Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Winkels is traag met e-handel
Dis belangrik dat winkels 'n teenwoordigheid aanlyn het.

Die meeste Suid-Afrikaanse verbruikers koop steeds een keer per maand die grootste gros van hul kruideniersware, maar al hoe meer besoek ook weekliks die winkels om kruideniersware en ander benodigdhede aan te vul, sê die internasionale data-ontledingsmaatskappy Nielsen.

Suid-Afrikaanse inkopiegangers is baie bewus van enige prysveranderinge, maar die laagste prys is nie meer die grootste faktor wanneer verbruikers kies by watter winkel hulle hul swaarverdiende geld gaan bestee nie. Waarde vir geld en ’n aangename inkopie-ervaring is bepalend om kopers na jou winkel te lok, sê Kim Reddy, direkteur van verbruikersinsig by Nielsen Suid-Afrika.

Dit plaas druk op kleinhandelaars en vervaardigers om met innoverende produkte vorendag te kom en verbruikers te oorreed om hul winkels en produkte te kies uit die groot verskeidenheid wat beskikbaar is. Promosies, ’n eenstop-inkopie-ervaring en genoeg voorraad help ook verkope aan.

Luidens Nielsen se jongste verslag oor inkopietendense in Suid-Afrika sê 68% van respondente hulle sal ’n nuwe winkel in hul omgewing besoek om te sien wat dit bied.

Van die redes waarom verbruikers ’n nuwe winkel besoek het, sluit in dat dit naby hulle geopen het (22%), iemand het hulle daarvan vertel, en hulle het die winkel besoek saam met vriende en familie by wie hulle gekuier het (albei 20%). Sowat 18% het nuwe winkels besoek op grond van pamflette wat uitgedeel is of in hul posbusse geplaas is.

Veral spesiale aanbiedinge wanneer nuwe winkels open, lok inkopiegangers, sê Reddy.

Die studie wys verbruikers besoek al hoe meer supermarkte, vergeleke met ander soort winkels. Nielsen sê wel tussen 2012 en 2018 het die getal supermarkte in die land met 77% gestyg: van 2 825 tot 4 988.

Accenture, ’n internasionale maatskappy wat professionele dienste lewer vir strategiese, digitale en tegnologiese oplossings, sê in sy jongste verslag oor e-handel-geleenthede in Suid-Afrika tradisionele kleinhandelaars ervaar ook druk om aan te pas by verbruikers se aanlyn gedrag.

John Watling, besturende direkteur vir Afrika-kleinhandel by Accenture, sê in ’n verklaring ’n Visa-opname wys 63% van Suid-Afrikaners verkies om inkopies in ’n winkelsentrum te doen.

Gevolglik beweeg baie kleinhandelaars stadig om hul aanlyn aanbiedinge uit te brei om te kan meeding met suiwer e-handelmaatskappye.

Tradisionele kleinhandelaars in Suid-Afrika genereer byna al hul kleinhandelinkomste en wins uit hul fisieke winkels.

Baie sê ook aanlyn bedrywighede is duur om in stand te hou, dikwels onwinsgewend en hulle vind dit moeilik om die opbrengs op hul belegging in aanlyn aanbiedinge te meet, sê Watling.

Tog is meer as twee derdes van Suid-Afrika se bevolking van 58 mil­joen aktiewe aanlyn gebruikers.

Teen 2022 kan Suid-Afrika 25,5 miljoen slimfoongebruikers hê en hulle sal van die ondernemings met wie hulle sake doen verwag om hulle via aanlyn kanale te bedien, sê Watling. Dit sluit kleinhandelaars in.

Accenture sê as plaaslike kleinhandelaars met aanbiedinge kan kom soortgelyk aan Amazon en eBay, sal klante se vertroue in aanlyn inkopies styg en hulle sal waarskynlik gewilliger wees om aanlyn te koop.

Volgens Watling kan afdelingswinkels baie waarde ontsluit as hulle ’n hibriede model volg: ’n goeie aanlyn aanbieding saam met ’n aangename inkopie-ervaring vir klante wat steeds na die winkel kom.

In 2017 het Accenture bevind Suid-Afrikaanse maatskappye het R663 miljard se potensiële inkomste in een jaar ingeboet omdat talle verbruikers na mededingers gegaan het wat volgens hulle meer relevant was.

Meer oor:  Internet  |  E-Handel  |  Kleinhandelaar  |  Aanlyn  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.