Zoom Video Communications, wat die aanlyn konferensiediens Zoom besit, se inkomste in die derde kwartaal is ’n verstommende 367% hoër as die ooreenstemmende kwartaal ’n jaar gelede.
Zoom se uitstekende inkomste van $777,2 miljoen vir die drie maande tot einde Oktober is hoër as wat ontleders verwag het, maar dit is nie alles net goeie nuus nie.
Die maatskappy het Maandag gewaarsku sy marges bly onder druk omdat die aantal gratis gebruikers van sy platform steeds aan die toeneem is.
Hierdie gebruikers dra niks tot Zoom se inkomste by nie, maar verhoog wel sy uitgawes aangesien hy meer moet bestee om sy platform te onderhou.
Zoom Video Communications se aandeelprys het met ongeveer 5% gedaal kort ná die bekendmaking van sy resultate.
Sy aandeelprys het wel al sewe keer vermenigvuldig sedert die begin van die jaar, aangevuur deur die wêreldwye koronaviruspandemie wat mense geforseer het om van die huis af te werk en leer op platforms soos sy eie.
Zoom bedryf sy eie bedieners, maar maak ook staat op derdepartye soos Amazon se AWS, wat beteken sy gratis gebruikers kos hom heelwat geld.
Sy winsmarge in die derde kwartaal beloop 66,7%, minder as ontleders se verwagting van 72,1%.
Voor die pandemie was Zoom se winsmarge rondom 80%.

Zoom se inkomste het in die laaste jaar verdriedubbel.Foto: Zoom
Die maatskappy het nou 433 700 betalende kliënte met meer as tien werknemers elk; 485% meer as ’n jaar gelede, maar net 17% meer as in die tweede kwartaal.
Tussen die eerste en tweede kwartaal vanjaar het sy aantal betalende kliënte met 40% toegeneem.
Dit dui daarop dat sy groei in nuwe betalende kliënte besig is om te taan soos wat mededinging met ander platforms van Microsoft en Cisco sy groeiplanne pootjie.
Cisco se Webex en Microsoft se Teams was reeds voor die pandemie gevestigde platforms in vele kantore en het net gewilder geraak in die laaste paar maande.
Zoom hoop op ’n inkomste van tussen $806 miljoen en $811 miljoen in die huidige kwartaal tot einde Januarie.
Sy verwagte inkomste vir die boekjaar beloop enigiets tussen $2,575 miljard en $2,580 miljard.
Sy inkomste in sy vorige boekjaar tot 31 Januarie 2020 was $622,6 miljoen.
Dit beteken Zoom se inkomste in sy derde kwartaal vanjaar was meer as sy totale inkomste vir die hele vorige boekjaar.