Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Toerisme
Karoo: Gee dié stiefkind bietjie liefde
Dorpe moet saamwerk om dié streek te bemark
Die uitdagings waardeur die Karoo-ontwikkelingstigting (KOS) sedert sy totstandkoming vyf jaar gelede in die gesig gestaar word, is enorm. Theuns Botha het die tweede “Karoo-parlement” vandeesmaand in Cradock bygewoon en met prof. Doreen Atkinson, sekretaris van die stigting, gesels.
Die Karoo beslaan 12 miljoen hektaar of een derde van die land se oppervlakte wat oor vier provinsies strek. Die afgelope vyf jaar word probeer om die ekonomie en die lewensgehalte van die inwoners deur ’n geïntegreerde beplanningsr
Prof. Doreen Atkinson
​Vat hande vir toerismebedryf in die Karoo

Caroline Ungersbock van die Sustainable Tourism Partnership Programme (STPP) het vroeër vandeesmaand in Cradock ’n duidelike boodskap oor toerisme in die Karoo verkondig: “Hoe gouer rolspelers besef dat toerisme nie in isolasie bedryf kan word nie, hoe beter sal dit vir almal wees wat ’n bestaan daaruit maak.”

Die STPP is ’n geaffilieerde lid van die VN se Wêreldtoerisme-organisasie (UNWTO).

Ungersbock het mense in die gasvryheidsbedryf aangemoedig om waar moontlik van plaaslike verskaffers gebruik te maak.

“As daar byvoorbeeld dertig gastehuise in ’n distrik is, waarom bemagtig hulle nie iemand in die gemeenskap om vir hulle seep en sjampoe te maak eerder as om dit elders te gaan koop nie?

“Seep is seep, bloot deur dit in ’n ander verpakking te sit kan dit ’n unieke identiteit hê.

“Die gebruikte seep kan herwin word en aan ’n plaaslike hospitaal of welsynsorganisasie geskenk word.”

Sy het ook verwys na die Mount Nelson-hotel in Kaapstad wat al sy groente en kruie van gemeenskapstuine in Khayelit­sha aankoop en die plaaslike gemeenskap sodoende bemagtig.

Ungersbock, wie se onderneming onder meer kursusse op die platteland in volhoubare en ekovriendelike toerisme aanbied, het dit betreur dat baie van die sakeplanne wat deur die departement van toerisme geskryf word meestal op groot ondernemings betrekking het en daar nie op mikro-ondernemings in die bedryf gefokus word nie.

“Munisipaliteite kan ook meer doen om kleiner ondernemings by te staan deur rompslomp en die invul van ellelange vorms uit te skakel,” het Ungersbock gesê.

Toe die stigting in 2009 in Graaff-Reinet in die lewe geroep is, is hoë verwagtinge gekoester vir hoe die ekonomie van die streek en die welsyn van sy inwoners deur middel van ’n geïntegreerde beplanningsraamwerk nuwe skop sou kry.

In die jaar daarna het prof. Doreen Atkinson, sekretaris van die stigting, alles in die stryd gewerp om die doelwit te verwesenlik. Vrou-alleen het sy gekoukus met meer as 600 inwoners (onder wie beplanners en munisipale amptenare), ondernemings en gemeenskapsorganisasies – van die Gariepdam tot Carnarvon en van Cradock tot Beaufort-Wes. 

Die Karoo-toerisme-strategie wat daarna die lig gesien het, bevat aanbevelings van hoe die bates van die streek deur die totstandkoming van ’n Karoo-toerisme-agentskap uitgebou kan word. Dit sluit ’n databank van die bestaande toerisme-geleenthede en webwerwe in.

Dié meesterplan is ná voltooiing by die departement van toerisme ingedien, met die doel om dit te inkorporeer by sy oorhoofse beplanning om toerisme in die land te bevorder.

Atkinson erken egter dat dit steeds ’n opdraande stryd is omdat daar nie ’n gesamentlike visie bestaan van hoe die streek ontwikkel kan word nie. 

