Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Wys ons die wins, Naspers!’ - S&P

Naspers het dringend ’n ekonomiese wind van agter nodig sodat meer mense in Afrika betaaltelevisie kan bekostig. Boonop sal hy oor die volgende twee jaar wins moet begin maak uit sy afdeling vir e-handel, wat OLX insluit.

   

Bob van Dijk, uitvoerende hoof van Naspers.

Só het Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) Donderdag gesê toe hy die vooruitsig vir Naspers se kredietgradering in negatief verander, maar die gradering self op BBB- gehou het.

BBB- is die laagste beleggingsgraad, wat beteken niebeleggingsgraad-, oftewel rommelstatus, word vir die internet-en-mediareus in die vooruitsig gestel.

S&P sê Naspers se inkomste vergelyk swak met ander spelers in sy sektor wêreldwyd, maar hy is nie buitengewoon alarmisties oor Naspers se vooruitsigte nie.

Fitch Ratings het Naspers se langtermynskuld twee jaar gelede tot net onder beleggingsgraad (BB+ op sy skaal) afgegradeer en dit vanjaar bevestig. Dit het ’n stabiele vooruitsig. Fitch het Naspers se korttermynskuld ook twee jaar gelede afgegradeer tot net B, wat die tweede laagste spekulatiewe graad is, ook met ’n stabiele vooruitsig.

Moody’s Investors Service gradeer Naspers op Baa3, wat die laagste beleggingsgraad op sy skaal is. Die vooruitsig is egter stabiel.

Videovermaak

S&P sê Naspers se syfers het in sy boekjaar tot einde Maart verswak, onder meer weens traer groei in sy afdeling vir videovermaak (wat MultiChoice en ShowMax insluit). Dít te midde van die moeilike handelstoestande in Suid-Afrika en die res van Afrika.

Naspers se aandeelprys

Naspers se aandeelprys het die afgelope paar dae heelwat geskommel, maar in omgekeerde verhouding tot wat die rand gedoen het omdat Naspers as ’n randverskanser beskou word. Dit het Woensdag met 3,3% gestyg, maar Donderdag – toe die rand begin versterk het – teen 14:00 reeds met 1,42% teruggesak tot R2 367.

Naspers hou Vrydag sy jaarvergadering in Kaapstad.

Die kredietgradeerder verwag dat die swak ekonomiese toestande tot die einde van die 2017-boekjaar sal voortduur en Naspers minder wins sal laat maak.

Die afdeling vir videovermaak het ’n beperkte vermoë om sy koste vinnig te verhaal omdat hy programme in dollar moet aankoop.

Daarby beteken swak plaaslike wisselkoerse dat Naspers se dollarwins daal. Hy gee in dié boekjaar vir die eerste keer sy resultate in dollar aan.

S&P wys 288 000 intekenaars op betaaltelevisie in die streek het in die boekjaar hul subskripsie beëindig.

S&P sê hy neem kennis Naspers werk daaraan om intekenare te behou en meer plaaslike inhoud – wat nie in dollar gekoop word nie en goedkoper is – te vervaardig.

ShowMax maak nou plaaslik vervaardigde Suid-Afrikaanse TV-programme beskikbaar aan kykers in die buiteland.

Dit sal help verseker sy ebitda groei, maar die ebitda-winsgrens sal verminder tot 8% tot 10%. (Ebitda is verdienste voor rente, belasting, afskrywings en waardevermindering.) S&P het vantevore meer as 10% voorspel. Die ebitda-grens sal in 2018 weer tot 12%-15% styg, voorspel S&P.

S&P voorspel Naspers se inkomste uit videovermaak kan in 2017 met 15% tot 20% val voordat dit in 2018 met 8% tot 14% sal groei.

S&P sê ondanks die huidige probleme is die afdeling vir videovermaak “stewig”. “Langtermyn- onderliggende neigings soos die lae penetrasie van betaal-TV in Afrika en positiewe groeivooruitsigte op lang termyn in die streek sal volgens ons die afdeling se ontwikkeling ondersteun.”

E-handel

Wat e-handel betref, is S&P optimisties dat die afdeling binne die volgende twee jaar wins sal maak, mits mense in Afrika dié soort inkopies omarm.

Ontwikkelingsbesteding aan e-handel is steeds hoog, maar neem geleidelik af.

“Die e-handelafdeling ly steeds ’n verlies ondanks enkele winsgewende e-handelbates, insluitend Allegro, Avito en OLX.”

Die e-handel-afdeling ly steeds ’n verlies ondanks enkele winsgewende e-handelbates, insluitend Allegro, Avito en OLX.

Vooruitsig

S&P bereken Naspers se verhouding van skuld tot ebitda was in 2016 4 tot 4,5 en in 2017 sal dit tot meer as 5 toeneem voordat dit begin daal.

Naspers sal afgegradeer word as dit oor die volgende 24 maande geen organiese groei in sy afdeling vir videovermaak toon nie, as sy vrye kontantvloeiskepping nie verbeter nie en as sy skuldvlakke nie daal nie.

As Naspers sou besluit om Tencent of Mail.ru, die Chinese en Russiese internetreuse waarin hy nagenoeg ’n derde besit, te verkoop, sal ’n afgradering ook oafwendbaar wees, veral as Naspers nie die opbrengs gebruik om sy skuld te verminder nie. (Daar is tans geen sprake hiervan nie.)

Die soewereine kredietgradering van Suid-Afrika speel ook ’n rol omdat Naspers volgens S&P se ramings 46% van sy inkomste in dié land verdien.

Die vooruitsig sal stabiliseer as Naspers beter vaar as wat S&P verwag.

* Netwerk24 is deel van Media24, wat ’n filiaal is van Naspers.

Meer oor:  Mail.Ru  |  Dstv  |  Olx  |  Naspers  |  Multichoice  |  Tencent  |  Showmax  |  Media  |  E-Handel  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.