Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Geen ramphulp – impak kan erg wees
Waarom vanjaar se droogte anders is
’n Uitgedorde mielieland naby Bothaville in die Vrystaat. Foto: Vrystaat Landbou

Die omvang van die huidige droogte is dalk nie so groot soos die droogte­jare in die vroeë 1990’s nie, maar die impak op boere kan net so erg wees.

Dié waarskuwing van landbouorganisasies kom te midde van vrese dat die regering nie, soos in die verlede, geld vir droogteramphulp beskikbaar sal stel nie.

“Die impak van die droogte moet bereken word teen die agtergrond van ’n dalende ekonomie en ’n regering wat landbou nie wil verstaan nie en geen vangnet kan bied in droogtetye nie,” sê Henk Vermeulen, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou (VL).

Hy waarsku dat dié droogte in talle gevalle nie die eerste een is wat sommige landbouers tref nie, wat verdere kommer oor hul voortbestaan en gevolglik werkgeleenthede en koopkrag op die platteland laat ontstaan.

Die streke wat die swaarste getref is, is hoofsaaklik die Noordwes-Vrystaat (Bothaville, Viljoenskroon, Wesselsbron en Hoopstad) asook gedeeltes van Standerton en Balfour in Mpumalanga, gedeeltes van die Noordoos-Vrystaat soos Frankfort, Heilbron en Vrede asook gedeeltes van Noordwes soos Lichtenburg, Delareyville en Wolmaransstad.

Ramphulp vir die droogtegeteisterde gebiede

In die Vrystaat het die DA reeds die provinsiale regering gevra om ’n ondersoek na die impak van die droogte in die provinsie te begin en, waar nodig, ramphulp vir die droogtegeteisterde gebiede te vra, sê Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer.

Die groot krisis kom egter nog, waarsku Johan Willemse, landbouekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Indien saaiboere nie produksiekrediet vir die volgende seisoen kan kry nie, kan hulle nie uit die moeilikheid kom nie.”

Hy sê in die 1980’s het die regering saaiboere in die droogtetyd gehelp deur te reël dat produksiekrediet, wat destyds deur die koöperasies toegestaan is, oor vyf jaar terugbetaal kon word.

Boere moet vroegtydig met landbouondernemings en finansiers praat

“Die staat het dié oorlaatskuld gewaarborg en ek was lid van ’n paneel wat later ’n ondersoek oor die uitkoms hiervan gedoen het. Daar is bevind dat die staat baie min, indien enige verlies gely het, en die boere kon minstens aanhou produseer.”

Vermeulen het boere gevra om vroegtydig met landbouondernemings en finansiers te praat sodat oorbrugging in moeilike tye beplan kan word.


Hoe ernstig is die huidige droogte?

Die omvang van die droogte is moeilik om te vergelyk want daar moet gekyk word na waar die droogte se impak was en hoe droog dit in kritieke tye was, sê Johan van den Berg, bestuurder van gespesialiseerde oesversekering by Santam Landbou.

“Wat somergraan betref, is hierdie droogte se geografiese omvang groter as in 2012-’13 omdat daar oor bykans die hele somergraangebied droogtetoestande heers. Toe was dit hoofsaaklik die westelike produksiegebiede wat getref is.

“Hierdie droogte vergelyk meer met die droogte van 2006-’07,” sê Van den Berg.

“Aangesien daar kolle is wat wel waarskynlik meer reën in 2014-’15 as in 2006-’07 gehad het, lyk dit asof die omvang dalk minder kan wees as destyds.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.