“Streekbeplanning is in die post-apartheid-era vervang deur rigiede provinsiale grense, wat meegebring het dat die Karoo as ’t ware die weeskind van ál vier provinsies geword het,” sê sy.

Kyk na Australië

Omdat ekostreke nie grense eerbiedig nie, het Atkinson ál die rolspelers in die Karoo probeer oortuig om gebruik te maak van die slim manier waarop die Australiërs hul hinterland bemark.

“Die Aussies het ’n organisasie gestig genaamd ‘Outback Australia’, met die slagspreuk ‘Living well in the desert’. In Alice Springs is ’n sentrum vir woestynkennis (desert knowledge precinct) waar navorsers en studente die kultuur, ekonomie, tegnologie en ekologie van die streek en sy inheemse bevolking, die Aborigines, kan bestudeer.

“Daar is ook ’n groot lughawe waar Boeings land en van waar besoekers dan op verskillende toere kan gaan. Ál drie state finansier die eenheid – die een streek word nie deur die ander bedreig nie. Hulle dink holisties.

“Beaufort-Wes, met sy goed toegeruste lughawe, kan die ­Alice Springs van die Karoo word, waarvandaan toere na die res van die streek aangebied kan word. Dit kan inskakel met ander belangrike Karoo-dorpe, soos Graaff-Reinet, Carnarvon, Cradock en Somerset-Oos. As ons dit hier kan regkry, sal dit ’n groot tree vorentoe wees.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan en die nasionale Wet op Ruimtelike Beplanning van 2013 maak vir streekontwikkeling voorsiening. Ideaal gesproke moet daar ’n onafhanklike oorkoepelende nie-politiese organisasie geskep word met verteenwoordigers uit ál vier provinsies. Só ’n organisasie kan as ‘Karoo Suid-Afrika’ bekend staan, om die hele streek te bemark en strategieë soos toerismeroetes, landbouplanne en natuurbewarings­korridors oor grense te bepaal.

“Dit sal die nasionale regering help om strategiese streekbates soos damme, riviere en lug­hawens beter te benut en om ’n streekidentiteit te skep wat die naam ‘Karoo’ beskerm deur streekmerke te registreer. Dit hóéf nie nóg ’n burokratiese empire te wees nie, en die administrasie kan uitgekontrakteer word,” meen Atkinson.

Nogtans besorg

Ondanks hierdie poging is sy steeds bekommerd oor die “eiland-denke” in baie Karoo-dorpies. By die tweede Karoo-parlement in Cradock was die drie hooftemas Karoo-toerisme, ’n Gesonde Karoo (Karoo Wellness) en die ekonomiese ontwikkeling van die streek.

In een van die werksessies was daar juis ’n bespreking oor hoe die voorgestelde Olive Schreiner-roete nie net Cradock nie, maar ook Colesberg, Middelburg, Hanover, De Aar en Matjiesfontein moet insluit. Hierdie dorpe behoort hul kragte saam te snoer, sodat almal daarby kan baat vind.

“Die fokus van die KOS is dus nie nét die ontwikkeling van Karoo-toerisme nie. Daar word ook gefokus op maatskaplike probleme, soos grootskaalse werkloosheid in dorpe en die gepaardgaande sosiale euwels soos fetale alkoholsindroom , dwelmmisbruik en die mishandeling van vroue en kinders.”

Voorstelle

By die parlement was ook aanbiedings oor hoe die verskillende dorpe hul vullisherwinning gesamentlik kan hanteer om die ekonomie van skaal te bewerkstellig; asook oor wat onderling geleer kan word om die sentrale sakesentrum op elke dorp aantrekliker vir besoekers te maak.

“Hoe groter daar gedink word en grense tussen dorpe afgebreek word, hoe voordeliger sal dit vir almal wees,” voeg Atkinson by.

Die uitdagings

Met uiters beperkte borgskappe en skenkings was die afgelope vyf jaar ’n moeisame reis vir die stigting. Die medewerkers en trustees van die KOS beoefen ander beroepe en staan vrywillig tyd aan die organisasie af. “Dit is frustrerend, maar hou dalk ook goed in. Ons hoef nie ons siel te verkoop nie. Daar is nie die gevaar van politieke inmenging nie,” sê sy.

