Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Agri SA: Tabakwet sal boere knou

Agri SA het sy protes by ander stemme gevoeg oor nuwe voorgestelde wetgewing wat handelsnaamvrye sigaretpakkies afdwing.

Nuwe tabakwette kan sowat 8 000 landbouers se werk in die landelike gemeenskappe van Limpopo, Mpumalanga en Noordwes bedreig.

Die landbou-organisasie sê hy is “baie bekommerd” oor die voorgestelde wetgewing en sê indien dit bekragtig word, sal sowat 8 000 landbouers se werk in die landelike gemeenskappe van Limpopo, Mpumalanga en Noordwes bedreig word.

Pietman Roos, Agri SA se hoof van korporatiewe sake en kommunikasie, sê onafhanklike navorsing deur Ipsos het bevind dat meer as een miljoen pakkies sigarette daagliks in Suid-Afrika onwettig verkoop word – wat beteken dat aksynsbelasting op die produkte nie betaal word nie.

Dit lei in die huidige boekjaar tot ’n verlies van meer as R7 miljard in belastingsinkomste vir die regering.

“Die gebruik van handelsnaamvrye verpakking sal dié oortreders in hul kwaad stook, aangesien die vervalsing en belastingontduiking makliker sal wees,” sê Roos.

’n Verdere implikasie is dat kinders meer blootgestel word aan gewetenlose onwettige tabakhandelaars.

Agri SA het sy kommentaar oor die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Leweringstelsels ingedien. Die indieningstydperk vir kommentaar het Woensdag gesluit.

“Die Suid-Afrikaanse tabakbedryf word voldoende gereguleer en enige verdere ingryping sal teenproduktief wees wat openbare gesondheid en misdaadvoorkoming betref,” sê Roos.

“Die handelsnaamlose verpakkingsvoorwaardes sal ook ’n hele waardeketting afskaf, inbreuk maak op die grondwetlike regte van belastingbetalende maatskappye en lei tot ’n toename in onwettige handel.”

Agri SA voer aan dat dié bepalings op art. 16 (reg op vryheid van spraak) en art. 25 (eiendomsreg) van die Grondwet inbreuk sal maak.

Verder is die beperkinge volgens Agri SA “buite verhouding” met die beleidsdoelwitte omdat daar reeds ’n reeks gesondheidsregulasies bestaan.

“Die Suid-Afrikaanse tabakbedryf het reeds grootskaals belê in die ondersteuning van meer as 150 opkomende produsente aangesien dié gewas unieke geleenthede bied om landbouhervorming te versnel. Die beskerming van die vooruitgang wat reeds bewerkstellig is, moet voorrang geniet bo ongetoetste en ontwrigtende regulatoriese ingrypings.”

Agri SA sê hy ondersteun regeringsbeleid om openbare gesondheid te bevorder, deur onder meer opvoeding en bewusmaking van gesondheidskwessies, maar glo die voorgestelde wetgewing sal teenproduktief wees.

“Daar sal meer beleidsdoelwitte bereik word indien onwettige sigarethandel bekamp word,” sê Roos.

Agri SA gaan egter voort om in die belang van kommersiële en opkomende tabakboere met die regering saam te werk oor die voorgestelde wetgewing, sê Roos.

Vroeër het organisasies wat straatverkopers, asook spaza- en snoepwinkeleienaars verteenwoordig ook gekla die wetgewing gaan vernietigend wees vir kleinsake-eienaars in arm woonbuurte.

Meer oor:  Agri Sa  |  Pietman Roos  |  Landbou  |  Wetgewing  |  Tabakboere  |  Sigarette  |  Tabak  |  Tabakbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.