Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Só val boere met hul boude in die botter (en Banting help)
Botter kan maar in jou mond smelt... Foto: iStock

Botter haal rekordpryse in die VSA en in Suid-Afrika styg pryse van vette ook.

Die prys van botter het Donderdag met 2,5% tot ’n rekordvlak van $3,10 per pond (’n pond is nagenoeg 0,45 kg) op die Chicago Mercantile Exchange gestyg. Vir die jaar tot dusver het dié suiwelproduk al 65% duurder geword in die land van melk en heuning.

Daar is drie dinge wat die prys van botter in Amerika so goudgeel laat skyn:

  1. Die vier jaar lange droogte in Kalifornië beteken dat melkproduksie daar aansienlik verminder het weens verhoogde koste vir produsente. Die streek is die grootste botterverskaffer in Amerika.
  2. Tweedens, met die Amerikaanse Dankseggingsdag, vakansie en Kersfees op pad, is die bakseisoen om die draai en die vraag na botter neem toe.
  3. En dan is daar nuwe sienings oor dieet. Ná jare wat Amerikaners die rug op botter gedraai het ten gunste van laevetsmere, besing selfs die mees gesondheidsbewuste verbruikers nou botter se lof as ’n natuurlike vet.

“Vet is nie meer die vark in die verhaal nie,” het Brendan Curran, ’n risikobestuurskonsultant by INTL FCStone in Chicago,  in ’n onderhoud met die nuusdiens Bloomberg gesê. 

Die wêreldwye vraag na vet per kop gaan met omtrent ’n kwart styg, wys ’n navorsingsverslag van Credit Suisse.

“Verlede jaar het (Amerikaanse) pryse tot ’n rekordvlak gespring. Dit was toe uitvoergedrewe, maar verbruikers doen nou bestekopname en gaan nie toelaat dat dit wat verlede jaar gebeur het weer met hulle gebeur nie.”

Luidens regeringsdata was Amerika se bottervoorraad in Augustus 18% laer as in Julie. Die totale produksie was 133 miljoen pond in Julie, wat weer 3,2% minder as in Julie die vorige jaar is.

Hoe lyk sake in Suid-Afrika?

Die prys van vette en olies in Suid-Afrika is ook skerp aan die styg. 

Volgens die jongste verbruikersprysindeks (inflasie) het die prys van olies en vette in Augustus met 5,5% gestyg vergeleke met dieselfde maand in 2014. Op ’n maand-op-maand-grondslag is dit 3% meer as in Julie.

In Suid-Afrika het die gewildheid van botter saam met die Banting-dieet toegeneem. 

Die hoër pryse van vette kan egter nie net aan die slaafse navolgers van Banting en ’n meer positiewe uitkyk oor die rol van vette in gesondheid toegeskryf word nie.

Volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad se Augstus-marknavorsingsverslag kan die styging in Suid-Afrikaanse voedselpryse in die algemeen weens inflasionêre oorsake wees wat grotendeels deur toenames in brandstof- en dienstepryse, soos elektrisiteit, gedryf word. 

Die verswakkende rand-wisselkoers sal na raming beteken dat voedselinflasie in die derde kwartaal redelik styg. Die uitwerking van die swak rand is die verhoging van alle kommoditeitspryse wat aan die einde van die derde kwartaal na pryse sal deurfilter.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.