Ná twee konferensies en met twee Karoo-parlemente agter die rug is die suksesverhaal die sertifisering van Karoo-lam onder aanvoering van prof. Johann Kirsten, voorsitter van die KOS. Daar is van die bemarking van 20 lammers per week tot sowat 600 per week gevorder. Sien bladsy 5 vir ’n artikel hieroor.

Besoek gerus ​www.­kar​oofoundation.­co.­za vir meer inligting.

‘Bloed’ kan vloei op pad

“Indien die regering sonder verdere konsultasie lisensies aan maatskappye toestaan wat toetsgate vir die ontginning van skaliegas wil boor, sal dit in die hof getoets word. Die bloed sal spreekwoordelik nog vloei.”

Dít is die waarskuwing wat deur Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), gerig is.

As een van die sprekers by die tweede “parlement” van die Karoo-ontwikklingstigting (KOS) in Cradock het Deal gesê dit sal tot drie jaar neem voor enige toetsgate vir skaliegas in die land gesink sal word. “Ek vertrou dat die toenemende inligting oor die nadelige gevolge van skaliegasontginning in die buiteland regdenkende besluitnemers sal oortuig om nié daarmee voort te gaan nie.”

Deal sê hy is oortuig daarvan dat die maatskappye wat omr lisensies aansoek gedoen het om toetsgate te boor reeds finansieel daaronder ly en ontnugter is. Hy sê Falckon het reeds die helfte van sy aandele van sy Suid-Afrikaanse konsessie aan Chev­ron verkoop.

“Wat duidelik is, is dat die omgewingsimpakstudies van al drie maatskappye wat reeds om lisensies aansoek gedoen het, ernstige gebreke het. Hulle sal na die tekenbord moet teruggaan en weer moet konsulteer met die publiek, wat nou baie meer ingelig as drie jaar gelede is.”

Deal het uit die VSA terugekeer en beweer dat Shell in die staat New York regstreeks met inwoners om hul drinkwater vir hidrobrekeing meeding.

“Gegrond op hierdie onlangse optrede deur die maatskappy, is ons met reg skepties oor Shell se beloftes aan Suid-Afrikaners rakende die kwessie van water.

“Ek het baie brekingsterreine in Amerika besoek en nie een gesien wat selfs net amper in 150 m2 sal inpas nie. Al is dit standaardpraktyk om die impak van ontwikkelings as persentasies uit te druk, bly dit oneerlik. Dit klink of net 1% van die opervlakte ’n baie klein deeltjie van die grond gaan beïnvloed. Selfs al is dit waar, bly Shell doodstil oor die hoeveelheid grond wat deur ander multinasionale maatskappye vir menige ander gebruike ontwikkel sal word. Die hele prentjie moet in ag geneem word,” het Deal gesê.

■ Deal kan bereik word by 023 358 9903 of​ jdeal@telkk​omsa.net

Hidrobreking in Karoo nie goeie idee, sê kenner

Ons moet ons ook vinnig speen van steenkool en so gou as moontlik wegbeweeg van fossielbrandstof.
Prof. Stefan Cramer

“Hidrobreking in die Karoo is nie ’n goeie idee nie en ek kan bo en behalwe die maatskaplike en omgewingsrisiko’s waarop gedurig gehamer word, nog ’n hele klomp redes opnoem waarom ek so sê.”

Dít is die woorde van prof. Stefan Cramer, ’n omgewingskundige van die Universiteit van die Witwatersrand, wat die jongste inligting oor die groot hidrobreking-debat by die onlangse sitting van die tweede Karoo-parlement in Cradock bespreek het.

Cramer, ’n hidro-geoloog van Duitsland wat nou in Suid Afrika woon, gee toe dat nuwe energiebronne noodsaaklik is vir die land se toekoms. “Ons moet ons ook vinnig speen van steenkool en so gou as moontlik wegbeweeg van fossielbrandstof,” het hy gesê.

