Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Grondplafonne: Wat SA régtig by ander lande kan leer
Dis nie genoeg om te hoop Suid-Afrika kan ander lande se foute vermy nie - dinge moet van die begin af reg gedoen word, sê dié landbou-ekonoom.
Thabi Nkosi

Ander ontwikkelende lande se ervaring met ’n grondplafonbeleid behoort as ’n waarskuwing vir Suid-Afrikaanse beleidsmakers te dien en kan dit nie regverdig nie.

Gugile Nkwinti, minister van grondhervorming en lande­like ontwikkeling, het onlangs gesê sy departement se voorstelle oor ’n grondplafonbeleid is gegrond op internasionale studies. 

Lees ook: ​Grondplafon-plan: Boere mag dalk ekstra grond huur

Die studies wat Nkwinti uitgelig het, verwys na die herverdelingsvoordele van grondplafonne soos ervaar in ontwikkelende lande soos Mexiko, Taiwan, Chili, Roemenië en Egipte.

In dié lande is grond inderdaad aan arm huishoudings oorgedra en dit het in ’n mate tot groter gelykheid in grondbesit gelei. Die begunstigdes het egter meestal nie volle grondbesitregte gekry nie en die studies toon nie wat die impak daarvan op produktiwiteit en landbouproduksie was nie.

Produktiewe gebruik

Ons kan dus nie seker wees of die beleid werklik armoede verlig het nie. Klaarblyklik was die doel bloot om grond te herverdeel, sonder om ekonomiese bemagtiging deur die produktiewe gebruik daarvan die kern te maak. Hoe kan dié lande se grondplafonbeleid as ’n voorbeeld vir ander dien?

Sedert die moontlikheid van beperkings op grondbesit in 2012 genoem is, het kritici nie net die ekonomiese uitwerkinge van grondplafonne betwis nie, maar ook gesê dit is onprakties en moeilik om af te dwing. 

Hulle meen so ’n beleid sal nasionale voedselsekerheid bedreig, boere se vermoë om voordeel te trek uit skaalbesparings kniehalter en grondmarkte ernstig verwring.

Daar is fundamentele vrae oor die beleid wat nog nooit beantwoord is nie: 

  • Wat presies behels ’n “lewensvatbare” plaasgrootte? 
  • Watter gedeelte van ’n plaas gaan as “surplus” beskou word? 
  • Hoe sal landbouproduktiwiteit volgehou word gegewe die gebrek aan ondersteuning wat kleinskaalse landbouprodusente tot nou ontvang het? 

Wat is grondplafonne?

Dié beleid behels dat plafonne geplaas moet word op die grootte van plaaseiendom volgens drie kategorieë: 

  • Vir kleinskaalse plase moet die plafon vir ’n “lewensvatbare” kommersiële kleinskaalse plaas 1 000 ha wees;
  • 2 500 ha vir mediumgrootte plase; en 
  • 5 000 ha vir grootskaalse plase. 

Enige oortollige stukke grond tussen elk van hierdie kategorieë en bo 12 000 ha sal onteien en herverdeel word.

Grondeiendom van tot 12 000 ha sal toegelaat word binne drie kategorieë van grondgebruik: bosbou, wildboerdery en hernieubare-energie-plase)

Toegewings ten opsigte van die groottes kan oorweeg word vir sommige boerdery-ondernemings – suiker, druiwe, groente, vrugte en tuinbou – wat meer as R5 miljoen per jaar genereer.

Wetgewing omseil

Die Filippyne is ’n voorbeeld waar ernstige produktiwiteitsverliese weens grondplafonwetgewing ervaar is.

In ’n onlangse studie het ekonome aan die Universiteit van Toronto in Kanada die algehele impak van die grondplafonbeleid, wat in 1988 in die Filippyne ingestel is, op plaasgrootte en landbouproduktiwiteit gemeet.

Daarvolgens het dit gelei tot ’n afname van sowat 34% in die gemiddelde grootte van plase, maar dit het terselfdertyd ook landbouproduktiwiteit met 17% verlaag.

Die navorsers het ook bevind ondanks die grondplafonwetgewing het groot plase steeds oorgewend voorgekom, omdat die wetgewing omseil kon word.

Die grondplafonprogram kon ook nie binne die beplande tyd in werking gestel word nie, want dit het soveel gekos dat die staatsgeld wat daarvoor opsy gesit is, ’n paar keer “opgedroog” het.

Laat mense slegter af

Ongelykheid, veral met betrekking tot grondbesit, is beslis nie eie aan Suid-Afrika nie.

Baie lande wat dié kwessie probeer aanpak het, het besef dat ’n goedbedoelde maar ondeurdagte grondherverdelingsbeleid maatskaplike welsyn versleg het. Dit het hul mense in slegter omstandighede gelaat.

Die ondervinding in verskeie lande toon dat ’n grondplafonbeleid gepaard gaan met onvoorsiene probleme met die inwerkingstelling daarvan, asook onbedoelde verlies aan produktiwiteit. 

Die probleme kom voor ongeag hoe die benadering tot grondplafonne aangepas is, byvoorbeeld met grondwetlike wysigings in Indië en groter grondplafonne in Pakistan.

Ons behoort die uitkomste van grond-plafonbeleid in ander lande as ’n streng waarskuwing te beskou en eerder ons eie oplossings vind.
Thabi Nkosi

Leer uit foute

Selfs voorstanders van grondplafonne maak melding van gemeenskaplike uitdagings om dit in werking te stel soos die onvermoë om werklik ’n impak op eienaarskapsdemografie te hê, die onvermoë van die staat om grondbesit akkuraat te bepaal aangesien grondrekords swak bygehou is en litigasie wat vordering vertraag.

Suid-Afrika is in die gunstige posisie om nog te kan leer uit die foute van ander lande. Dit is iets wat ons nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie, veral gegewe ons brose sosiaal-ekonomiese situasie.

Plaaslike rolspelers in die landbou het reeds ander moontlikhede voorgestel wat tot die bedoelde uitkomste kan lei – met minder ontwrigting.

AgriSA het aanbeveel die uitbreiding van megaboerdery-ondernemings (plase met ’n jaarlikse omset van meer as R50 miljoen) moet ingevolge gedeelde eienaarskapsooreenkomste tussen bestaande eienaars en die nuwe toetreders toegelaat word. Dit sal verseker dat die skaalvoordele behoue bly; vaardighede gedeel word en doeltreffendheid nie aangetas word nie.

Gegewe die klein winsmarges wat in die landbou geld, moet plase groter en groter word om ekonomies lewensvatbaar te bly.

Eie oplossings

In die lig van die swak prestasie van grondplafonbeleid in die meeste lande waar dit toegepas is, moet ons ernstig dink of ons wil voortgaan met dié beleid. Ons behoort die uitkomste van grondplafonbeleid in ander lande as ’n streng waarskuwing te beskou en eerder ons eie oplossings vind. 

Ons kan nie net hoop ’n paar klein aanpassings in die grondplafon-benaderings wat deur ander lande gevolg is, sal ons beskerm teen vernietigende uitkomste nie. Suid-Afrika kan in dié stadium bloot nie bekostig om dié kans te waag nie.

 Thabi Nkosi is ’n senior ekonoom by AgriSA.

Lees ook: ​5 vrae aan AgriSA se senior landbou-ekonoom

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.