Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Al hoe meer jonges oorweeg loopbaan in landbou

Dit is ’n uitdaging om ’n balans te handhaaf tussen die doelwitte van werkskepping, die aangryp van ekonomiese geleenthede en die bevordering van innovering in landbou. Manoj Seonath, hoof van die landbou en agriverwerkingsafdeling, verduidelik die Industrial Development Corporation (IDC) se benadering.

   

Manoj Seonath, hoof van die Industrial Development Corporation se agriverwerkingsafdeling meen dié bedryf bied enorme moontlikhede vir Suid-Afrikaners en die ekonomie. Foto: Deon Raath

Of jy nou vanoggend ontbytpap, eiers, roosterbrood of jogurt met vrugte geëet het, daardie ontbyt is op jou eetkamertafel danksy die agriverwerkingsketting.

Die landbousektor help verseker dat daar ’n verskeidenheid kosse op die supermark se rakke is wanneer jy instap om inkopies te doen. Boonop help dié sektor om ons ekonomie te groei.

Die afgelope drie tot vier jaar het die Industrial Development Corporation (IDC) in die agriverwekingsektor minstens 7 500 direkte werkgeleenthede geskep en vanjaar sal daar nog 1 300 sulke werkgeleenthede bykom.

Manoj Seonath, hoof van die IDC se landbou- en agriverwerwerkingsafdeling, sê daar is enorme potensiaal in dié sektor. Dit kan ’n groot aantal werkgeleenthede skep, wat ’n positiewe invloed op die ekonomie sal hê.

“ ’n Mens kan sukses behaal in ’n landbouverwante onderneming as jy bereid is om hard te werk én as jy jou huiswerk oftewel navorsing deeglik gedoen het. Maar jy gaan nie maklik en vinnig ryk word nie,” sê Seonath.

“Ek sien al hoe meer jong mense mét naskoolse opleiding wat hulle weer na die landbousektor begin wend.”

Danksy die landbousektor se poten­siaal om transformasie en ’n meer inklusiewe ekonomie te help skep, ondersteun die IDC al hoe meer landbouverwante ondernemings.

’n Mens kan sukses behaal in ’n landbou-verwante onderneming... Maar jy gaan nie maklik en vinnig ryk word nie
Manoj Seonath van die IDC

Die IDC se betrokkenheid raak ook al hoe meer dinamies namate hy aanpas om geleenthede dwarsdeur die produksieketting te help ontwikkel.

Ruimte vir opkomende boere

Die IDC wil veral entrepreneurs en bestaande ondernemings ondersteun wat dit oorweeg om uit te brei na die groei van duur gewasse, die verbouing van koring en suiker, boerdery met beeste, varke en hoenders, visserye en die kweek van onder meer vrugte, neute, tee en koffie.

Hulle wil ook van entrepreneurs hoor wat hulle in die bosboubedryf en die produksie van drinkgoed wil begewe.

As ’n mens die suiwelbedryf as voorbeeld gebruik, kom die oorgrote hoeveelheid ruwe materiaal (melk) steeds van groot kommersiële boere, maar daar is geleenthede vir opkomende boere, verduidelik Seonath.

Sulke boere kan byvoorbeeld met die hulp van die IDC hul kragte saamsnoer om melk aan ’n suiwelverwerkingsaanleg te verskaf. So kan kleiner boere ook in die waardeketting opgeneem word en uiteindelik ontwikkel om ’n groter rol in die waardeketting te kan speel.

Die klem op insluiting en transformasie het meegebring dat die IDC ’n ander benadering volg tot die finansiering van werkerstrusts, of trusts waarby ’n breër gemeenskap baat vind.

Met die oorspronklike benadering sou ’n skenker kapitaal gee sodat werkers ’n wesenlike belang in die plaas waarop hul werk, kon koop.

Die IDC meen egter ’n meer sinvolle benadering is waar werkers dadelik die vrugte van eienaarskap pluk in die vorm van voordele of opbrengste van die eerste jaar af.

Sulke trusts begin dadelik planne beraam om die werkers se lewensgehalte te verbeter. Met die klassieke benadering kon jare verloop voordat die werkers sulke resultate sien omdat die skuld eers afbetaal moes word.

