Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Koop SA melk, vra organisasie
Pryse nou laag, maar dit kan styg
Die prys van melk by die plaashek het onlangs met tussen 15% en 20% per liter gedaal. Foto: Vida Booysen

Pas op, suiwelverbruikers – hier kom ’n (duur) ding.

Dít is die waarskuwing wat die Melkprodusente-organisasie (MPO) onlangs aan die land se melksnor-brigade gerig het.

In ’n buitengewone stap het Nigel Lok, voorsitter van die MPO, ’n beroep op verbruikers gedoen om plaaslike melkboere te ondersteun en Suid-Afrikaanse suiwelprodukte te koop, terwyl dit so volop en betreklik goedkoop beskikbaar is.

Lees ook:

​Clover smaak weer melk en heuning

Só val boere met hul boude in die botter (en Banting help)

Plaashekpryse van melk het drasties met tussen 15% en 20% per liter gedaal, danksy besonder goeie klimaatstoestande in die land se grootste melkproduksie-streke, die Oos- en Suid-Kaap.

Dit het tot ’n oorproduksie van 10% in Augustus gelei.

“Melkproduksie sal egter binnekort inkrimp weens laer pryse en stygende insetkoste, veral van mielies,” sê Lok.

Dit kan weer tot ’n tekort lei wanneer die huidige surplus weggewerk is, en gevolglik kan die prys van melk vorentoe weer skerp styg.

Ons doen ’n beroep op melk- en suiwel-verbruikers om plaaslike melkboere te ondersteun deur Suid-Afrikaanse produkte te koop.

Boere beleef ’n koste-knyptang weens die lae melkprys en die hoë insetkoste, sê Dawie Maree, FNB se hoof van landbou-inligting.

“Die verhoogde mielieprys vloei nou deur in die voerpryse, so marges gaan nou onder druk kom. Weens die verswakking in die rand sal ander insetkoste ook verder styg en as die melkprys nie vinnig herstel nie, sal ons waarskynlik nog ’n paar melkboere verloor,” waarsku Maree.

Hy sê daar was vanjaar ’n verlaging van tot 60c per liter in die produsenteprys van melk. Die wanbalans tussen vraag en (oor)aanbod is verder aangeblaas deurdat 89 miljoen liter melk vanjaar ingevoer is.

Die invoer van UHT-melk uit veral Pole maak plaaslike produsente nogal suur.

Gideon Lamprecht, voorsitter van die MPO in die Vrystaat, het onlangs op die organisasie se Vrystaatse jaarkongres gesê hulle beskou die verwerker en die kleinhandel as vennote. “Waarom verwerkers van suiwelprodukte klaar verwerkte produkte invoer, wat lynreg teen hul kernbesigheid ingaan, maak nie vir ons sin nie.”

Suiwelboere in Pole sit ook met ’n oorskot nadat Russiese markte vir landbouprodukte uit die Europese Unie gesluit is uit weerwraak teen sanksies weens Russiese optrede in die Oekraïne.

Lok wys daarop dat Poolse melkboere ’n EU-subsidie ontvang en melk kan lewer teen ­laer pryse as die plaaslike produksiekoste.

Hy raai verbruikers aan om nie net na die handelsmerk van die produk te kyk nie, maar ook na die land van oorsprong, wat op die verpakking aangedui is.

“Ons doen ’n beroep op melk- en suiwelverbruikers om plaaslike melkboere te ondersteun deur Suid-Afrikaanse produkte te koop.

“Verbruikers sal op kort termyn by laer pryse baat vind weens die aanbodsituasie.”

Maree sê nóg ’n groot probleem vir plaaslike melkboere is dat sommige kleiner melkkopers tans ook onder druk is en dat hulle boere laat of geensins betaal nie. Dit belemmer weer boere se kontantvloei.

“Dit is onverantwoordelik en oneties van melkkopers om nie die verskaffers van hul grondstof betyds te betaal nie.

“As daar dan finansiële probleme by die koper is, dan behoort dit vroeër eerder as later aan die boere gekommunikeer te word,” sê Maree.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.