Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Zuckerberg skuil glo agter Trump se TikTok-verbod

Daar word nou bespiegel dat Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, druk op Amerika se pres. Donald Trump geplaas het om ondersoek in te stel na die “gevaar” wat Facebook se Chinese mededingers inhou.

The Wall Street Journal het Sondag berig Zuckerberg het glo in Oktober 2019 privaat met Trump oor aandete vergader waartydens hy die “risiko’s van Chinese tegnologiemaatskappye” bespreek het, veral hoe dié maatskappye Amerikaanse ondernemings soos Facebook kan benadeel.

Zuckerberg het glo spesifiek melding gemaak van TikTok, die Chinese sosialemediaplatform wat nou in Trump se visier is.

Facebook kan moontlik voordeel trek uit ’n verbod op die gebruik van TikTok deur Amerikaners, iets wat Trump beplan tensy die maatskappy sy Amerikaanse belange aan ’n Amerikaanse onderneming soos Microsoft of Oracle verkoop.

TikTok het reeds meer as 100 miljoen gebruikers in Amerika en is veral gewild onder jong mense.

Facebook het vroeër vandeesmaand sy eie weergawe van TikTok binne Instagram bekend gestel.

Instagram Reels, wat gebruikers in staat stel om video’s van tot 15 sekondes lank te deel, is tot dusver louwarm ontvang.

ByteDance ‘soek nog koper vir TikTok’

Intussen berig Reuters ByteDance, die Chinese tegnologiemaatskappy wat TikTok besit, se eie beleggers beplan om saam te poel om die platform se Amerikaanse bedrywighede te koop.

ByteDance is reeds die afgelope paar weke in druk samesprekings met verskeie Amerikaanse ondernemings om sy Amerikaanse belang in TikTok van die hand te sit.

Trump het ByteDance beveel om dit te doen, of hy belet die app in Amerika.

Trump voer aan TikTok hou, nes Huawei, ’n risiko in vir Amerikaners siende dat die maatskappye albei Chinees is.

As alles volgens plan verloop, sal ByteDance se bestaande aandeelhouers, insluitend die beleggingsfirma General Atlantic, ’n beherende belang in die “nuwe” TikTok behou terwyl ’n Amerikaanse onderneming soos Microsoft ’n minderheidsbelang besit.

Die waarde van die belang in TikTok wat te koop is, beloop tussen $25 miljard en $30 miljard.

TikTok beplan om Trump se uitvoerende bevel in ’n Amerikaanse hof te beveg. Foto: Getty Images
TikTok gaan hof toe

TikTok het Saterdag aangekondig hy beplan ook om Trump se bevel (dat hy van sy Amerikaanse belang ontslae moet raak) in die hof te beveg.

Die maatskappy sou glo so gou as Maandag ’n dringende versoek by ’n Amerikaanse hof indien.

Volgens TikTok probeer hy reeds vir “byna ’n jaar” om samesprekings met die Amerikaanse owerhede te voer, maar sonder sukses.

“Om te verseker die wet word nagekom en ons maatskappy en gebruikers word regverdig behandel, het ons geen ander keuse as om die uitvoerende bevel deur die regstelsel te laat beveg nie,” sê TikTok in ’n verklaring.

Kragtens Trump se uitvoerende bevel op 14 Augustus het ByteDance 90 dae om sy belang in Amerika te verkoop.

TikTok beplan glo om sy belange in Amerika, Australië, Kanada en Nieu-Seeland saam te verkoop sou hy gedwing word om dit wel te doen.

Al vier die lande het tot ’n mate ’n aversie teen Chinese ondernemings met Australië en Nieu-Seeland wat ook reeds die gebruik van Huawei se toerusting in sy 5G-netwerke erg ingeperk, en in sommige gevalle selfs verbied het.

Huawei word daarvan beskuldig dat hy op ander lande se inwoners namens die Chinese regering spioeneer. Hy ontken dit ten sterkste. 

Meer oor:  Tiktok  |  Facebook  |  Mark Zuckerberg  |  Donald Trump  |  Sosiale Media  |  Verbod  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.