Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Mielies het in 10 dae 17% duurder geword
Uitgedorde mielelande raak álmal se sak
’n Uitgedorde mielieland naby Bothaville in die Vrystaat is ’n aanduiding dat die droogte in die somersaaigebied nou ernstig raak. Foto: Vrystaat Landbou

Suid-Afrikaanse verbruikers sal moontlik meer vir kos moet betaal indien dit nie binne die volgende tien dae wydverspreid reën nie.

Groot kommer heers in landboukringe oor die huidige mielie-oes weens die hitte en uiters droë toestande van die afgelope maand.

Dit is net wat die mielies, wat nou in die belangrike bestuiwingsfase is, nie nodig het nie.

Graan SA het Vrydag ’n waarskuwing uitgereik dat die prys van mielies met tot 30% sal styg as die droogte in groot dele van die mieliestreek nie dadelik verlig word nie.

Mieliepryse het reeds die afgelope twee weke skerp gestyg. In die geval van witmielies, ’n stapelvoedsel vir die land, het die prys die afgelope tien dae met R357 per ton (sowat 17%) gestyg.

As dit binne die volgende tien dae reën, sal die oes “gemiddeld” wees, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, maar as dit glad nie reën nie, sal dit “tragiese” gevolge vir die landbou en plattelandse ekonomie hê. Dit kan ook oor die volgende jaar hoë kospryse meebring.

Die prys van alle voedselsoorte styg gewoonlik ’n paar maande nadat mieliepryse begin styg omdat mielies vir veevoer gebruik word, asook in verwerkte voedsel.

“Goeie reën oor die volgende tien dae kan die rigting verander waarin die oes op die oomblik gaan, maar dit lyk nie op die oomblik goed nie,” sê De Villiers in ’n verklaring.

Boere in die Vrystaat en Noordwes sê hulle gaan min of selfs niks van hul mielies kan oes nie. Groot dele van dié provinsies beleef ’n droogte.

Geen reën word oor die volgende vier dae vir mielieproduserende gebiede, soos Kroonstad in die Noordwes-Vrystaat, Bethlehem in die Oos-Vrystaat en Lichtenburg en Klerksdorp, albei in Noordwes, voorspel nie. Trouens, baie warm weer, van tot 37 °C, word plek-plek voorspel.

■ Intussen het die kleinhandelgroep Shoprite Sondag ’n uitdaging aan alle voedselmaatskappye in die land gerig om die besparings wat hulle danksy laer brandstofpryse verkry, na verbruikers oor te dra.

In volbladadvertensies in die Sondagkoerante wys Shoprite daarop dat die brandstofprys die laagste vlak sedert 2007 is en dat voedselverspreiders se koste dienooreenkomstig gedaal het.

Shoprite sê in ’n verklaring hy subsidieer reeds die prys van heelwat basiese voedselsoorte. Hy het byvoorbeeld in Januarie die besparings op sy brandstofrekening gebruik om die koste van brood te verlaag.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.