Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Skuif opsy, Tim Noakes, want...
Aartappelbedryf is R18 miljard werd
Nie net goed vir die ekonomie nie, maar ook vir die dieet: Aartappels is ryk aan minerale soos magnesium, fosfaat, kalium en yster en bevat net 0,1% vet per porsie van 100 g. Foto: Vida Booysen

Aartappels is steeds ’n stapelvoedsel in Suid-Afrika, ondanks die groot aanhang van diëte wat ’n lae inname van koolhidrate aanbeveel.

Statistieke wat deur Aartappels Suid-Afrika (ASA) bekend gemaak is, bereken dat die aartappelbedryf in Suid-Afrika ’n enorme R18 miljard werd is.

Boonop groei die per capita-verbruik van aartappels elke jaar met tussen 2% en 3%.

“Dié verstommende produksie- en verbruik-statistieke beklemtoon opnuut dat aartappels steeds ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse maaltyd is,” sê prof. André Jooste, hoof van ASA.

Hy sê die bedryf besef daar is steeds wanopvattings oor aartappels se rol in die dieet, maar dat dié groentesoort ’n belangrike rol vervul om voedselsekerheid te bewerkstellig.

Prof. Tim Noakes, skrywer van The Real Meal Revolu­tion, se bekende hoëvet-en-laekoolhidraat-dieet raai mense aan om sommige groente, soos aartappels, beet en ertjies, uit te sny.

Jooste sê die primêre aartappelbedryf dra reeds ’n stewige R3,6 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by, en skep jaarliks tussen 60 000 en 80 000 tydelike en permanente werkgeleenthede.

Omdat die aartappelbedryf ’n groot welvaartskepper in die landbousektor is, is ASA verbind tot transformasie, sê Jooste.

“Een van ASA se kernfokusgebiede is die ontwikkeling van ondernemings om ontluikende kommersiële aartappelboere te ondersteun, terwyl ons ook sterk klem op die ontwikkeling van vaardighede lê.”

Aartappels word in 16 produksiegebiede in die land verbou en dra 38% by tot die totale inkomste wat uit groenteverbouing in Suid-Afrika verkry word, volgens ASA se verklaring.

Die 2,24 miljoen ton wat per jaar geproduseer word, is byna gelykstaande aan die gesamentlike produksie van tamaties, uie, soetmielies en groen groentesoorte, wat 40% van die groentesektor se totale inkomste beloop.

“In die groente-en-vrugtesektor van die landbou dra aartappels tot 13% van die bruto waarde by.

“Dit beteken dat aartappelboerdery die derde grootste bedryf in hierdie sektor is, naas sagtevrugte en tropiese vrugte,” sê Jooste.

Hy wys daarop dat die aartappelbedryf die hele jaar lank die plaaslike mark teen bekostigbare pryse kan voorsien.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.