Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
AGRI Oos-Kaap-jaarkongres
‘Suid-Afrika nie ’n tweede Zim’
Douglas Stern, wat tot nuwe voorsitter van Agri Oos-Kaap verkies is en sy vrou, Liz. Wayman Kritzinger (regs) is weer tot adjunkvoorsitter verkies. Foto: Theuns Botha

Diegene wat meen dat Suid-Afrika op pad na ’n tweede Zimbabwe is, moet besef dat daar grondliggende verskille tussen dié twee lande is wat dié scenario onwaarskynlik maak, meen die uittredende voorsitter van Agri Oos-Kaap, Ernest Pringle.

Pringle het vroeër die maand in sy voorsittersrede op die jaarkongres van die vereniging in Jeffreysbaai gesê waar 80% van die bevolking in Zimbabwe in landelike gebiede woon, geld die omgekeerde in Suid-Afrika. Net ’n derde van Suid-Afrikaners woon in landelike gebiede en bykans die helfte van die bevolking bevind hulle in die nege metropolitaanse gebiede.

“Baie van die mense is nou deel van die nuwe stedelike middelklas en sal beslis nie na ’n landelike bestaan wil terugkeer nie. Die regering verloor toenemend sy mag oor hulle. Anders as met Zimbabwiërs, het hulle nie ’n naburige land om heen te vlug nie.

“Hulle sal eerder die stelsel omverwerp as dit nie langer hul belange dien nie.”

Grondhervorming

Met verwysing na grondhervorming het Pringle gesê dat dit klaarblyklik regeringsbeleid is om kommersiële plase in kleiner eenhede te omskep.

“Met net 30% van die land se oppervlakte wat vir kleinskaalse boerderye geskik is (meer as die helfte hiervan word reeds op die wyse benut), is die vraag hoeveel bykomende boere op die oorblywende 15 miljoen hektaar gevestig kan word?

“Sou elke boer byvoorbeeld 100 ha kry, wat hom in staat stel om ’n bestaansboerdery te beoefen, kom dit daarop neer dat net 150 000 mense toegang tot grond kry.

“Indien hul families in berekening gebring word, sal dit ’n skrale 1,5% van die bevolking verteenwoordig.

“Die prys om die beleid uit te voer sal enorm wees en die vernietiging van die graan-, vrugte- suiwel-, wyn- en suikerbedrywe meebring. Met die res van die land waar ’n waterskaarste is, sal dit net nie moontlik wees om kleinskaalse of kommunale boerderye te beoefen nie.

“Ons versoek aan die ANC is om op te hou om die populistiese politieke spel met landbou te speel en met kosvoorsiening aan miljoene Suid-Afrikaners te dobbel.

“Julle kan nié beurtkrag instel om die probleme op te los nie. Die tekort aan kos is nié ’n kleiner ongerief wat bloot met die aansteek van kerse oorbrug kan word nie,” het hy gewaarsku.

Pringle het as voorsitter van Agri Oos-Kaap uitgetree sodat hy sy volle aandag aan Agri SA se beleidskomitee vir landbou-ontwikkeling kan gee waarvan hy vroeër die jaar tot voorsitter verkies is.

Douglas Stern is in sy plek as die nuwe voorsitter verkies.

Waymen Kritzinger is as ondervoorsitter herkies nadat hy hom nie vir die pos van voorsitter beskikbaar gestel het nie.

Baie van die mense is nou deel van die nuwe stedelike middelklas en sal beslis nie na ’n landelike bestaan wil terugkeer nie. Die regering verloor toenemend sy mag oor hulle.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.