Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Aartappels: Dié moere nie meer eksklusief

’n Ooreenkoms tussen ’n Nederlandse aartappelmoerkweker, sy Suid-Afrikaanse verspreider en die Mededingingskommissie kan dalk help dat Suid-Afrikaners se geliefde slaptjips meer bekostigbaar word.

Die Mededingingstribunaal het vandeesweek ’n skikking tussen die kommissie en die verspreider goedgekeur.

Dit spruit uit klagtes dat Wesgrow Potatoes die afgelope meer as ses jaar geweier het om ander aartappelmoerboere in Suid-Afrika toe te laat om die Mondial-aartappelvariëteit aan te plant.

Mondial is een van die gewildste variëteite omdat dit in ton per hektaar beter produksie lewer as ander aartappelsoorte en meer siektebestand is. Foto: iStock

Mondial is een van die gewildste variëteite omdat dit in ton per hektaar beter produksie lewer as ander aartappelsoorte en meer siektebestand is. Dis veral gewild om aartappelslaai of slaptjips mee te maak.

Wesgrow het ’n ooreenkoms met die Nederlandse maatskappy HZPC gehad om die Mondial-variëteit eksklusief aan aartappelboere te versprei.

HZPC se eksklusiewe regte vir Mondial het egter in Oktober 2013 verstryk, maar Wesgrow het, volgens die klagtes wat die Mededingingskommissie in 2017 ontvang het, voortgegaan om ander Suid-Afrikaanse aartappelmoerkwekers, dus in effek sy mededingers, te verhoed om Mondial-plantjies te bekom om self ook die soort aartappelmoer te kweek vir verkoop aan aartappelboere.

Die Mededingingskommissie het Wesgrow gevolglik daarvan beskuldig dat hy sy oorheersing misbruik, en dat hy sy klante wat Mondial-aartappels wou aanplant, verhoed het om met potensiële mededingers sake te doen.

HZPC en Wesgrow het intussen ingestem tot ’n skikking waarvolgens hulle vir die volgende drie jaar Mondial-plantjies teen kosprys aan ander professionele aartappelmoerkwekers, saadbanke en laboratoriums beskikbaar sal stel.

Wesgrow sal ook nie aartappelboere keer om hul eie aartappelmoere vir ’n volgende plantseisoen oor te hou nadat hulle aanvanklik Mondial-moere van Wesgrow aangekoop het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.