Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Brande: Grondeienaars moet wet ken
Instandhouding van brandstroke verpligtend
’n Weghol-brand is vir enige boer ’n nagmerrie en saai voor die voet verwoesting - weiding, heinings, droë lande, strukture, masjinerie en toerusting. Hier is alles wat boere moet weet, van die Brandwet tot versekering.
Veldbrande kan vir boere 'n nagmerrie wees. Foto: Marisa Fockema

Boere moet kennis neem van die belangrikste bepalings van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande 101 van 1998 (bekend as die Brandwet).

Die doel van die Brandwet is om veld-, bos- en bergbrande oor Suid-Afrika heen te voorkom en te bestry. 

Ingevolge die Brandwet kan grondeienaars ’n vereniging, bekend as ’n brandbeskermingsvereniging (BBV), vorm met die doel om veldbrande te voorspel, voorkom, bestuur en blus. 

’n BBV word by die minister geregistreer en moet onder meer na die volgende omsien:

■ Die ontwikkeling van ’n veldbrandbestuurstrategie vir sy gebied en toepassing daarvan.

■ Organisering en opleiding van sy lede in die bestryding, bestuur en voorkoming van brande.

■ Opleiding en steun aan die gemeenskappe in hul pogings om veldbrande te bestuur en beheer.

■ Gereelde uitreiking van die brandgevaaraanslag aan sy lede.

Lidmaatskap van ’n BBV is nie verpligtend vir ’n boer nie, terwyl alle grondeienaars in ’n gebied waarvoor ’n BBV gevorm is, wel die reg het om hulle by die BBV aan te sluit mits hulle onderneem om by die grondwet en reëls te hou.

Daar rus ’n plig op elke eienaar op wie se grond ’n veldbrand kan ontstaan of van wie se grond ’n veldbrand kan versprei, om ’n brandstrook aan sy/haar kant van die grens tussen sy/haar grond en enige aangrensende grond te maak en in stand te hou. 

Die maak van brandstroke word slegs ’n sekere tyd van die jaar toegelaat en geskied ordelik in ooreenstemming met die reëlings van die BBV en die vereistes van die Brandwet.

Vereistes van die Brandwet oor brandstroke

■ Dit moet breed en lank genoeg wees om ’n redelike kans te hê om te voorkom dat ’n veldbrand na of van naburige grond versprei.

■ Dit moenie gronderosie veroorsaak nie.

■ Dit moet redelik vry van brandbare materiaal wees.

Boere voer dikwels aan brandstroke is ondoeltreffend in ’n verwoestende veldbrand wat deur sterk wind aangedryf word. 

Veldbrande het al dikwels met gemak oor die N1 versprei waar dit uit dubbelbane vir verkeer in teenoorgestelde rigtings bestaan. 

Dit doen egter geen afbreuk aan die plig wat op grondeienaars rus om wel brandstroke aan te bring nie. 

Dit ly geen twyfel nie dat brandstroke wel ’n belangrike rol het by die blus van brande, veral in die omgewing waar dit ontstaan en wanneer dit geblus word sodra die wind ligter begin waai.

Boere moet ook in gedagte hou dat elke grondeienaar op wie se grond ’n veldbrand kan ontstaan of van wie se grond dit kan versprei, verplig is om oor die nodige toerusting, beskermende klere en opgeleide personeel vir die blus van brande te beskik.

Verder moet hulle verseker  dat  daar  in  hul  afwesigheid verantwoordelike mense op of naby hul grond is om in die geval van ’n brand te help met die blus daarvan.

Boere kan hulle só beskerm

Geboue, toerusting, landerye, heinings - 'n brand sal alles voor die voet vernietig, en boonop lewens in gevaar stel.

’n Wegholbrand is vir enige boer ’n nagmerrie en saai verwoesting terwyl dit – aangejaag deur sterk wind – weiding, heinings, droë lande, strukture, masjinerie en toerusting vernietig of beskadig.

Veldbrande is veral vir vee- en wildboere ’n reuse- ekonomiese bedreiging en het ook ’n invloed op voedselsekerheid.

Die verlies weens veldbrande in 2012 net in die Vrystaat is gelykstaande aan drie maaltye bestaande uit ’n porsie vleis van ongeveer 250 g per maaltyd vir ’n bevolking van ongeveer 50 miljoen mense. Die meeste veldbrande ontstaan tussen 10:00 en 17:00.

Die oorsake van brande is legio en dit hou dikwels verband met sigaretstompies, stortingsterreine, plaaswerkers, motorongelukke, oorhoofse kraglyne, vure wat gemaak word om mense warm te hou, piekniekvure, elektriese toerusting soos sweismasjiene en kwaadwilligheid.

