Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Wynproe via Zoom raak al hoe gewilder
Al hoe meer wynplase bied nou wynproesessies oor platforms soos Teams en Zoom aan. Foto: La Motte

Om hul eie voortbestaan te verseker en ekonomiese herstel in die bedryf te bewerkstellig, moes wynmakers in die laaste paar maande met vernuwende idees vorendag kom.

Dit het gelei tot al hoe meer wynplase wat nou wynproesessies virtueel aanbied via platforms soos Microsoft Teams en Zoom.

Soos wat konferensielokale, raadsale en klaskamers aanlyn skuif, begin wynkelders nou ook daarheen migreer.

“Digitale tegnologie is een manier vir ondernemings om aan te pas en te floreer,” sê Amr Kamel, direkteur van bedryfsake by Microsoft in Suid-Afrika.

Kamel het Woensdag in samewerking met die wynplaas La Motte, Franschhoek, ’n virtuele wynproe oor Teams aangebied.

Die wyn word vooraf by kopers afgelewer. ’n Spesiale skakel na ’n Teams- of Zoom-vergadering word dan aan koper die koper gegee. Die virtuele sessie word normaalweg deur een van die wynmakers self gelei en daar is ook die geleentheid om vrae te vra.

Wynverkope oor die land heen het in die ses maande tot einde Augustus met meer as 43% geval.

Dit was hoofsaaklik weens die verbod op die verkoop van drank wat van einde Maart tot einde Mei gegeld het en toe weer vir ’n maand van middel Julie tot middel Augustus.

Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryfsorganisasie Vinpro, het in Augustus gewaarsku die bedryf gaan erg sukkel om te herstel.

72,2 miljoen liter minder wyn is in die eerste agt maande van die jaar verkoop teenoor dieselfde tyd verlede jaar. Die bedryf het na raming meer as R7 miljard in inkomste weens die verbod op drankverkope verloor.

Wines of South Africa (Wosa), nog ’n organisasie in die wynbedryf, reken meer as 21 000 werksgeleenthede in die bedryf is daarmee heen weens die staat van inperking.

Die wynbedryf dra jaarliks sowat R36 miljard by tot Suid-Afrika se BBP en gee werk aan ongeveer 300 000 mense.

Die pandemie het gereelde wyndrinkers se gedrag genoegsaam gewysig dat wynplase noodgedwonge ander maniere moes vind om hierdie mense oor ’n afstand te bereik.

Vandaar die skuif na aanlyn wynproesessies.

“Ons is van nature sosiale wesens en daar is niks meer sosiaal as om saam met vriende en familie ’n glasie wyn te geniet nie,” sê Hein Koegelenberg, uitvoerende hoof van La Motte.

“Daar bestaan min twyfel dat die regulasies oor die handhawing van ’n gesonde afstand die manier waarop ons met ons lojale klante omgaan, verander het.”

Vanuit ’n praktiese oogpunt moes wynplase soos La Motte hierby aanpas, sê hy.

“Noudat ons ondersteuners nie na ons toe kan kom nie, neem ons die ervaring na hulle toe.”

Hein Koegelenberg
Wynplase maak dit nou moontlik om aanlyn saam met die wynmakers wyn te proe.

La Motte is onlangs vir ’n prys vir innovasie by die jaarlikse Best of Wine Tourism-toekenningsgeleentheid benoem. Creation Wines, nog ’n wynplaas wat virtuele wynproesessies aanbied, het egter die prys ontvang.

Volgens Carolyn Martin, mede-eienaar en bemarkingsbestuurder van Creation, het dié wynplaas hemel en aarde verskuif om aan te pas by die veranderinge wat weens die pandemie teweeggebring is.

“Die veranderinge was veelvlakkig; van die verkryging van materiaal tot die opleiding van personeel en die ontwikkeling van nuwe produkte en maniere om dit te laat aflewer,” sê sy.

“Soms word innovasie uit teëspoed gebore.”

Afgesien van virtuele wynproesessies bied Creation Wines wynliefhebbers ook die opsie om ’n krat vol lekkernye te bestel wat goed by die wyn pas.

Toe drankverkope verbied was, het die wynplaas nie-alkoholiese wyn saam met die kos verskeep.

“Virtuele wynproesessies verg heelwat tegniese kennis,” sê Martin.

Gebruikersvriendelike platforms soos Zoom en Teams maak dit wel makliker vir wynmakers om hul kennis van die wyn aanlyn met wynproewers enige plek te deel.

“Dit is bemoedigend om te sien hoeveel Suid-Afrikaanse ondernemings gereed is om digitaal te transformeer en hul bedrywighede op ’n vernuwende manier voort te sit,” sê Kamel.

Die volgende uitdaging vir wynplase is om die regering so vêr te kry om weer wynverkope oor naweke toe te laat.

Wynplase verdien gewoonlik tussen 10% en 30% van hul bruto wins deur wyn oor naweke en op openbare vakansiedae aan mense te verkoop wat dit weg van die plaas af wil geniet, berig Landbouweekblad.

Wynplase mag tans kragtens die regulasies tans oor naweke net wyn aan besoekers verkoop wat dit dan op die perseel drink.

Meer oor:  Zoom  |  Microsoft Teams  |  Wynbedryf  |  Landbou  |  Wynproe  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.