Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Joe Biden bel SA eweknie persoonlik
Withuis en Cyril Ramaphosa gesels oor ‘hoenderoorlog’

Joe Biden, die VSA se visepresident, het Cyril Ramaphosa, sy Suid-Afrikaanse eweknie, persoonlik gebel oor wedersydse handel.

Dit lyk uit die amptelike verklaring van die Withuis of die voortslepende hoenderinvoer-debakel beslis deel was van die gesprek.

Die Amerikaanse verslaggewer Simon Marks van die nuusdiens Feature Story News het Dinsdagoggend vroeg getwiet dat Biden “kommer uitgespreek het oor versperrings tot marktoegang” vir “sekere Amerikaanse produkte” wat na Suid-Afrika ingevoer word.

Die VSA dreig Suid-Afrika nou al geruime tyd dat hy die invoertarief op hoenderstukke moet ophef, anders gaan Suid-Afrika uitgesluit word van die wet op groeigeleenthede in Afrika (Agoa) wanneer die VSA in September herbesin oor watter lande daarby ingesluit word. Agoa hef invoerperke na die VSA vanuit die aangewese lande gedeeltelik op.

Volgens die Withuis-verklaring het die twee leiers die “deurslaggewende rol wat Agoa in die uitbreiding van handel tussen die VSA en Afrika gespeel het”, bespreek.

Biden het gesê die VSA wil Agoa “so gou as moontlik en vir so lank as moontlik” hernieu “ten einde volhoubare investering en robuuste ekonomiese groei in Afrika suid van die Sahara aan te hou ondersteun”.

Suid-Afrika is versoek om “so gou as moontlik” die probleme te takel.

“Die twee leiers het ingestem om aan te hou saamwerk om die bekommernisse te beredder.”

Die VSA se departement van landbou (USDA) het verlede week gesê die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, Kevin Lovell, “demoniseer” die VSA se pluimveebedryf.

Die USDA beskuldig Lovell daarvan dat hy “proteksionistiese retoriek” gebruik en dat hy Suid-Afrikaners wil oortuig dat dit “goed vir die land is” om bestraffende teenstortingstariewe teen Amerikaanse pluimveeprodukte in te stel.

Die vorige week het 13 Amerikaanse senatore opnuut gewaarsku dat Suid-Afrika se insluiting by Agoa in die gedrang is weens die hoender-invoertariewe.

Lovell voer aan dat die enigste invoertarief teen hoender uit die VSA gehef word op hoenderstukke aan die been, en geen ander soort hoenderproduk nie omdat die VSA dié hoenderstukke teen laer as die produksieprys verkoop. Dit sou neerkom op “storting”, wat as ’n onbillike handelspraktyk beskou word.

“Jy moet ’n heel hoender hê voordat jy hoenderstukke het, maar die VSA sê dit kos minder per kilogram om hoenderboudjie-kwarte te produseer as ’n heel hoender, en dit maak nie sin nie,” sê Lovell.

Hierop sê die USDA egter die pluimveevereniging se somme klop nie en dat hulle reeds vir China suksesvol voor die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) gedaag het toe laasgenoemde probeer het om dieselfde soort metodologie teen hulle te gebruik.

Lovell, wat Sondagaand met sy Amerikaanse eweknie sou vergader, het aan Vida Booysen gesê die Amerikaanse kongres se mening oor hoe pryse bereken word, is net dít - ’n mening - totdat die vraagstuk in ’n Suid-Afrikaanse hof of deur die WHO self uitgeklaar word.

Verder sê hy teenstortingsheffings is nié proteksionisties nie, maar juis “korrektief”. “Dit mag nie bestrawwend wees nie en is daarop gemik om onbillikheid te herstel sodat die uitvoerder wat stort en die plaaslike produsent op gelyke voet kan meeding.”

Net sowat 21% van invoerprodukte kom die land danksy Agoa tariefvry in, nog 17% deur ander programme en die res – 62% - sonder enige vergunnings, sê Lovell. Die Agoa-“afslag” is volgens Lovell sowat $40 miljoen werd op die totale Agoa-uitvoer van $1,7 miljard.

“Vryhandel kan nie sonder billike handel bestaan nie,” sê Lovell.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.