Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
swartvlek
SA en Europa praat oor sitrus
Pieter Nortjé, voorsitter van die Sitruskwekersvereniging, op sy plaas Sitrusrand by Kirkwood. Foto: Theuns Botha | Landbouweekblad

Hy bly hoopvol dat die sitrusmark in Europa nié vir Suid-Afrika verlore sal gaan nie, sê Pieter Nortjé, voorsitter van die Sitruskwekersvereniging (SGA).

Hy het pas uit die buiteland teruggekeer waar hy en Deon Joubert, die SGA se spesiale gesant met verskeie rolspelers, onder andere Spaanse produsente, vergader het.

Nortjé sê die Europese gesondheidsowerheid, Sanco, is steeds onder groot druk om nie die maatreëls wat hy teen vrugte met swartvlek ingestel het, te verslap nie.

“Aan die ander kant is daar ook druk op hulle van Suid-Afrika se handelsvennote, veral in die noordelike dele van Europa, wat nie Suid-Afrikaanse vrugte wil verloor nie.”

Hy sê die gesprek met die verteenwoordigers van die vyf grootste Spaanse produsente-organisasies het goed verloop.

“Ons ontvangs was goed en kanale is vir toekomstige gesprekke oopgemaak oor hoe ons mekaar kan akkommodeer. Ons het hulle versoek om nie ’n oorlog in die media te voer nie, maar eerder regstreeks met die SGA te skakel as hulle enige vrae het. Hulle is ook genooi om Suid-Afrika te besoek as hulle dit sou verkies.”

Nortjé sê die moeilikste pad is die skakeling met die departement van landbou in Suid-Afrika om ’n beter plan vir risikobestuur op die tafel te sit. “Die een wat nou daar is, is nie vir produsente aanvaarbaar nie. Ofskoon ons die departement van landbou se streng maatreëls teen swartvleksiekte heelhartig ondersteun, moet gewaak word teen besluite wat in kantore en nie op voetsoolvlak geneem word nie.

“In Suid-Afrika word ’n hele plaas van die Europese program onttrek as swartvlek net in ’n enkele boord gevind word. Dit bring mee dat vrugte in ander boorde op dieselfde plaas wat perfek is, teen laer pryse na alternatiewe markte gestuur moet word.

“In Suid-Amerika word elke boord en variëteit op eie meriete beoordeel omdat dit daar fisiologies as verskillende produksie-eenhede beskou word. Hoe meer redelik die maatreëls is, hoe minder sal die handel wat oor meer as 100 jaar kom, versteur word en hoe beter sal die risiko bestuur word.”

Nortjé sê hy bly optimisties dat voortgebou sal word op die erkenning deur die EU se owerheid vir voedselveiligheid (EFSA) dat swartvlek geen bedreiging inhou vir Europese lande waar daar nié sitrus geproduseer word nie.

“In my gesprek in Desember verlede jaar met Eric Poudelet, ’n direkteur-generaal van Sanco in Brussel, was dit duidelik dat die reaksie in Europa jeens die siekte heftiger was as wat ek gemeen het.

“Hoewel Suid-Afrika alles binne sy vermoë gedoen het om met spesiale maatreëls te verseker dat sulke vrugte nié die EU-markte bereik nie, was hulle onder die indruk dat ons arrogant is en ons aan hulle vereistes afgevee het. En dit bloot weens gebrekkige skakeling omdat daar nie regstreeks met die SGA gepraat is nie. Sedert Joubert in sy pos aangestel is, is daar reeds ’n groot verbetering in kommunikasie en gesindhede.”

Nortjé sê op kort termyn is hul strategie om te onderhandel dat die mark vir plaaslike vrugte, soos verlede seisoen, oopgehou word.

Sou die EU egter onwrikbaar wees en Suid-Afrika die onderspit delf, sal dit oorweeg word om ’n dispuut deur die Wêreldhandelsorganisasie te verklaar. Hy hoop egter dat ’n kompromie bereik kan word voordat daardie roete gevolg hoef te word.

“Met Suid-Amerika wat 50% van sy oes weens erge koue verloor het, en ’n rekordoes van uitstekende gehalte wat die seisoen verwag word, is Suid-Afrika vanjaar in die ideale posisie om sy markaandeel in die EU te vergroot.

“Tydens Fruit Logistica se byeenkoms in Berlyn in Februarie het die Europese handelaars by herhaling vir my gesê hoe goed ons vrugte is, en as hulle kon kies, hulle álles van Suid-Afrika af sou invoer.

Hy sê die skielike toename in die onderskepping van swartvlek op vrugte in Europa het aan die einde van die seisoen voorgekom toe groot volumes valencias in ’n baie kort tyd verskeep is en die besendings nie almal met ’n fyn kam geïnspekteer is nie.

“Dit is betekenisvol dat van die 35 onderskeppings verlede seisoen, 33 op valencias en net twee op pomelo’s was.”

Theuns Botha is verbonde aan Landbouweekblad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.