Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Aartappelboere se vure brand hoog
Die vraag na aartappels styg noudat die gasvryheidsbedryf weer sake doen.

Suid-Afrikaners lê weer lekker weg aan slaptjips danksy die heropening van restaurante vanweë die verslapping van die Covid-19-inperkings, en dit laat die aartappelbedryf breed glimlag.

Die vraag na aartappels styg noudat die gasvryheidsbedryf weer sake doen, sê Absa AgriBusiness in sy weeklikse verslag oor vars produkte.

Volgens Abrie Rautenbach, dié onderneming se hoof, kan produsente aanvanklik laer pryse verwag weens die volume wat nou op die mark kom, maar op ’n jaargrondslag is markpryse nou sowat 55% hoër.

Tydens die streng inperking was kitskosplekke, restaurante en ander winkels wat slaptjips verkoop vir weke gesluit. Die produsentepryse het gedaal tot onder gelykbreekpunt en voorraadvlakke in die bedryf het opgebou, sê André Jooste, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika.

Volgens hom begin dit nou normaliseer, maar dit gaan lank neem om die vlakke van voor Covid-19 te bereik. Een kitskos-kettinggroep het onlangs aangedui tydens die vlak 2-inperking het hy maar 50% van sy normale sake gedoen.

aartappel

Jooste sê verbruikers is nog versigtig om in groot getalle restaurante te besoek en inkomste is onder druk, maar aartappels is steeds ’n gewilde groentesoort onder verbruikers.

Die nasionale landboubemarkingsraad haal syfers van Statistieke Suid-Afrika en die Buro vir Voedsel-en-landboubeleid (BFAP) aan dat vars aartappels verbruikers in Julie R14,47/kg gekos het. Dit is 17,9% meer as ’n jaar gelede. Volgens Jooste styg pryse normaalweg dié tyd van die jaar omdat minder voorraad gelewer word. Pryse is nou stewig op die varsproduktemark danksy vraag en aanbod.

Intussen het die Mededingingskommissie die afgelope week sy kommer uitgespreek oor die kleinhandelprys van produkte wat namate die inperkingsmaatreëls verslap, veel stadiger daal as die groothandelprys.

Die kommissie het sy tweede moniteringsverslag oor die pryse van noodsaaklike kossoorte tydens Covid-19 uitgereik. Daarvolgens het die kleinhandelprys van aartappels in April skerp gestyg. Jooste sê dit was aan die begin van die inperking en die aartappelvoorraad was laag.

Volgens die kommissie het kleinhandelaars dalk die paniek-aankope in die beginstadium van die inperking uitgebuit deur prysverhogings, al het hul eie koste nie noodwendig dienooreenkomstig gestyg nie. Selfs toe die groothandelpryse daarna gedaal het, het die verbruikersprys van aartappels veel stadiger gedaal.

aartappel

Die kommissie sê noodsaaklike kos­items maak meer as 30% van arm huishoudings se besteding uit. Dit is dus kommerwekkend dat die kleinhandelpryse van sekere produkte teen Junie steeds nie na normale vlakke teruggekeer het nie. Die gaping tussen groot- en kleinhandelpryse regverdig dalk verdere ondersoek.

Volgens data van die groep Pietermaritzburg Economic and Justice Dignity (PMBEJD), wat ongelykhede in die politieke ekonomie wil uitwis, het kospryse die laaste paar maande gestabiliseer, maar in Augustus begin styg. Van Julie tot Augustus het die pryse in ’n kosmandjie met 1,7% (of R57,85) tot R3 470,99 gestyg.

Die mandjie is nou 13,2% duurder as in Augustus verlede jaar en 7,8% duurder as begin Maart vanjaar.

In sy Augustus-verslag sê die PMBEJD daar is nie verwag dat pryse so gou sou begin styg te midde van die verslapping van die inperkingsmaatreëls of dat die styging so skerp sou wees nie.

Die groep is veral besorg oor die prysstygings in kernstapelkos. Dit sluit in mieliemeel, rys, koekmeel, stampmielies en aartappels, bestanddele om dié kossoorte te kook (soos kookolie, sout, uie, sop en kerriepoeier) en sleutelproteïene soos suikerbone en bevrore hoender, asook suiker en tee. Dit is die eerste items wat armer huishoudings koop.

Die Mededingingskommissie het ook vrae oor die groot verskil in die pryse van produkte by die onderskeie varsproduktemarkte en die feit dat die produkte nie noodwendig die goedkoopste is op die varsproduktemarkte wat die naaste aan die produksiegebiede is nie.

Een voorbeeld is piesangs, wat veral in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal verbou word. Die kommissie sê piesangs was goedkoper op markte soos Klerksdorp en Springs s’n.

aartappel

Meer oor:  Aartappels  |  Ekonomie  |  Kos  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Kosprysinflasie  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.