Boere beland gereeld in die moeilikheid weens dit wat hul werkers in die uitvoering van hul pligte doen en soms selfs terwyl die boer nie eens tuis is nie.

Die vraag wat onwillekeurig ontstaan, is hoe boere hulle teen die potensieel vernietigende invloed van ’n wegholbrand kan beskerm.

Aspekte waarop boere moet let:

■ ’n Goeie begin sou wees om hulle by die plaaslike Brandbestrydingsvereniging (BBV) aan te sluit.

Boere moet seker maak hulle beskik oor die nodige versekeringsdekking teen risiko’s van dié aard.

■ Dit is nie duur vir ’n boer om aan ’n BBV te behoort nie en die meeste BBV’s is goed georganiseerd, bied die geleentheid om deel te wees van ’n georganiseerde poging of plan sou daar veldbrande wees en bied opleiding, asook raad, aan hul lede oor die toepassing van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (wet 101 van 1998). Dié wet maak voorsiening vir swaar strawwe sou grondeienaars versuim om daaraan te voldoen deur byvoorbeeld nie die voorgeskrewe brandbane te maak nie.

 Dit is belangrik dat boere verstaan wat die voorwaardes van hul versekeringsdekking behels aangesien dit dikwels groot verdriet veroorsaak wanneer boere, normaalweg ná ’n verwoestende veldbrand, vasstel die versekeraar weier om dekking te verleen, omdat daar nie aan die polisvoorwaardes voldoen is nie. 

Baie van die polisse vereis byvoorbeeld dat boere, alvorens hulle op dekking kan aanspraak maak, lede moet wees van hul plaaslike BBV’s en moet voldoen aan die Wet op Veld- en Bosbrande.

Boere moet dus tyd maak om hul makelaar te spreek en seker te maak hulle word beskerm by wyse van die toepaslike dekking en verstaan wat dit behels.

​Veldbrande kan sak behoorlik ruk

Velbrande kan boere duur te staan kom.

Presies hóé duur is ’n paar jaar gelede weer uitgespel deur die volbank van die Wes-Kaapse hooggeregshof in die appèlsaak van Kasper vs. André Kemp Boerdery BK.

Die saak het gegaan oor ’n veldbrand wat ontstaan het op die verweerder se plaas geleë tussen die dorpe Uniondale en Avontuur in die Suidwes-Kaap. Die brand het daarna na die eiser se aangrensende plaas versprei en eindelik na verskeie ander plase. Groot skade is aan fynbos, lyndrade en besproeiingspype aangerig.

Die verweerder het ’n stuk land skoongemaak waarop hy van voorneme was om te plant. Die boer het aan sy werknemer opdrag gegee om die los plante en ongewenste plantmateriaal in hope op die land bymekaar te maak waarna die droë onkruid in ’n nabygeleë donga gegooi sou word.

In ’n stadium het die boer sy plaas tydelik verlaat, maar aan sy werknemer opdrag gegee om met die skoonmaakproses voort te gaan.

In sy afwesigheid het sy werknemer afgewyk van die boer se spesifieke instruksies om die droë plantmateriaal in die donga te gooi en besluit om die hope plantmateriaal op die land aan die brand te steek.

Die werknemer het met die aansteek van die plantmateriaal ’n oordeelsfout begaan – die Weerburo het brandgevaarwaarskuwings vir die gebied uitgereik. Dit was ’n droë jaar in die Langkloof en met ’n sterk bergwind wat gewaai het met ’n temperatuur van ongeveer 35ºC het die brand dadelik opgevlam en buite beheer geraak.

Die boer het aangevoer hy was nie daar toe sy werknemer die brand begin het nie en dat hy geen opdrag aan hom gegee het om betrokke te raak by die brand van plantmateriaal nie. Sy werknemer het sy opdragte verontagsaam. Die vraag was of die boer steeds aanspreeklikheid kan hê in ’n geval waar sy werknemer strydig met sy instruksies opgetree het.

Die hof het bevind die werknemer het net ’n verbod verontagsaam wat betrekking het op die wyse van optrede binne sy diensbestek en dat die verbranding van die droë onkruid in die betrokke omstandighede, objektief beskou, nie beskou kan word as ’n afwyking van sy diensbestek in die mate dat die boer aanspreeklikheid kon ontkom nie. Hy het, deur die verbranding van die onkruid op die land, hom nie volkome van sy verpligtinge ingevolge sy dienskontrak gedistansieer nie.

Hoewel hy strydig met die boer se instruksies opgetree het, het hy aan sy werkgewer se sake gewerk toe die onregmatige daad gepleeg is.

Daar is beslis die boer is wel aanspreeklik vir die nalatige optrede van sy werknemer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.