Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Boere moet planne maak vir hernubare energie’
'n Windturbine op die Hopefield-windplaas in die Wes-Kaap. Foto: Jaco Marais

Boere is bekend daarvoor dat hulle kan planne maak, en boere se planne wérk.

Die huidige energietekort in die land skep juis ’n ideale geleentheid vir boere met planne om betrokke te raak by die hernubare-energiesektor en ’n nuwe inkomstestroom vir hul boerdery te vind, sê Demetri Pappadopoulos, voorsitter van Fusion Energy, ’n maatskappy wat kyk hoe boere in die toekoms self krag kan opwek én verkoop.

Lees ook: SA se wind en son is pasgemaak vir kragbehoeftes

Hy is by verskeie landbouprojekte betrokke wat krag opwek met windenergie, asook die gebruik van biomassa.

Pappadopoulos het op Landbouweekblad se landbou-kongres in Bloemfontein gesê geeneen van die land se nuwe hernubare-energieprojekte wat die laaste jare in Suid-Afrika ontwikkel is, kon sonder samewerking met die landbousektor gebeur nie.

“Ek verstaan daar is meer as 100 projekte wat in die laaste ronde gebie het. Al hierdie projekte behels die huur van plaasgrond en sou nie sonder betrokkenheid van die landbousektor kon ontwikkel nie. Elke nuwe projek benodig ook infrastruktuur, wat op plase opgerig word.”

Die huidige energietekort behoort dus nie net as iets negatiefs beskou word nie, maar as ’n reusegeleentheid vir boere om betrokke te raak by die hernubare-energiesektor, wat die afgelope drie jaar ’n kapitaalinspuiting van R200 miljard vir die ekonomie beteken het.

Ek glo ons kragnetwerk sal oor tyd baie meer oop raak, en regulasies sal verslap.
Demetri Pappadopoulos, voorsitter van Fusion Energy

“In Suid-Afrika moet ons nie wag vir die regering nie, ons moet ons eie oplossings skep. Kyk na die gebied waar jou plaas geleë is. In die Wes-Kaap sal sonkrag nie noodwendig werk, maar dalk kan biomassa- of hidrokrag ingespan word om krag op te wek, of ’n hibriede kragopwekkingstelsel kan opgerig word,” sê Pappadopoulos.

Hy wys daarop dat Suid-Afrika teen 2030 tot 30 000 MW meer elektrisiteit sal benodig as nou, en dat Medupi en Kusile saam net meer as 10 000 MW sal lewer.

Daarby sal sommige van die ouer kragstasies binne vyf jaar nie meer bedryf kan word nie.

“Waar gaan die bykomende krag vandaan kom? Ek glo ons kragnetwerk sal oor tyd baie meer oop raak, en regulasies sal verslap om toe te laat dat oortollige krag wat deur onafhanklike kragprodusente opgewek word, aan die netwerk verkoop kan word. Ondersoek dus jou eie bedrywighede en jou plaas, en kyk waar iets kan werk.”

Hy waarsku egter dat daar steeds heelwat praktiese struikelblokke is wat onafhanklike kragprodusente sal moet oorkom om by die nasionale kragnetwerk in te skakel.

“Hou in gedagte dat die hernubare-energiesektor geweldig vinnig gegroei het die afgelope drie jaar, en dat dit druk op Eskom se bestaande stelsel geplaas het. Nuwe substasies is byvoorbeeld nou nodig om die bykomende krag wat uit die hernubare-energiesektor kom, te kan hanteer.”

In praktyk beteken dit dat ’n belegging wat nou in die hernubare-energiesektor gedoen word, tot vyf jaar kan neem om ’n opbrengs te toon, waarsku Pappadopoulos.

Maar in ’n tyd waar boere hul risiko probeer diversifiseer en volhoubaar moet bly te midde van droogtes, bied ’n belegging in hernubare-energieprojekte ’n goeie uitkoms.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.