Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Wynbedryf
‘Die vroegste pars in 49 jaar’
“Dit was die egaligste bot en een van die mooiste dinge wat ek nog in my lewe gesien het,” sê Jan Boland Coetzee, ’n man wat graag gesels oor die wisselwerking tussen ure in die wingerd voor pars (die mens se aandeel) en die o
Ons oes nou gelyktydig ­merlot en pinot noir – dit is ­ongehoord!
Jan Boland Coetzee, wynlegende

Die Suid-Afrikaanse wyn­bedryf beleef een van die vroegste oeste in dekades, met druiwe wat tot ’n maand vroeër gepars word as verlede jaar.

Wynmakers gaan waarskynlik selfs hierdie jaar Paasfees kan vier – ’n luuksheid wat gewoonlik deur laat rypwordende kultivars soos cabernet sauvignon gepypkan word.

Hoe so?

VinPro se hoof van wingerd­kundige konsultasiedienste, Francois Viljoen, verduidelik dat die Wes-Kaap die derde jaar agtereenvolgens ’n ideale winter beleef het, met genoeg koue-een­hede om ’n egalige bot te ver­seker en voldoende reën om die damme vol te maak.

Dit was die warm Augustus wat veroorsaak het dat die wingerde so vinnig uit die blokke was, hoewel ’n koeler September en Oktober die brieke ietwat aangedraai het.

Viljoen voorsien dat die algehele oes vanjaar ligter sal wees as 2014 se rekord, maar hy is baie positief oor die gehalte van die druiwe.

’n Lekker ou Jan

Die oud-Springbok en wynlegende Jan Boland Coetzee van ­Vriesenhof verduidelik dat dit die vroegste pars is wat hy in sy 49 jaar as wynmaker beleef het.

“Dit was die egaligste bot en een van die mooiste dinge wat ek nog in my lewe gesien het,” sê Coetzee.

Selfs chardonnay, wat bekend is vir ongelyke bot, het volgens hom hierdie jaar homogeen die seisoen begin.

Dit lyk ook asof verskillende druifsoorte vanjaar nader aan mekaar ryp word, wat wynmakers laat bontstaan in die kelder.

“Ons oes nou gelyktydig ­merlot en pinot noir – dit is ­ongehoord!” beklemtoon Coetzee.

Die wynmakers wat Methode Cap Classique-vonkelwyne ­produseer – wat vereis dat die druiwe teen lae suikervlakke geoes word – is in sommige gevalle met hul baaibroek op die knieë gevang toe die druiwe oesgereed en hulle nog met vakansie was.

‘Dié oes is ’n abnormaliteit’

In die Swartland, waar heelwat van die wyndruiwe sonder besproeiing verbou word, is die wingerde veral deur lae reënval beïnvloed.

Eben Sadie van Sadie Family Vineyards vertel dat sy druiwe vanjaar deur die bank gemiddeld 2½ weke vroeër as die norm geoes word. “Hierdie oes was ’n absolute abnormaliteit. Ons was vroeër bekommerd dat die druiwe se sure gaan begin uitsak, maar sover trek die wingerde die wa deur die drif.”

Volgens Sadie het beperkte ­reënval gelei tot ’n lae verhaling, met besonder min sap in die druiwe.

Hy voeg egter by dat die gehalte iets uitsonderliks is.

“Dit is een van die jare wat ek altyd sal onthou. Hierdie oes is lig, maar sy is ’n prentjie,” sê Sadie.

Oranjerivier wyk nie af

Die Oranjerivier-streek, waar besproeiingswater geredelik beskikbaar is, het hierdie oesjaar nie soveel afgewyk soos in die Wes-Kaap nie.

Hier word ’n gemiddelde opbrengs teen goeie gehalte verwag.

 Heyns is die redakteur van die tydskrif WynLand en staan aan die stuur van kommunikasie by VinPro. Hy het ’n agtergrond as wynmaker, ’n MBA van Stellenbosch en werk aan sy PhD oor innovasie in die werkplek.

Groot verwagtinge

Die 2015-oesjaar het reeds heelwat verrassings vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf opgelewer.

Hoewel dit gevaarlik is om die gehalte van ’n oesjaar te vroeg te voorspel, is wynmakers tot dusver ingenome met die ontledings van dít wat reeds gepars is.

Terwyl heelwat wit druiwe en pinotage reeds aan die gis is, kan die volgende maand of twee nog ’n groot invloed hê op die druiwe wat nog aan die wingerd hang.

Dus, as jy ’n trekker met druiwe op die pad gewaar, wees maar geduldig en vriendelik. Daar is immers heelwat moeite, sorg en geduld in elkeen van daardie trosse. En dit sal dalk nog omskep word in iets om oor liries te raak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.