Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Rekordjaar vir Klein Karoo-maatskappye
Volstruise lê nog goue eiers
Die volstruisbedryf word deur vele uitdagings in die gesig gestaar, maar ondanks moeilike handelstoestande lê die groot voëls steeds goue eiers.
​Volstruishandleiding vertaal, bygewerk

Die eerste volledige bedryfshandleiding vir volstruisproduksie in Suid-Afrika is in 2006 gepubliseer.

Dit was die handewerk van die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer, ander kenners, asook kundiges van die direktoraat veekundige wetenskappe, programnavorsing en tegnologie-ontwikkelingsdienste van die Wes-Kaapse departement van landbou. Dis ’n mondvol, maar dit verleen geloofwaardigheid.

Hierdie handleiding is gebore uit ’n bedryfsbehoefte en het hoofstukke ingesluit oor volstruisboerderystelsels, die bestuur en versorging van broeivoëls, die natuurlike en kunsmatige broei van volstruiseiers, die kunsmatige grootmaak van kuikens, volstruisvoedingsriglyne, die teling van volstruise, slagvoëlproduksie en produkgehalte, die behuising van volstruiskuikens, die reproduksie-bestuur van broei­voëls vir optimale reproduksie-doeltreffendheid, gesondheidsbestuur, die finansiële bestuur van volstruisboerdery, en sleuteldata oor volstruise.

Oor die gebruikersvriendelikheid en ook nuttige inligting wat op ’n kompakte, dog effektiewe manier oorgedra is, is die eerste handleiding in 2010 bygewerk. Dít sluit ook ’n hoofstuk oor biosekerheid in.

Met die behoefte aan ’n Engelse weergawe wat ook inligting aan nuwe toetreders in die bedryf kan verskaf, is die Ostrich Manual onlangs deur die Wes-Kaapse departement van landbou op ’n vergadering van die navorsingsadvieskomitee bekendgestel.

Alle hoofstukke van die volstruishandleiding is nie net vertaal nie, maar ook bygewerk met die jongste navorsingsinligting.

Die nuwe handleiding, Ostrich Manual, is gratis beskikbaar by die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer in Oudtshoorn (044 272 3336 of ​inf​o@saobc.co.za), by die direktoraat veekundige wetenskappe (Chantell Roman by 021 808  5220 of ​chantellr@els​enburg.com) of by die Oudtshoorn-navorsingsplaas (dr. Anel Engelbrecht by 044 272 6077).

Klein Karoo International en Klein Karoo Beperk het in die 2014-boekjaar een van die beste jare tot nog toe beleef en al die afdelings het baie goed presteer.

“Hierdie is ’n lekker algemene jaarvergadering, want dit was ’n rekordjaar vir almal,” het Johan Stumf, besturende direkteur van Klein Karoo International (KKI), onlangs op die algemene jaarvergadering gesê.

Die KKI-groep se netto wins ná belasting het met R33,7 miljoen tot R58,2 miljoen verbeter.

Die aangepaste wesensverdienste wat aan die maatskappy se aandeelhouers toegeskryf kan word, het R31,9 miljoen bedra, vergeleke 2013 se R25,8 miljoen.

Die getal volstruise wat geslag word, het sedert die uitbreek van voëlgriep (AI) in 2011 elke jaar met 142 000 per jaar afgeneem, maar die kontant per volstruis wat aan produsente betaal is, het van R3 016 in 2013 tot R4 103 in 2014 (34%) toegeneem.

Die groep se omset het met R129,2 miljoen tot R704.8 miljoen toegeneem.

Die omset van leer het met R115,2 miljoen toegeneem, vleis met R14,4 miljoen, en vere het dieselfde omset as in 2013 behaal.

Die verbod op die uitvoer van vars vleis weens AI geld steeds sedert 2011. Markontwikkeling van hittebehandelde (gebraaide) vleis vorder stadiger as wat verwag is, maar die wydte van die markpersentasie in Europa – waar dit reeds in vyf van die grootste kleinhandelaars beskikbaar is – het met 400% gegroei.

“Die uitdaging bly om dit ’n hoofstroomproduk te maak en nie net met spesiale geleenthede soos tydens Kersfees en Paasfees op winkelrakke beskikbaar te stel nie,” het Stumpf gesê.

Klein Karoo-saadproduksie

Klein Karoo-saadproduksie het die suksesvolste finansiële jaar nóg beleef. Die omset het met 30% verhoog, en die wins van die vorige jaar het meer as verdubbel. Uitbetalings aan produsente het met meer as 54% gestyg.

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB)

KKI se SEB-projekte in Peddie en De Aar het ’n uitstekende jaar gehad, en KKI slag ongeveer 3 500 volstruise – sowat 5% van die totale slagtings. Die projekte word deur die Klein Karoo Group Transformation Trust bestuur.

Klein Karoo Beperk

Klein Karoo Handel en Dienste (H&D) het ’n totale omset van R391,4 miljoen behaal, vergeleke met 2013 se R269,7 miljoen. Die afdeling bedryf vyf winkels en twee vulstasies wat ’n groei in omset van R107 miljoen (45%) getoon het. Die toevoeging van die Engen-vulstasie in die dorp het 19% hiervan bygedra.

Klein Karoo Meganisasie het ’n omset van R47,3 miljoen behaal, wat ’n groei van 45% toon.

“Die grondslag van die afdeling se sukses lê in die uitstekende kliëntediens en ons lede en kliënte se lojaliteit,” het Stumpf gesê.


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.