Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Zoom kry nuwe funksies, binnekort ook veiliger

Jou gesprekke op Zoom sal eersdaags veiliger wees.

Zoom Video Communications, eienaar en skepper van die Zoom-videodiens, sê die beloofde enkodering van gesprekke sal eersdaags beskikbaar wees.

Zoom se tipe enkodering sal van punt tot punt wees, wat beteken niemand sal dit kan onderskep nie, nie eens Zoom self nie.

Gratis sowel as betalende Zoom-gebruikers sal toegang kry tot hierdie bykomende veiligheidsmaatreël, het die maatskappy Woensdag aangekondig.

Hy het terselfdertyd ook ’n nuwe diens, OnZoom, aangekondig waarmee gebruikers geleenthede vir ’n groter gehoor kan aanbied.

Met OnZoom sal kunstenaars byvoorbeeld konserte kan aanbied en organisasies sal geldinsamelings daarmee kan bewerkstellig, sê Zoom in ’n inskrywing op sy korporatiewe blog.

’n Toetsweergawe van OnZoom word tans deur sommige mense gebruik voordat ’n finale weergawe beskikbaar gestel word.

Zoom is een van ’n handvol verskaffers van videokonferensiedienste wat voordeel kon trek uit die koronaviruspandemie wat miljoene mense gedwing het om van die huis af te werk en studeer.

Die maatskappy se inkomste het op kwartaalgrondslag met 355% tot $663,5 miljoen gespring.

Sy aandeelprys het Woensdag 3% tot $503 gedaal. Sy aandeelprys is wel steeds sewe keer meer as in Januarie vanjaar.

Zoom is een van daardie uitsonderlike gevalle waar ’n groot getal mense skielik van ’n diens begin gebruik maak.

Meer as 300 miljoen vergaderings vind elke dag op Zoom plaas.

Tog het die diens maande lank geworstel om die veiligheid van sy platform op standaard te kry.

Zoom gaan eersdaags veiliger wees om te gebruik. Foto: Getty Images

Navorsers het enkele gevalle ontdek waarin Zoom-gesprekke deur Chinese bedieners herlei is, al was nie een van die deelnemers aan die gesprekke self in China nie.

Kwaaddoeners het ook begin om Zoom-oproepe binne te dring in ’n tendens wat as Zoom-bombing bekend staan.

Jahana Hayes, ’n swart Demokraat van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, het Dinsdag in ’n inskrywing op Medium vertel van ’n rassistiese voorval op Zoom tydens ’n gesprek met kiesers.

’n Klomp deelnemers het rassistiese aanmerkings gemaak en gesê Hayes moet “gaan katoen pluk” – ’n verwysing na die tyd van slawerny in Amerika toe duisende swart mense as slawe op katoenplase moes werk.

Die organiseerders het gesukkel om die chaos onder beheer te kry, want sodra een rassistiese deelnemer uit die vergadering geskop is, het ’n ander een hom vervang.

“Ons is baie ontsteld hieroor en neem die privaatheid van Zoom-gesprekke baie ernstig op,” het die maatskappy in ’n Twitter-boodskap aan Hayes gesê.

Die maatskappy sê hy sal die voorval ondersoek.

Zoom reken die nuwe enkodering sal die organiseerders van Zoom-vergaderings meer beheer oor deelnemers gee.

Hoewel Zoom gewild is onder individuele gebruikers, besef die maatskappy die meeste van sy toekomstige groei sal van ondernemings afkomstig wees.

Die mikpunt is om uiteindelik alle vorme van ’n maatskappy se kommunikasie te vervang afgesien van e-posse.

Dit sluit in videokonferensiedienste, telefoonoproepe en teksboodskappe wat alles vanaf een, gesentraliseerde platform bestuur kan word.

Zoom ding mee met ander videokonferensiedienste soos Microsoft se Teams en Webex van Cisco.

Zoom beplan om al meer ander apps en dienste regstreeks by sy platform te integreer.

Dit sluit in Slack, die kommunikasiediens wat reeds ’n wesentlike verskil maak in hoe personeel met mekaar binne die werkplek kommunikeer.

Intussen is daar ook veranderinge aangebring aan bykomende funksionaliteit op vergaderings, insluitend die vermoë om die agtergrond van alle deelnemers na dieselfde beeld te verander. Deelnemers aan ’n vergadering sal nou ook op dieselfde vergadering na kleiner “kamers” kan oorskakel om gesprekke afsonderlik voort te sit.

“Zoom is vir nou en die toekoms ontwerp,” sê Eric Yuan, uitvoerende hoof, in ’n verklaring.

“Ons het die platform wat aan die wêreld sal bied wat hy nodig het – vandag, môre en in die toekoms.” – Bloomberg

Meer oor:  Zoom  |  Konferensie  |  Aanlyn  |  Tegnologie  |  Video
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.