Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Groot treë vir drie gemeenskappe
Volla se kind help kleinboere hul vlerke sprei
Drie gemeenskappe in die omgewing van Peddie gee nou groot treë in die landbou danksy ’n grootvoëlbemagtigingsprojek. Tisha Steyn vertel.
Die boere ontvang dagoudkuikens wat hulle grootmaak totdat die voëls slaggereed is
Die volstruiseenheid by Pikoli.
Die volstruiseenheid by Nobumba.
Ndlambe se bestuurder, Mthobile Maselwa, bewonder mooi volstruisvere in KKI se verefabriek in Oudtshoorn, waar die boere kom kyk het hoe die verskillende volstruisaanlegte werk.

‘Ons maak ’n hengse impak in die Oos-Kaap,” sê Hannes Jacobs, bestuurder van Klein Karoo Internasionaal (KKI) se Klein Karoo Groep Transformasie Trust (KKGTT).

Oudtshoorn Ostrich and Game (OOG), wat swart boere oplei en bystaan om volstruiskuikens groot te maak, is een van KKGTT se bedryfsdele. Die ander deel is Klein Karoo Products (KKP), wat mense oplei om waarde toe te voeg tot volstruisprodukte.

58 boere slaan vlerke uit

Drie gemeenskappe in die omgewing van Peddie (Ngqushwa- munisipaliteit) in die Oos-Kaap trek groot voordeel uit KKI se betrokkenheid by die bemagtigingsprojek. Die gemeenskappe is Pikoli, Ndlambe en Nobumba met altesaam 58 boere, van wie meer as die helfte vroue is.

Saam met elke boer se helpers en tydelike werkers word sowat 150 mense van ’n daaglikse inkomste verseker.

Volgens die Ngqushwa-munisipaliteit is slegs 8,6% van die bevolking formeel in diens; 91,4% is werkloos of ekonomies onaktief. Die amptelike werkloosheidsyfer in die munisipale gebied staan op 77%. Net 10% van die gemeenskapslede het ’n matrieksertifikaat.

Wat is gedoen?

’n Vindingryke biosekerheid-volstruiseenheid – wat voldoen aan die vereistes van die VPN-regulasies vir die registrasie van volstruis-eenhede en uitvoer van volstruisprodukte – is in samewerking met die Oos-Kaapse departement van landbou vir elkeen van dié drie gemeenskappe opgerig.

Die boere ontvang dagoudkuikens wat hulle grootmaak totdat die voëls slaggereed is. “Die eenhede voorsien die boere van ’n stabiele en veilige omgewing waarbinne hulle die volstruiskuikens kan grootmaak, en die geskikte omgewing dra by tot die boere se doeltreffendheid en die lewering van produkte van ’n hoë standaard,” sê Jacobs.

Lees nog:

■ ​Volstruise lê nog goue eiers

Opleiding en mentorskap bemagtig die boere omdat hulle noodsaaklike vaardighede aanleer en bygestaan word met administrasie en logistieke reëlings.

Die volstruise word na ’n abattoir by Graaff-Reinet geneem om geslag te word. Swart boere se volstruise maak in hierdie stadium reeds sowat 5% uit van KKI se totale slagtings. Elke boer word vergoed vir sy eie volstruise se vleis, leer en vere. Hoe beter die gehalte van die produk wat hy lewer, hoe groter is sy wins.

Kleinboere styg uit

“Die kleinboere doen beter op die totale opbrengs as die gemiddelde kommersiële boer vanweë die opleiding en mentorskap wat hulle ontvang en die individuele aandag wat hulle aan hul volstruise gee,” sê Jacobs.

Pikoli het in die twee seisoene meer as 4 000 volstruise gelewer. Hulle begin in Februarie met hul derde siklus.Ndlambe het hul eerste seisoen suksesvol afgehandel en meer as 2 200 volstruise gelewer; hulle is tans besig met hul tweede seisoen.

Die infrastruktuur by Nobumba is verlede Oktober voltooi, en die boere kon met hul eerste seisoen begin nadat hulle opleiding deurloop het.

Soveel moontlik plaaslike mense is betrek by die bou van die infrastruktuur, eerder as om meganiese metodes te gebruik. Sodoende is meer as 3 500 man-dae gewerk.

Nog wil inhaak

Ntloko, ’n vierde gemeenskap, stel baie daarin belang om deel te vorm van die projek. “Hulle wil graag deel wees van die projek, want hulle sien watter voordele die ander gemeenskappe geniet,” sê Jacobs.

Volgens hom verdien elkeen tussen R700 000 en R1 miljoen per jaar vir die gemeenskap. Die boere ontvang elke maand ’n voorskot en kry dan aan die einde van die 10 tot 11 maande lange grootmaakproses ’n groter bedrag, wat hulle gebruik om hul huise te verbeter en veral ook om vir hul kinders se onderrig te betaal.

Die drie projekte het reeds ’n reuse-bydrae gelewer tot die gemeenskap se ekonomiese en sosiale ontwikkeling. Tesame met die werksgeleenthede en ekonomiese inspuiting het die boere groente- en mieliesaad ontvang ten einde verder tot voedselsekerheid by te dra. “Die resultaat is duidelik sigbaar in die talle groentetuine en die verbeterings aan die huise.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.