Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Satansbos: Aussie kom leer hier
Kry by SA kenners raad oor bestryding van dié indringerplant
Iggy Honan (links) van die Suid-Australiese regering en Jan Richter van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling op die plaas Wilhelmshöhe buite Bloemfontein. Hier sit hulle by ’n satansbos. Foto: Conrad Bornman
Hier is landbou in Suid-Afrika se held. Die kewertjie wat Jan Richter van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling op die plaas Wilhelmshöhe buite Bloemfontein wys, word gebruik om satansbos te bestry. Foto: Conrad Born

’n Amptenaar van Australië met  sy  gevorderde landbounavorsing  het  by  kenners   en boere in die Vrystaat kom kers opsteek oor hoe kewers in die bestryding van satansbos gebruik kan word.

Iggy Honan, ’n streeksbestuurder in bio-sekuriteit van die Suid-Australiese regering, was eers skepties oor die kewers (Leptinotarsa texana) totdat hy Philip Viljoen van die plaas Margaretsdale in die Tierpoort-omgewing naby Bloemfontein besoek het.

Viljoen, wat ’n gemengde boerdery  bedryf,  het gewys hoe die kewers die satansbos, wat  ’n groot bedreiging vir landbou inhou, op een van sy lande kaal gevreet het.

Honan  is Dinsdag deur verteenwoordigers van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling na plase vergesel waar dié kewers gebruik word.

Net soos in Suid-Afrika, is satansbos (Solanum elaeagnifolium) in Australië ’n verklaarde onkruid en volgens Honan is dit daar ook ’n groot probleem.

Doeronder word dit hoofsaaklik met chemiese plaagdoder bestry.

Honan is gevra om in Suid-Afrika te kom kyk wat die impak van die kewers in die bestryding van satansbos is nadat sy kollega dr. John Heap geld van die Suid-Australiese Graanbedryftrust ontvang het.

Hy moet ’n verslag daaroor doen en vasstel of dit vir hulle ook die moeite werd gaan wees.

“Totdat ek dit gesien het, was ek skepties,” het Honan op Margaretsdale gesê en na die land waar die kewers die satansbos hel gegee het, verwys.

“Ek is beïndruk met wat ek hier sien.”

Volgens Viljoen werk die kewers “uitstekend” in lande waar die grond sag is, maar in die veld moet ’n mens eerder gif spuit.

“ ’n Mens het nie altyd die geld of mannekrag om alles te doen (orals gif te spuit) nie. Dan help die kewer.”

Die kewers is oorspronklik van Noord-Amerika en word ingevoer.

Jan Richter, betrokke by gewasproduksie en -beskerming in die navorsingsafdeling van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, het gesê om satansbos doeltreffend te bestry moet kewers én gif gebruik word.

Hy het gesê die kewers vreet nie ander gewasse nie, maar volgens die Landbounavorsingsraad (LNR) sal dit eiervrug pak as dit in die nabye omgewing is.

Volgens Richter, wat in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat (UV) navorsing oor die impak van kewers op satansbos doen, word dié insekte sedert 1992  in Suid-Afrika gebruik en die nasionale landboudepartement het  gehelp  om  dit  hier los te laat.

Schalk van der Merwe, kollega van Richter, het gesê satansbos het eers ná die vloede in 1988 ’n probleem in Tierpoort geword.

Die saad is dalk deur die vloedwater versprei.

Helen-Joan Lombard, plaas- en buitelewebestuurder van die plaas Wilhelmshöhe (ook in die Tierpoort-omgewing), het gesê voor die vloede in die laat 1980’s was daar nie satansbos op die plaas nie.

Wilhelmshöhe is ook Dinsdag deur Honan besoek.

Satansbos is ’n indringerplant oorspronklik van Suidwes-Amerika en Noord-Mexiko.

Dit het ’n uitgebreide wortelstelsel en kan tot 3 m of dieper in die grond wees.

Satansbos verdring gewasse soos  mielies en  geen plantmateriaal en diere wat met satansbos besmet is, mag vervoer of verkoop word nie.

 Bykomende inligting is verkry uit inligtingstukke voorsien deur die Vrystaatse landboudepartement.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.