Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Afgri se hoof oor grond-hervorming, onsekerheid
Chris VenterFoto: Verskaf

Beleidsonsekerheid is nie net ’n uitdaging vir boere nie, maar ook vir landboumaatskappye, sê Chris Venter, uitvoerende hoof van Afgri.

Dié gediversifiseerde landbougroep is een van die uitstallers op Graan SA se Nampo-oesdag by Bothaville, waar Netwerk24 met hom gesels het oor landbousake en die impak van grondhervorming op dié belangrike sektor

1. Dis nou al die tweede laaste dag van Nampo. Hoe beleef julle die Nampo-oesdag vanjaar?

Dis ’n goeie ene vanjaar. Ek verneem teen Woensdagmiddag was die aantal besoekers reeds meer as verlede jaar. Afgri het sy uitstalruimte uitgeskuif en vergroot en het ’n landbouprogram waar ons ook ons eie opnames doen. Dit was tot dusver ’n groot sukses.

2. Dit lyk of die gesprekke by Nampo vanjaar veral oor grondhervorming gaan, asook oor die beleidsraamwerk waarbinne dit geskied. Hoe raak dit ’n landboumaatskappy soos Afgri?

Beleidsverandering het ’n regstreekse impak op ’n landboumaatskappy en sy kliëntebasis. Ons moet maar aanpas by die beleidsomgewing. Die grootste negatiewe faktor is onsekerheid. As daar net ’n raamwerk is, al is dit nie noodwendig wat jy soek nie, kan jy ten minste poog om aan te pas.

3. Doen julle as maatskappy pro-aktief stappe om koersveranderings in landboubeleid te hanteer?

Ons vra onsself gedurig hoe bly ons relevant, vir die boer en vir ons kliëntebasis wat die verwerkte produkte koop.

Uit ’n boerdery-oogpunt het ons so drie jaar gelede al raakgesien daar moet meer finansiële dienste ontwikkel word vir boere en die boeregemeenskap. Daarom het ons deelgeneem aan die koop van die Bank of Athens. Dit is deel van ons posisionering om te bepaal hoe omstandighede vorentoe gaan verander en hoe ons daarby aanpas.

4. Waar lê die probleme by boerderyfinansiering?

Een van die grootste knelpunte is die gebrek aan oesversekering. Die regering sal strategies hierna moet kyk.

Veral as nuwe boere nie titelaktes vir hul grond kry nie, kan hulle geen sekuriteit vir die finansierder aanbied nie, tensy die oes ten minste verseker is.

5. Wat kan voedselverbruikers verwag van die heersende landboujaar? Gaan ons duurder betaal vir kos?

Die prys van graanprodukte is ’n bietjie hoër as wat dit laasjaar dieselfde tyd was. In dié stadium is die prys van witmielies vir lewering in Julie tussen R2 100 en R2 200 per ton. Laasjaar dié tyd was die prys omtrent R1 800 per ton vir Julie-pryse. As jy daarna kyk, behoort daar ’n bietjie voedselinflasie te wees, maar ons sal darem nie by dieselfde hoë vlakke van drie seisoene gelede kom toe die pryse in die droogte tot R5 000 per ton opgeskiet het nie.

’n Groot gedeelte van die huidige prysverhoging is egter klaar verskans deur die finale produkbedryf. So ek dink nie daar gaan massiewe prysverhogings wees in die prys van graanvoedselprodukte nie, afhangende natuurlik van die petrolprys en die impak daarvan op vervoerkoste.

Wat soja betref, kan Suid-Afrikaanse produsente die dreigende handelsoorlog tussen pres. Donald Trump van Amerika en China dophou. Hoewel ons nie ’n groot uitvoermark is nie, kan dit geleenthede vir ons produsente skep.

Meer oor:  Graan Sa  |  Afgri  |  Nampo 2018  |  Nampo  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Grondhervorming  |  Landboubedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.