Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Investering in Swartland nie die eerste
Só help Chinese wyn uit Suid-Afrika vloei
Die herehuis by Swartland Kelder buite Malmesbury. Die transaksie waarin ’n Chinese belegger ’n meerderheidsbelang in die kelder gekoop het, gaan na verwagting nuwe markte vir lede van die kelder open.Foto: swartland kelder
​Britte koop steeds die meeste

Suid-Afrika het van Desember 2013 tot November vanjaar 7,52 miljoen liter wyn na China uitgevoer. Dit is 16,7% meer as die vorige jaar.

Hiervan was 5,858 miljoen liter of 77,9% rooiwyn.

Brittanje is steeds die grootste invoerder van Suid-Afrikaanse wyn en het in dieself- ­de tyd 109 miljoen liter gekoop.

Chinese beleggings in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is baie belangrik, want dit stimuleer sake en bring nuwe kapitaal en idees, wat werkgeleenthede skep.

So sê Hein Koegelenberg, uitvoerende hoof van die wynlandgoed La Motte, oor die meerderheidsbelang van 51% wat die Chinese sakeman William Wu in die Swartland Kelder buite Malmesbury gekoop het.

“Ons eie kapitaal is nie noodwendig genoeg om op dieselfde skaal werkgeleenthede te skep nie.”

Op die vraag wat die risiko sou wees dat al hoe meer Suid-Afrikaanse wynbates in Chinese hande beland, meen Koegelenberg die risiko is as die Chinese investeer om werk aan hul eie mense te verskaf.

Koegelenberg se Leopard’s Leap by Franschhoek het self ’n vennootskap met Chinese wynhandelaars deur Perfect Wines of South Africa.

“Met Perfect Wines of South Africa het die Chinese wel 51%-aandeelhouding, maar Leopard’s Leap verskaf alle dienste en stimuleer sodoende die plaaslike ekonomie en verskaf werk aan inwoners.”

Hoe is dit om in die wynbedryf met die Chinese sake te doen en is die magsbalans ewewigtig?

Koegelenberg sê in die drie jaar wat Leopard’s Leap met die Chinese sake doen, het die volumes van 1 miljoen bottels tot 2,7 miljoen bottels per jaar gegroei.

“Daar is ’n goeie vertrouensverhouding, ongeag die kultuurverskille. Die kultuurverskille en die verskillende maniere van sake doen verg egter goeie regsverteenwoordiging. Al het die Chinese die meerderheidsbelang, het hulle nog nooit hul magsposisie misbruik nie.”

Jean Engelbrecht, eienaar van die Rust en Vrede-wynlandgoed buite Stellenbosch, sê enige belegging in die wynbedryf is ’n positiewe stap, maar dan moet dit gaan oor die produksie van goeiegehalte-wyne en nie substandaard-

wyne wat Suid-Afrika se naam en beeld benadeel nie.

“Ek bly egter daarvan oortuig dat Suid-Afrika se grootste langtermynmark die VSA is.”

Wu het in ’n verklaring

gesê Swartland Kelder se infrastruktuur, wat bottelering, pakhuisgeriewe en verspreiding insluit, bied ’n alles-in-een-oplossing vir uitvoer na die Verre Ooste.

“Die bemarkingsgeleenthede vir die kelder in die ontwikkelende Asiatiese markte is eindeloos en ons sal beslis die streek, wat sommige internasionale wynkritici as die opwindendste wynstreek ter wêreld bestempel, ontgin.”

As voorsitter sal Wu regstreeks by bedryfsake betrokke wees.

Frans Maritz, uittredende voorsitter, sê die ooreenkoms lui ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van Swartland Kelder in.

“Die belegging deur Wu sal Swartland in staat stel om waarde vir ons lidprodusente te skep met nuwe markte in China. Die ooreenkoms kom op ’n tyd dat die Swartland-handelsnaam groot vordering plaaslik en in Afrika maak. Die energie en insig van ons Chinese vennoot en sy vennote in China sal nuwe energie in die Swartland-handelsnaam blaas en ook waarde vir ons aandeelhouer-produsente en die wyer streek se wynbedryf ontsluit.”

Luidens berigte het Wu ook ’n belang in die Paarlse wynkelder Veenwouden.

Wu verteenwoordig die grootste private veiligheidsmaatskappy in China, volgens ’n berig op die Facebook-blad van Die Courant, die plaaslike koerant in Malmesbury.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.