Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Reën het steeds nie geval
Soja, sonneblomme verdor ook
Die son sak oor ’n landery sojaboonplante in Suid-Dakota in die VSA. Foto: Aaron Packard, Bloomberg

Nog hoër voedselpryse is dalk Suid-Afrikaners se voorland indien dit nie binne die volgende twee weke wydverspreid reën nie.

Dié waarskuwing kom van Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, en volg op ’n besonder droë midsomer wat vanjaar mielie-, sonneblom- en soja-oeste in die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga verdor het.

Intussen het die prys van wit- en geelmielies in Suid-Afrika reeds weens dié droogte begin styg. Gister het die prys van witmielies (waarvan Suid-Afrika se stapelvoedsel, mieliepap, gemaak word) vir die vyfde agtereenvolgende verhandelingsessie gestyg. 

Die Safex-kontrak vir witmielielewering in Julie het met 4,3% tot R2 890 per ton gestyg. Dit is die hoogste styging wat sedert 12 Maart verlede jaar aangeteken is, berig Bloomberg.

Die prys van witmielies het die afgelope twee weke met byna 50% gestyg weens droogtevrese. Die prys van geelmielies, ook vir lewering in Julie, het met 3,3% tot R2 484 per ton gestyg, die hoogste sedert 21 Januarie verlede jaar.

Volgens De Villiers het Graan SA in ’n lugopname aan die einde van verlede week oor die Noordwes-Vrystaat en Noordwes gesien dat die droogteskade oor groot gebiede reeds onomkeerbaar is, selfs al val goeie reën binne die volgende week of twee.

“Ons het selfs gesien dat besproeiingsmielies vir kuilvoer afgesny word, waarskynlik weens kragonderbrekings.”

Sonder wydverspreide goeie neerslae kan ’n ondergemiddelde oes met tragiese gevolge vir landelike gemeenskappe en hoë voedselpryse vir ten minste die volgende jaar verwag word, waarsku De Villiers.

Dit is ook nie net mielies wat swaarkry nie. Soja- en sonneblomoeste verdor ook op die lande. Dié twee produkte word in veevoer gebruik.

Dit is veral die eierbedryf wat nadelig getref sal word deur ’n styging in die prys van sonneblom, sê Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging.

“Hoewel plaaslike sojagewasse se droogteskade onomkeerbaar is, word ons in ’n mate beskerm deur die huidige lae internasionale sojapryse.”

Volgens Lovell beteken dit ook dat die braaihoenderbedryf nie so nadelig getref sal word deur hoër voerpryse as die eierbedryf nie.

Hy sê die voerbedryf het nog nie baie mielies vooruit gekoop nie, dus sal die huidige prysverhogings wél hoër voerpryse tot gevolg hê.

Indien dit binne twee weke reën, verwag Lovell ’n plaaslike mielie-oes van sowat 10,5 miljoen ton.

“Saam met die oordragvoorraad van 2 miljoen ton van verlede jaar behoort ons genoeg mielies vir plaaslike verbruik te hê – mits dit binnekort reën.”

Lovell stem ook saam met De Villiers dat die hoër insetkoste wat deur hoër mieliepryse veroorsaak word, onvermydelik voedselinflasie sal verhoog.

“Dis egter nog te vroeg om te sê hoe groot dié styging gaan wees.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.