Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Al meer melk verkoop, maar boere kla oor pryse
Melkverkope het tydens die staat van inperking opgeskiet.

Melkboere het tydens die nasionale Covid-19-inperking geglimlag, want melkverkope het opgeskiet omdat meer mense tuis gebly en melkverbruik dienooreenkomstig toegeneem het.

Maar tog veg veral kleiner melkerye voortdurend om ’n billike prys vir hul produk te kry, sê Ian van Niekerk van Oakland Dairy in die Wes-Kaap.

Die nasionale gemiddelde prys wat melkboere vir hul melk kry, is tans R5,17 per liter, volgens dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusenteorganisasie. Boere behoort minstens R5,56 per liter vir hul melk te kry, meen Van Dijk. Van Niekerk glo op sy beurt ’n prys van R5,70 per liter sal vir melkboere in die Wes-Kaap billik wees.

Verbruikers betaal in winkels egter enigiets tussen R9,99 (Darling se sakkies melk) en R17,99 (Woolworths se Ayrshire- vars melk of Clover se langlewemelk) per liter vir melk, volgens die jongste pryse vir aanlyn inkopies by Pick n Pay, Checkers en Woolworths.

Die pryse wat boere kry, pas nie dadelik by die internasionale markte aan nie, terwyl voerpryse wel aanpas, verduidelik Van Niekerk. Voerpryse is internasionaal, terwyl melkpryse nasionaal bepaal word en daar ’n vertraging in prysaanpassing is omdat kleinhandelaars pryse maande vooruit vaspen.

Melkinvoer het ook ’n impak. Sodra dit lyk asof daar ’n plaaslike melktekort kan wees, voer die groot winkelgroepe melk van oorsee in, wat die natuurlike vraag-en-aanbodproses versteur, sê Van Niekerk.

Dit is al sedert die internasionale melktekort van 2007 en 2008 die geval, sê hy.

Daar is ’n al hoe groter gaping tussen wat die melkboer betaal word vir sy melk en waarteen die produk op winkelrakke verkoop word, sê Van Niekerk. Verskeie klein ekstra heffings is die afgelope jare op melk geplaas, soos Melk SA se 1,3c per liter en die groot kleinhandelaars se rabat, asook ekstra koste soos lystariewe.

Melkpryse verskil boonop van streek tot streek op grond van onder meer vervoer- en voerkoste.

Van Niekerk meen die Wes-Kaap word oorheers deur drie groot suiwelmaatskappye wat die prys kan bepaal wat boere kry. In Gauteng en ander binnelandse provinsies is die mark groter en kan kleiner melkerye makliker die mark betree.

Die embleem van die suiwelonderneming Oakland Dairy.

Volgens hom was daar in die verlede tot 15 private melkerye in die Kaap, maar daar is nou net ’n paar oor.

Oakland het altyd melk op die Kaapse Vlakte versprei en kon so groei dat hy van een van die groot melkerye melk kon aankoop. Maar dit het hulle volgens hom ’n mededinger vir die groot rolspelers gemaak.

Hy meen die groot suiwelgroepe het die informele mark teen veel laer pryse via sekondêre handelsname betree, terwyl hul hoofhandelsname gebruik word om melk teen goeie pryse in die bekende kettingwinkels te verkoop. Dit maak volgens hom dit moeilik vir kleiner melkerye om te groei.

“Dit maak dit vir ons moeilik om ons boere meer te betaal. Oakland het nou na jogurt gediversifiseer en wil die Gautengse mark betrek, waar daar groter groeigeleentheid is.”

Volgens Bertus van Heerden, hoofekonoom van die MPO, is die markkonsentrasie in die suiwelbedryf ’n probleem en trek die boere aan die kortste ent.

Die getal melkboere in Suid-Afrika het van 2 686 in Januarie 2011 tot 1 164 in Januarie vanjaar afgeneem, volgens syfers van die MPO.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Inflasie  |  Melkbedryf  |  Melkprys  |  Landbou  |  Melk  |  Melkboere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.