Hy het wind en sonkrag – die Karoo se onbeperkte bronne van hernubare energie wat grootliks nog onontgin is – as pluspunte uitgelig. 

Probleme

Cramer het ook klem gelê op die feit dat volledige tegnologie oor die veelbesproke hidrobreking nog ontbreek en dat daar beslis nie gepeuter moet word aan die Karoo se skaars en waardevolle waterbronne nie.

Hy het die gebrek aan nodige inligting, ’n tekort aan water, en verwerking van afvalstowwe bespreek. “Enorme hoeveelhede water word vir so ’n proses benodig en indien water van buite die Karoo aangery moet word, wonder ’n mens waar dit vandaan sal kom,” het hy gesê.

Hy het die gebrek aan infrastruktuur en vervoerlyne in die gebied genoem en bygevoeg dat daar tans nie eens ’n enkele meter lange gaspyplyn in die Karoo bestaan nie.

Voor- en nadele

Cramer het gesê hy gebruik die ondervinding, tegnologie en kennis wat hy in Noord-Afrika verwerf het om plaaslike gemeenskappe in te lig oor hidrobreking. Hy sê almal praat oor “hidrobreking in die Karoo”, maar niemand doen die moeite om die voor- of nadele vir die plaaslike gemeenskap te verduidelik nie.

Cramer bestee sy vrye tyd om opkomende boere, skole en munisipaliteite te besoek en voel oortuig dat kerke ook ’n leidende rol as kampvegter teen hidrobreking in die Karoo kan speel.

Volgens hom moet die toekoms van die Karoo nie gebou word op ’n hersinskim nie, maar op feite en syfers. “Die Karoo is een van die gebiede in die wêreld waar die gebruik van herwinbare energie die vinnigste toeneem en met die streek se baie wind en volop sonkrag kan dit eindelose geleenthede skep sonder om die planeet te vernietig,” het hy gesê.

Metaangas

Die stof wat rondom skaliegas in die Karookom opgeskop word, is bloot ’n rookskerm vir die ontginning van metaangas uit steenkool (coal bed methane) wat reeds in Lephalale in die Limpopo-provinsie sonder die nodige impakstudies gedoen word.

Cramer sê die ontginning van metaangas uit steenkoollae is ’n soortgelyke proses as hidrobreking vir skaliegas. “Hulle doen dit reeds die afgelope 10 jaar in Limpopo. Anglo American het ’n konsessie gekry om dit op ’n beperkte skaal te ontgin. Al rede waarom dit nog nie kommersieel gedoen word nie, is omdat die toepaslike wetgewing nog nie ingestel is nie en hulle ook nie die water- en mineraleregte verkry het nie.”

Hy meen indien toestemming om toetsgate vir skaliegas in die Karookom te boor eers toegestaan is, sal dit baie moeilik wees om die regte vir kommersiële produksie te weier.

Hy het egter daarop gewys dat die betrokke grondeienaars op wie se eiendom toetsgate geboor word eers vooraf hul toestemming sal moet gee. “Sou die eienaars weier, kan die maatskappy hulle tot die hof wend om die grond te onteien. Dit kan help om die proses te vertraag, soos wat die Australiërs suksesvol met hulle ‘toe-hek-beleid’ gedoen het.”

Shell

Cramer sê hy het waardering dat Shell meer openlik oor hul planne as die ander twee maatskappye is wat ook om lisensies aansoek gedoen het. “Uit sy ervaring in ander lande besef Shell dat hy nié nét die wetlike regte moet hê om hidrobreking te doen nie, maar ook ’n “so­siale lisensie” om die goedkeuring te kry van diegene wat geraak gaan word. Dit is waarom Shell moeite daarmee doen.”

Hy meen die ander twee maatskappye stel waarskynlik nie in die kommersiële produksie van skaliegas belang nie en gaan bloot as pro­spekteerders optree om later hulle regte aan die hoogste bieër te verkoop – dit kan Shell wees,” het Cramer gesê.

- Wilna de Klerk, Theuns Botha

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.