltemal gratis aangebied.

Maak ook eers seker jou ou Windows 7-rekenaar beskik oor die kapasiteit om Windows 10 te ondersteun.

Windows 10 benodig minstens 1 gigagreep se geheue en 16 gigagrepe se stoorplek.

   

Gaan my Windows 7-rekenaar net eendag ophou werk?

   

Nee, jou rekenaar met Windows 7 sal aanhou werk totdat dit eendag om ’n ander rede die gees gee.

   

Hoe weet ek watter weergawe van Windows ek het?

   

Gaan na die Control Panel op jou rekenaar, dan na System and Security en laastens na System. Jou weergawe van Windows sal daar aangedui word.

Dit sal ook daar wys of jy ’n gelisensieerde weergawe van Windows of ’n vervalste weergawe het.

Vals weergawes van Windows 7 sal nie na Windows 10 opgegradeer kan word nie.

Meer oor:  Microsoft  |  Rekenaar  |  Windows  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.