Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Brandpunte
Grondhervorming se vordering maar stadig
Die son sak oor 'n mielieland naby Bultfontein in die Wes-Vrystaat. Foto: Vida Booysen

Ondanks die feit dat die Suid-Afrikaanse regering miljarde rand aan grondhervorming bestee, bly die vordering maar stadig.

Dit blyk nou dat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dit net nie regkry om die instelling en afhandeling van grondhervorming te bespoedig nie.

Hierdie is een van die interessante feite wat geopenbaar is in die verslag oor ontwikkelingsaanwysers wat op 20 September 2015 deur die departement van beplanning, monitering en evaluasie in die presidensie bekend gestel is.

Lees ook:

​‘Suid-Afrika nie ’n tweede Zim’

​Grondplafonne: Wat SA régtig by ander lande kan leer

Die reeks aanwysers dui aan in watter mate die regering daarin geslaag het om ’n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners daar te stel. Statistiek oor ekonomiese groei, werkloosheid, staatskuld en misdaad is onder meer uitgelig.

Die syfers oor die vordering met grondhervorming is ’n openbaring – en ’n groot aanklag teen die amptenary in Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming se departement.

Volgens die verslag is daar in die eerste 10 jaar ná 1994 altesame 71 645 grondeise afgehandel. In die volgende dekade tot en met 2014 is daar slegs ’n verdere 6 000 grondeise afgehandel – ongeveer 600 eise per jaar. 

Wat is die rede vir hierdie afname en waarom kry die regering dit nie reg om al die eise af te handel nie? Die heropening van die grondeiseproses wat laasjaar deur die president aangekondig is (teen alle aanbevelings) sal egter nou veroorsaak dat die verwerking van eise wat teen 1998 ingedien is, nooit afgehandel word nie.

Dit is onverstaan-baar waarom Nkwinti steeds op nuwe onrealistiese en onuitvoerbare planne fokus.

In die grondherverdelingsprogram het die staat taamlik goeie vordering gemaak deur altesame 4 345 602 ha aan swart boere en huisgesinne oor te dra. Die verslag dui egter aan dat waar daar soveel as 506 000 ha per jaar in 2007-’08 oorgedra is, is daar in 2013’-14 net sowat 153 000 ha aan begunstigdes oorgedra.

Dít ondanks miljarde rand wat aan grondhervorming bestee is. In sommige gevalle het die staat wel grond aangekoop maar dit is nooit aan die nuwe eienaars oorgedra nie en in ander gevalle het die burokrasie die prosesse só vertraag dat dit soms tot drie jaar neem om ’n stuk grond ná identifisering uiteindelik oor te dra. En ons moet onthou dit is nie weens die boere wat onwillig is om te verkoop nie. Die kooptransaksies word gewoonlik binne ’n maand beklink.

In die lig van die stadige vordering van die grondhervormingsproses is dit onverstaanbaar waarom Nkwinti steeds op nuwe onrealistiese en onuitvoerbare planne fokus.

Dit verhoog net onsekerheid in die landbou en die ekonomie en kortwiek uitbreiding en verdere investering wat broodnodig is vir ekonomie groei en verhoogde indiensneming. Die nuutste voorbeeld hiervan is die konsepwetgewing wat ’n beperking op grondeienaarskap daar stel – bekend as die “Regulation of Land Holdings Bill”.

Die instel van grondplafonne is deel van hierdie konsep en wil grond van boere onteien as hulle meer as ’n sekere maksimum besit. Die voorstel neem glad nie die belangrikheid van optimale boerdery-grootte in ag nie en duidelik is daar geen begrip vir die variasie in gehalte van grond, mikro-klimaat en produksiepotensiaal van verskillende stukke grond nie. Die wetgewing sal katastrofies wees indien dit beoog om een plafon vir die hele land op te stel.

Dit sal grootliks verarming van die landbou beteken en veroorsaak dat ekonomiese groei verder sal insink. Voordat hierdie konsepwetgewing verder geneem word, sal dit belangrik wees dat die georganiseerde landbou vir Nkwinti en sy span deur ’n paar eenvoudige boere-somme neem om te verstaan wat die impak van sy voorstelle sal wees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.