Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Zoom-zoom kaap hulle jou rekenaar

Zoom-vergaderings of -byeenkomste is sedert die Covid-19-pandemie so alledaags soos TV-kyk, maar dit gaan met groot veiligheidsrisiko’s gepaard, maan kuberveiligheidsfirmas.

Zoom het ’n huishoudelike naam geword met die uitbreking van die Covid-19-pandemie, maar dit hou groot veiligheidsrisiko’s in. Foto: iStock

Gabe Goldhirsh, visepresident by ZeroFox se afdeling vir Afrika en die Midde-Ooste, sê sy firma het onlangs op duisende Zoom-rekenings afgekom wat te koop aangebied word op ’n forum vir kuberkrakers. Daar is ook webwerwe waar mense se Zoom-ID openbaar gemaak word.

Audrey Sidenko, ’n ontleder van web-inhoud by Kaspersky, sê een van die grootste risiko’s van video-konferensieplatforms soos Zoom is dat enigiemand ’n vergadering kan binnekom as die vergadering-ID bekend is – veral wanneer dit op ’n sosiale netwerk aangekondig word. Krakers kan maklik toegang tot Zoom-vergaderings verkry wanneer daar nie ’n wagwoord vir die sessie is nie.

Een van die algemeenste truuks is ’n Zoom-“bom”. Hulle kaap ’n vergadering deur onregmatig in te kom en dit ontwrig dan die vergadering. Suid-Afrikaanse LP’s was verlede jaar slagoffers van so ’n bom toe pornografie op hul rekenaarskerms verskyn het.

Gabe Goldhirsh, visepresident by ZeroFOX Foto: VERSKAF DEUR ZEROFOX

Daar is egter veel groter gevare, sê Goldhirsh. “Zoom word gebruik vir alle soorte kommunikasie – van gesprekke oor mediese en finansiële kwessies tot direksie- en multinasionale vergaderings. Baie vertroulike inligting word gedeel wat gesteel kan word.”

ZeroFox het onlangs ’n veiligheidspakket ontwikkel om werknemers van maatskappye te beskerm teen uitvissing en indringerprogramme, maar spesifiek ook Zoom-bomme. Met die pakket monitor ZeroFox die soort e-posse en boodskappe en ongemagtigde sosialemedia-rekenings en verwyder enige materiaal wat veiligheid of privaatheid kan skend.

Kuberkrakers gebruik Zoom om sagteware te versprei wat die normale funk­sionering van jou rekenaar, tablet of foon ontwrig om onder meer persoonlike inligting te bekom.

Sidenko gee die volgende wenke vir veilige Zoom-oproepe en -vergaderings:

  • “Sluit” die aanlyn raadsaal vir indringers met wagwoorde en versoek bekragtiging van die deelnemer se identiteit;
  • Beperk die skermdeel-funksie tot gemagtigde deelnemers;
  • Wees versigtig met wat op die agtergrond vertoon word. Verwyder liefs foto’s van jou kinders of goed wat jy nie wil hê mense moet sien nie;
  • Maak seker daar is nie enige private gesprekke of e-posse op jou skerm voordat jy jou skerm deel nie;
  • Skep ’n wagkamer wat jou meer beheer sal gee oor wie die vergadering kan binnekom. So sal jy ook indringers kan uitskop; en
  • Gaan die stellings van jou rekenaar of foon na – Zoom het byvoorbeeld verskillende stellings vir ’n rekenaar en ’n selfoon.
Eric Yuan (middel), stigter en uitvoerende hoof van Zoom Video Communications (middel) op 18 April 2019 met die maatskappy se aanvanklike openbare aanbod by Nasdaq in New York. Zoom is tans nege keer soveel werd na sy aanvanklike $1 miljard-waardasie twee jaar gelede. Foto: Victor J. Blue/Bloomberg via Getty Images
Eric Yuan, stigter en uitvoerende hoof van Zoom Video Communications op 18 April 2019 met die maatskappy se aanvanklike openbare aanbod by Nasdaq in New York. Zoom is tans nege keer soveel werd na sy aanvanklike $1 miljard-waardasie twee jaar gelede. Foto: Victor J. Blue/Bloomberg via Getty Images

Zoom se aandeelprys het verlede jaar meer as verdriedubbel nadat dié videokonferensie-platform ’n huishoudelike naam geword het ná die uitbreking van Covid-19.

Die 51-jarige stigter, Eric Yuan, het onlangs op Forbes se lys van miljardêrs verskyn. Hy het Zoom in 2011 gestig.

The Wall Street Journal berig dat Yuan die afgelope week $6 miljard van sy aandele in Zoom – 40% van sy belang – na ongespesifiseerde ontvangers oorgedra het. Yuan was voor die transaksie die maatskappy se grootste aandeelhouer met ’n 15%-belang en stemreg van 40%.

Die maatskappy verwag sterk groei in die komende jaar – selfs al word inperkings verslap namate inentings teen Covid-19 styg. Inkomste sal na verwagting met meer as 41% styg.

Meer oor:  Zoom  |  Kuberkrakers  |  Tegnologie  |  Rekenaars  |  Internet  |  Video  |  Kuberaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.