SA landbou in syfers
  • 4de: Suid-Afrika is die vierde grootste vervaardiger van sigoreiwortels ter wêreld.
  • 4 300: Die getal melkboere in die land.60 000: Mense wat in die plaaslike suiwelbedryf werk.
  • 10de: Suid-Afrika is die tiende grootste vervaardiger van suiker ter wêreld.
  • R78 miljard: Wat die hele landboubedryf tot die ekonomie bydra.
  • 362 000: Mense wat in die landboubedryf in Suid-Afrika werk.
  • R17 miljard: Waarde van sitrus wat in 2016 van Suid-Afrika uitgevoer is.
  • 55%: Van alle groot skaapboere is in die Oos- en Noord-Kaap.
  • 24%: Van alle groente wat in Suid-Afrika verbou word, is tamaties.
  • 60%: Van alle landbougrond in Suid-Afrika word gebruik om graan te verbou.

Skep aandeelhouers

Nog ’n benadering wat die IDC tans volg, is om ondernemings te koop van mense wat dit besit en bestuur, en wat hul vaardighede aan ’n opkomende entrepreneur wil oordra. So kan ’n nuwe entrepreneur gefinansier word om van hom of haar ’n aandeelhouer in ’n gevestigde onderneming te maak.

Die IDC maak dan seker dat die bestaande vaardighede vir drie tot vier jaar vir die onderneming behoue bly – of ten minste totdat die opkomende aandeelhouer gereed is om dit oor te neem. So word vaardighede en kennis in die agriverwerkingsketting oorgedra sodat dit nie met die oorspronklike eienaars se vertrek verlore gaan nie.

Natuur se uitdagings

Daar is enorme potensiaal in die landbousektor, maar die natuur bly ’n groot uitdaging. ’n Groot aantal boere in verskillende dele van die land is vasgevang in ’n droogte wat onvoorsiene uitdagings bring.

“Ons is almal bewus van die droogte in die Wes-Kaap en veral boere wat gewasse kweek, word erg geraak. Die boere is onder druk en dit raak plaaslike verbruik, maar die droogte het ook ’n baie groot invloed op uitvoer gehad,” sê Seonath.

“Die Landbank bestuur tans droogtehulp van die IDC.”

Volgens hom bring die droogte benewens die voor-die-hand-liggende ook talle onvoorsiene uitdagings.

“Die belangrikste windbrekers op plase is bome, maar wanneer die water min raak, kap die boere die bome af om te probeer water bespaar. Dit verhoog dan weer ander risiko’s op die plase.”

Die landbousektor is dinamies en verandering word verder aangespoor deur klimaatverandering – boere moet deurlopend nuwe geleenthede ondersoek en alternatiewe toekomsplanne beraam. ’n Oormaat mielies kan boere byvoorbeeld noop om sojabone te begin plant, of boere met die regte soort grond kan bloubessies en makadamianeute begin produseer. Laasgenoemde produkte is uitstekende uitvoerprodukte vir Suid-Afrika.

Die weer skep uitdagings vir boere, maar innovering en tegnologie bring weer nuwe geleenthede.

Volgens Seonath werk die IDC saam met verskeie landbouverwante instellings wat hulle toespits op navorsing oor klimaatverandering en die gebruik van nuwe tegnologie.

“Met die ontwikkeling van tegnologie kom daar dikwels minder werkgeleenthede.

“As ’n land wil Suid-Afrika nie agterweë bly met die ontwikkeling van tegnologie nie, maar werkskepping is noodsaaklik,” sê Seonath.

“Ons gebruik reeds baie nuwe tegnologie soos byvoorbeeld met besproeiingstoerusting wat al hoe doeltreffender aangewend word.”

Waar die pluk, sny en verpakking van groente in Suid-Afrika nog met die hand gedoen word, is dié take in die buiteland meestal masjiene beskore.

“Ons moet soveel moontlik werkgeleenthede skep én red, maar ons moet ook boere se winsgewendheid oorweeg,” sê Seonath.

“Werkskepping is allernoodsaaklik vir die IDC, maar ons kyk ook na belangrike ontwikkelings en tegnologie. Ons het ’n bepaalde nywerheidsvermoë en die vraag is hoe om daardie nywerheidsvermoë te ontwikkel om die vraag in die plaaslike en internasionale markte uit te brei.”

  • Bel die IDC by 0860 693 888, stuur ’n epos na callcentre@idc.co.za of besoek www.idc.co.za. Belangstellendes kan ook by die hoofkantoor by 19 Fredmanrylaan in Sandton aanklop.
Meer oor:  Idc  |  Entrepreneurs  |  Landbou  |  Vervaardiging  |  Kleinsake  |  Kos  |  Opkomende Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.